Universitêre studiebeurse

  • 0

In 1994 het Unisa ’n nuwe era in die nuwe Suid-Afrika betree. Uitdrukking is aan die entoesiasme vir die nuwe politieke bedeling gegee deur bv ’n brosjure saam te stel met inligting oor die groot getal beurse wat vir universitêre studie beskikbaar is. Wat opgeval het, is hoe baie beurse daar was (en steeds is) wat wit applikante uitdruklik uitsluit.

Kader Asmal het hierna die minister van onderwys geword. Toe ’n studiebeurs onder sy aandag kom wat deur die skenker uitsluitlik vir wit studente bedoel is, het hy dit sy plig geag om ’n hofsaak daaroor te begin; nie op sy eie koste nie, maar op die koste van die belastingbetalers. Die hof het ingevolge die grondwet (wat diskriminasie teen nie-wittes verbied, maar diskriminasie teen wittes toelaat) in Asmal se guns beslis. Die Universiteit Stellenbosch was een van die inrigtings wat amptelik verklaar het dat hy niks met hierdie studiebeurs te make wil hê nie. Dit is egter voor die hand liggend dat daar Maties en voornemende Maties is wat baie by so ’n beurs kon baat. Politiek geniet egter voorkeur bo akademie.

Onlangs was daar ’n hofuitspraak oor studiebeurse onder die opskrif: "Beurse mag nie groepe uitsluit: 'Reservering vir wittes of seuns is ongrondwetlik'" (Rapport, 11.12.2011, p 04). Ek het ongelukkig nie toegang tot die uitspraak self nie; net tot hierdie berig oor die uitspraak van regter Patricia Goliath. "Studiebeurse wat byvoorbeeld net vir seuns of net vir wit studente bedoel is, is ongrondwetlik en dus onregmatig." Daardie woord "byvoorbeeld" hinder my, want blykbaar is dit net daardie twee groepe (wittes, mans) wat nie eksklusief bevoordeel mag word nie. Dus, nie-wittes en vroue mag nie uitgesluit word nie. Daar is blykbaar niks wat verhinder dat groepe soos nie-wittes en vroue vir bevoordeling uitgesonder word nie. Die hof het opdrag gegee dat die aktes van drie beurstrusts verander moet word sodat ook nie-wittes en vroue bevoordeel kan word.

Goliath het bevind daar bestaan "tans geen wit groep in Suid-Afrika nie" omdat die Bevolkingsregistrasiewet herroep is. ’n Mens vra jou af: Kan dit skadelik wees as die beurse steeds aan lede van hierdie nie-bestaande groep toegeken word? Ook: Hoe kry die Universiteit Stellenbosch dit reg om sy beleid toe te pas waarvolgens daar by aanstellings voorkeur aan kandidate uit die "aangewese groepe" (dus nie-wittes en vroue) gegee word?

’n Sogenaamde kenner van genetiese diversiteit, Colleen O'Ryan, het getuig dat ras nie ’n betekenisvolle konsep is om tussen indiwidue te onderskei nie. Daar bestaan glo geen wetenskaplike gronde om twee indiwidue in verskillende ras-subspesies te klassifiseer nie. Die Women's Legal Centre is as ’n (blykbaar baie lojale) vriend van die hof toegelaat en het daarop aangedring dat geslagsonderskeid by beurse ongrondwetlik is. Die ironie is dat dit ’n vrou is wat een van hierdie beurse spesifiek vir seuns geskep het.

Vir my is dit duidelik dat hier ’n byltjie teen wittes en mans geslyp is. Nêrens word beswaar geopper teen beurse wat uitsluitlik vir nie-wittes of uitsluitlik vir vroue bedoel is nie; natuurlik mits dit nie net om wit vroue gaan nie. In die geval van een beurstrust is bevind dat dit onduidelik is waarom die skenker mans wou bevoordeel, gevolglik sal vroue voortaan ook die beurs kan ontvang. Maar hierdie uitspraak maak dit meer waarskynlik dat die skenker se bedoeling met die beurs geminag word.

Daar word graag voorgegee dat ons met die koms van die nuwe Suid-Afrika ’n era van vryheid betree het. Maar indiwidue word nie meer die vryheid gegun om hulle geld na te laat aan wie hulle wil as die bevoordeeldes ingevolge hulle voorkeur wit en manlik is nie. Tas dit nie in hierdie opsig die so hoog geroemde demokratiese regte van indiwidue, hulle vryheid van keuse, aan nie?

Dit is nie net dooie skenkers se regte wat beperk word nie. Ek weet van ’n vermoënde, wit, oud-Suid-Afrikaanse man wat tans in die buiteland woon en ’n beurs vir Suid-Afrikaanse studente wil skep. Hy is by sy volle verstand en wil graag sy eie etniese groep (wat volgens die hofuitspraak nie bestaan nie) bevoordeel. Hy en ek is oortuig daarvan dat ons en die trustees van die voorgestelde beurs die mense sal kan identifiseer wat volgens sy wens bevoordeel moet word. Hy het die afgelope jare by verskeie geleenthede die nuwe Suid-Afrika besoek en regsadvies ingewin. Daar is blykbaar geen manier hoe hy kan verseker dat sy voorgestelde skenking net wit Suid-Afrikaners sal bevoordeel nie. Dit is maklik verstaanbaar waarom hy wittes vir sy liefdadigheid wil uitsonder. Hy weet immers hoe daar deesdae in talle opsigte teen hulle gediskrimineer word. Hy weet ook hoe baie beurse spesifiek vir nie-wittes beskikbaar gestel word of in die praktyk uitsluitlik of by voorkeur aan nie-wittes toegeken word. Tans is die aanduidings dat hy nie met hierdie welwillende skenking sal voortgaan nie. Is so ’n resultaat in die openbare belang? (Om nie te praat van die belang van die moontlike bevoordeeldes nie.)

’n Mens sou hofuitsprake soos die genoemdes makliker aanvaar as die ANC-regering by beurstoekennings ’n navolgenswaardige voorbeeld stel. Maar dit is bekend dat van owerheidsweë geen beurse aan studente toegeken word as hulle hul as Afrikaans-onderwysers wil bekwaam nie. Dan is daar ook die hemelskeiende geval toe die orkaan Katrina in 2005 die Amerikaanse stad New Orleans getref en groot skade aangerig het. As ’n blyk van die meegevoel van die Suid-Afrikaanse bevolking het die ANC-regering ’n groot bedrag geld aan Howard University in Washington DC (1500 kilometers van New Orleans) geskenk vir die befondsing van studiebeurse. Geen beswaar het in die parlement of elders opgeklink nie. Howard is ’n oorwegend swart universiteit wat ’n geskiedenis van onrus, hoë studieskuldvlakke by studente en lae gemiddelde toelatingspunte het. In ’n sin kan Howard die tuiste van swart mag, die burgerregtebeweging en regstellende aksie genoem word. Dit het aktiviste soos Andrew Young opgelewer. Die skenking was dus ’n uitdrukking van ANC-ideologie met orkaan Katrina as voorwendsel. Hierdie gemene skuif kan onmoontlik op die steun van die hele Suid-Afrikaanse bevolking aanspraak maak.

Johannes Comestor

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top