“Gaudeamus Igitur nog 'n dag is in sy moer.”
Alle Maties ken die twee Latynse woorde wat beteken: “Laat ons bly wees”. As dit in Stellenbosch gesing word is daar soms dronkverdriet by. Verdriet, middel 2016 het tans dikwels met Afrikaans te make. Afrikaners, verbonde aan die US het Afrikaans skynbaar finaal op 'n (korter of langer) pad van uitskakeling geplaas. Die Victoria College wat die eens trotse Universiteit Stellenbosch geword het, is bestem om slegs as Stellenbosch University bekend te staan.
Waar het alles begin? As 'ellendes' by 'begin' gevoeg word reken Jacob Zuma die jaar is 1652 en 'n mens behoort tog die land se president te eer en te erken! 1652 was 'n heuglike jaar in Afrika se lang en tragiese geskiedenis. Jan van Riebeeck en sy groepie van presies 100 mense (82 mans en 18 vroue) het onbenullig voorgekom. Nie die gevolge nie.
Drie klein skepies op die groot blou water, waar water aan boord of die gebrek daaraan in 'n groot nood kan ontwikkel en ontlasting (die ander nood), sonder watertoilette, altyd 'n lastige probleem was. Moet nogtans nie sommer 'primitief' as beskrywing gebruik nie. Die jongste toerusting en die Bybel was aan boord en Holland was die voorspoedige nasie wat sy goue eeu beleef het met skeepsboegbeelde, skilderkuns, boukuns en letterkunde wat vandag steeds bewonder word. Relatief primitief sou seker 'n korrekte beskrywing van Engeland gewees het, die buurman, oorkant die seestraat, wat nog gestruggle het om aan die gang te kom. 'n Belangrike deel van die geskiedenis is uiteindelik bepaal deur die feit dat daar meer Engelse as Hollanders was.
Die aankoms aan die Kaap was nie 'n rooftog nie, maar om te bou en die grond te bewerk. Saad en plante is saamgebring. Kontak met die Khoi was maklik maar die eintlike bevolking was heelwat verder noordoos en betekenisvolle aanraking met hulle sou eers meer as 'n honderd jaar later plaasvind. Die plaaslike mense was veeboere of jagters, en die inheemse bevolkings het nog geen kennis van die alfabet of tegnologie gehad nie. Iemand het blykbaar bereken dat die verskil in ontwikkelingsvlak tussen wit en swart in 1652 sowat 3 500 jaar was, maar hy het binnesmonds gepraat, want hy mag dit nie sê nie, gevolglik is daar 'n mate van onsekerheid oor die presiese syfer. Die feit dat plaaslike mense in 1994 'n moderne staat kon oorneem beteken dat in sowat 250 jaar 'n geweldige klomp kennis en kultuur na Afrika se mense oorgedra is, maar erkenning daarvan is nog uitstaande.
In elk geval het Van Riebeeck hom nie deur probleme (deesdae uitdagings genoem), soos die eerste of latere Kaapse winters laat onderkry nie en mettertyd het die Hollanders 'n stewige vastrapplek gehad en hulle invloedsfeer vergroot. Ongelukkig het die Kaap nie Hollands gebly nie en het Brittanje in 1795 by hulle oorgeneem. Buitensporige gulsigheid was kenmerkend van die Britte en soos die Boere van hulle probeer wegkom het, is die Engelse agterna om nog groter stukke van Afrika onder Britse beheer te kry.
Die Boere se trek die binneland in was met ossewaens. Weereens dink 'n mens dalk eerstens aan primitief, want hoeveel lelike dinge is nie juis deur Britte van die Boere gesê nie, maar dit was nie die geval nie. Die kakebeenwa met sy span osse, die boer met sy roer en Bybel in die wakis, was moderne en toepaslike tegnologie, vir daardie tyd. Soos die Amerikaners trots is op hulle 'pioneers' behoort ons ook trots te wees op ons eie pioniers wat suidelike Afrika mak gemaak het. Nog in die 20ste eeu het die Boer met sy wa en osse transport gery in Angola, totdat paaie en verbeterde vragmotors die nuttigheid van die ossewa agterhaal het.
Daar is begin met die US. Wat gaan nou gebeur? Dat die US mettertyd heeltemal as Afrikaanse instelling sal ondergaan, word algemeen aanvaar. Die ironie is dat Afrikaners grootliks vir die ontstaan en ondergang van die US verantwoordelik is. Ons is naby die punt waar daar geen plek meer sal wees vir Afrikaans aan enige universiteit wat deels deur die staat gefinansier word nie. Akademiese Afrikaans het 'n trotse geskiedenis met wêreldberoemde instellings soos Onderstepoort, en mediese fakulteite wie se kwalifikasies oral onvoorwaardelik aanvaar is.
Die Universiteit van Suid-Afrika verdien spesiale vermelding. Unisa het met sy hoë gehalte afstandonderrig nie alleen plaaslik gewys hoe dinge gedoen moet word nie, maar het as voorbeeld vir afstandonderrig by ander Eerstewêreld-instellings gedien. Het verlede week van 'n Unisa-student verneem wat die afgelope ses jaar se vraestelle van 'n hoofvak deurgewerk het. Die standaard vir hierdie vak het jaar vir jaar sigbaar verswak.
Gaan Afrikaans dan sneuwel, soos die Boer deur die Brit? Nie as dit van Afrikaners se geskiedenis en eie inisiatiewe afhang nie. 'n Private Afrikaanse universiteit, Akademia, is reeds tot stand gebring. Hulle is bewus van die feit dat buitelandse universiteite nou ernstig geknel word deur hoë koste en studiegelde. Gevolglik maak hulle ten volle gebruik van moderne tegnologie en versprei hulle fasiliteite oor die land. Met ondersteuning van die breë Afrikaanse publiek kan hulle die volgende akademiese suksesverhaal wees wat buite die versmorende staat funksioneer. Ons wens hulle alle sukses toe. Hulle moet ten volle ondersteun word.


Kommentaar
Afrikaans is dood. Lank lewe Afrikaans!
Afrikaans is nie dood nie - US is dood.