Uit die argief-onderhoud: Vrouespore deur my dorp, Winnie Rust

  • 2
Oorspronklik gepubliseer op 4 Maart 2015
 


Winnie Rust, een van haar kleindogters, Emma, en mev Lombard, Afrikaansonderwyser by Rhenish Hoërskool in Stellenbosch (foto voorsien)

Winnie Rust trap diep spore as skrywer, navorser en kundige van haar omgewing, en neem feesgangers van die US Woordfees 2015 vanjaar op "vrouespore deur haar dorp". Sy gesels met Naomi Meyer.

Hallo Winnie, jy praat van vrouespore deur jou dorp vanjaar by die US Woordfees. Hoekom vroue?

Ek is nie 'n feminis nie – ek hou van mans, en daar is ook baie mans waaroor ek sou kon skryf.

By Martha, ’n verhaal oor Martha Solomons, Countess of Stamford  was dit die onbekendheid van ’n merkwaardige vrou van wie min mense kennis dra wat tot die roman gelei het. Martha - gebore Solomons - was/is die eerste bruin vrou met ’n titel. Sy was later jare bekend as The Black Countess. Ek wag nog vir ’n filmmaker om dié merkwaardige verhaal op film vas te lê!

 Van my verhale het my destyds in ons bruin areas ingeneem, en ek het diep onder die indruk gekom van eenvoudige dapper vroue se bestaanstryd. Van hulle verhale het ek op band. (Sien byvoorbeeld Hanna in Trek.)

Al ses vroue in Margie van die Seminary  is laatneëntiende-eeuse vroue van my dorp Wellington. Een daarvan is my ma – ’n merkwaardige vrou in eie reg.

En waarom die dorp Wellington?

Ja, my voedingsbron is my dorp, my area. Ek onderstreep wat die skrywer Amos Oz sê: "The universe is where you are." En daarmee hoop jy as skrywer om die lokale in die universele te anker.

Ek haal ook graag vir Orhan Pamuk, 'n Turkse skrywer, oor sy Istanbul aan:

 “...mine, however, requires that I stay in the same city, on the same street, in the same house, gazing at the same view. Istanbul’s fate is my fate, I am attached to this city because it has made me what I am.”

Ek hoop dit sê genoeg.

Waarna sal mense kan kom kyk as hulle, ná jou gesprek by vanjaar se US Woordfees, saamkom na die JS Gericke-biblioteek?

Marina Brink van die Africana/Spesiale Versamelingsafdeling van die JS Gericke Biblioteek, het ’n pragtige uitstalling op die been gebring wat betrekking het op my werk en lewe. Dit is ná my gesprek met Suzette Kotzé-Myburgh oop vir besigtiging. Dis vir my ’n geweldige eer; dit stem my tot ootmoed en dankbaarheid dat sy dit waardig ag. 

Winnie Rust: Vrouespore deur my dorp
Aangebied deur die Dokumentesentrum, JS Gericke Biblioteek
Suzette Kotze-Myburgh gesels met Winnie oor haar lewe en werk. Daarna kan items uit die Winnie Rustdokumentversameling in die Dokumentesentrum besigtig word.
6 Maart 12:00 | JS Gericke Biblioteek: Ouditorium | 120min | R50

 

  • 2

Kommentaar

  • Avatar
    Herman Meulemans

    De foto van Martha Solomons, op het titelblad van Winnie Rusts gelijknamige debuutroman, trok mijn aandacht. In haar interview met Naomi Meyer verwijst Winnie Rust naar Amos Oz.
    De naam Martha doet mij denken aan Martha Nussbaum, die niet ophoudt met te verkondigen dat vermogens van mensen veel belangrijker zijn dan wat ze in feite doen.
    Ik kreeg een artikel in handen van Thaddeus Metz, befaamd filosofie-professor aan de University of Johannesburg. De 'capability approach' van Martha Nussbaum kan volgens hem nog heel wat leren van de Afrikaanse ethiek van Ubuntu.
    Zo stappen we over plaveistene, elke keer een stapje verder.

  • Avatar
    Maretha Maartens

    Ons verstaan nie waarom jy so gesterf het nie, Winnie. Maar ons weet (en verstaan 'n bietjie) waarom jy so geleef het. Jy was sout van die aarde, opheffingsmens, iemand vir wie alles wat jy kon gee, meer saak gemaak het as dit wat jy kon ontvang. Jy is weg, maar jou menswees bly vir altyd by ons. Ons diepste meegevoel aan jou kinders en kleinkinders.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top