USAN-kongres 2014: 'n Betekenisvolle presedent

  • 0

Verlede week is ’n klein stukkie geskiedenis by die Universiteit Stellenbosch se Departement Afrikaans en Nederlands gemaak toe die USAN-kongres vir die eerste keer hier gehou is. Die naam USAN (van die eerste letters van Universiteit, Stellenbosch, Afrikaans en Nederlands) is ietwat misleidend, aangesien die uitgebreide studievelde van sowel letterkunde as taalkunde in Afrikaans en Engels betrek is. Navorsers van die US se Departement Engels en Departement Afrikatale het ook deelgeneem, en daar was selfs internasionale teenwoordigheid in die vorm van studente van Nieu-Seeland en België.

Die geskiedkundige aard van die kongres lê in die feit dat dit die eerste van sy soort in Suid-Afrika is – ’n kongres wat spesifiek op nuwe navorsers (honneurs-, MA- en PhD-studente) gefokus is. Vreemd dat daar nog nooit – en gereeld daarby – sulke samekomste gereël word waar ontluikende akademici hulle voete kan vind en binne die gemaklik(er) omgewing van min of meer ewe “groen” eweknieë ’n gevoel kry vir hoe sulke akademiese byeenkomste inmekaarsteek nie. Benewens die twee hoofreferate (onderskeidelik deur Joan Hambidge en Rufus Gouws1), was dit behalwe vir een of twee uitsonderings elke plaaslike USAN-spreker se eerste amptelike referaat wat by ’n akademiese kongres gelewer is.

In die reël is die referate baie verteerbaar aangebied en is daar nie in die bekende slaggat van langdradige en/of ondeursigtige akademiese “mooipratery” getrap nie. Die gemak van dié nooiensvaarders – ongeag hoe senuweeagtig hulle voor die tyd mag gewees het – was opvallend. Dit wil voorkom asof die Suid-Afrikaanse taal- en letterkundige akademie ’n gesonde groep opvolgers het wanneer die huidige hekwagters afgelos moet word.

Die sprekers se oënskynlike gemak op die podium dui mees waarskynlik ook op ’n opmerking rakende die beweegrede agter akademiese navorsing wat Joan Hambidge in haar openingsreferaat maak: “Jou navorsing, die navorsingsveld wat jy beheer, moet met integriteit, maar ook met ekstase, beheer word.” Haar klem het veral op die ekstase geval en mens sou waarskynlik die sprekers se gemak en geesdrif aan ’n gesonde liefde vir hulle studievelde kon toeskryf.

Johan Hattingh, dekaan: Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe, spreek in sy verwelkoming die hoop uit dat die kongres die bevordering van veeltaligheid, en daardeur inklusiwiteit, transformasie en dies meer, tot gevolg sal hê. En interessant genoeg merk mens in baie van die referate wel ’n neiging in hierdie rigting. Veral vertaling,2 migrasie van en in literatuur, die verandering van medium (roman na film/televisiereeks), herskrywing en aanpassing van bestaande werke is onder die loep geneem. Hierdie onderwerpe dui tog op ’n tipe samesmelting, ’n manier waarop menslike belewenis oor tale en mediums gekommunikeer word, die uitbreiding van die “tradisioneel” literêre, ’n tipe estetiese globalisering?

Die USAN-organiseerders kan met reg trots wees op ’n sinvolle en bitter goed georganiseerde kongres. Ander universiteite kan hierdie voorbeeld ook gerus navolg – en dit hoef natuurlik nie bloot tot die taal- en letterkunde beperk te wees nie. Suid-Afrikaanse wetenskappe kan net baat by sulke geleenthede waar nuwe navorsers as ’t ware in die groter akademiese gespreksruimte binne hulle studievelde ingelei word.


1 Nog nooit het ek iemand so vermaaklik en met soveel aansteeklike geesdrif oor taalkunde hoor praat nie.

2 Tien van die referate wat gelewer is, was bemoei met (een of ander aspek van) vertaling.



Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief
. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top