’n Joernalis van Associated Press, Jesse Washington, het onlangs interessante inligting oor universiteitstoelating in die VSA gepubliseer. Tydens hierdie proses probeer die universiteite op allerhande maniere vasstel wat die etnisiteit van die kandidate is omdat dit ’n deurslaggewende rol by toelating kan speel. Daar word in die aansoekvorm inligting hieroor gevra, maar kandidate kan nie verplig word om op hierdie manier hulle etnisiteit te openbaar nie. Kandidate het dus die opsie om hierdie vraag nie te beantwoord nie. ’n Foto van die kandidaat kan egter vereis word en sy etnisiteit kan moontlik ook van sy van of ander inligting oor sy ouers afgelei word.
In die praktyk is etnisiteit nie altyd maklik bepaalbaar nie. Die outeur noem ses werklike voorbeelde van studente met gemengde etnisiteit: Taiwanees/wit Amerikaner (twee gevalle), Sjinees/Grieks, Koreaan/wit Amerikaner (twee gevalle) en Sjinees/wit Amerikaner. As die vader wit en die moeder ’n Asiaat is, kan die etnisiteit van die applikant dikwels nie van sy van afgelei word nie. Sulke kandidate is dan geneig om hulle in die aansoekvorm as wit te identifiseer. Maar sommige meen dat dit verraad teenoor hulle moeder is omdat hulle ewe trots op hulle Asiatiese herkoms is. Die rede waarom hulle eerder noem dat hulle wit as Asiaties is, dui nie daarop dat hulle by voorkeur as wit beskou wil word nie. ’n Kandidaat het dit soos volg verwoord: "It would be like only half of me was accepted."
In Amerika is daar baie immigrante uit Asië. Baie van hulle is bereid om alles moontlik te doen om in die Amerikaanse samelewing suksesvol te wees. "Many Asian arrivals ... were determined to seize the American dream through effort and education." Sulke Asiatiese ouers is geneig om hoë akademiese eise aan hulle kinders te stel. "Chinese parents can order their kids to get straight As. Western parents can only ask their kids to try their best." ’n Waarnemer het opgemerk: "Children of American parents are generally spoiled and lazy by comparison." Die outeur het geskryf: "Compared with American society in general, Asian-Americans have developed a much stronger emphasis on intense academic preparation as a path to a handful of the very best schools" (bedoelende universiteite). Kandidate kan verplig word om gestandaardiseerde toetse (bekend as SAT) met die oog op universiteitstoelating af te lê, sodat hulle literêre en wiskundige vermoëns bepaal kan word. Hierdie toetse toon dat Asiate die etniese groep is wat akademies die beste presteer.
Rasioneel sou ’n mens verwag dat akademiese prestasie die deurslaggewende maatstaf vir toelating tot ’n akademiese inrigting soos ’n universiteit sou wees. Dit is immers onbillik om teen presteerders te diskrimineer. Dit is egter presies wat in die praktyk in Amerika gebeur. "Asians were held to a higher standard." Dit word as rassediskriminasie, selfs as rassisme, en as onreg ("injustice") ervaar. "If you know you're going to be discriminated against, it's absolutely justifiable to not check the Asian box." "Asian-Americans needed a 1550 SAT to have an equal chance of getting into an elite college (universiteit) as white students with a 1410 or black students with an 1100." "African-Americans (swartes), Latinos (veral Meksikane), Native Americans (Indiane), and Hawaiian/Pacific Islanders ... may get in despite lower scores than other applicants." Hier gaan dit om politieke oorwegings, soos etniese diversiteit op die kampus, en nie om akademiese gehalte nie. "A college like Yale “could fill their entire freshman class twice over with qualified Asian students or white students.”
"For years, many Asian-Americans have been convinced that it's harder for them to gain admission to the nation's top colleges [universiteite]. Studies show that Asian-Americans meet these colleges' admission standards far out of proportion to their 6 percent representation in the US population, and that they often need test scores hundreds of points higher than applications from other ethnic groups to have an equal chance of admission." Aan sommige van die Ivy League (of top-) universiteite wat nie etnisiteit by toelating in ag neem nie, kan Asiate 12% van die studentebevolking wees. Aan die University of California-Berkeley is 40% van die studente Asiate en ’n derde aan die California Institute of Technology, terwyl net 13% van hierdie staat se bevolking Asiate is. Dit is omdat etnisiteit nie meer ’n rol by universiteitstoelating in Kalifornië mag speel nie. Maar ’n "yellow horde" op die kampus kan fondsinsameling onder bv die alumni negatief beïnvloed.
Op grond van die voorafgaande kan beweer word: "Using race by itself is extremely dangerous." Dit kan op stereotipering neerkom. Toelating word dan op grond van groepverwantskap pleks van indiwiduele gehalte gedoen. Een van die probleme in die nuwe Suid-Afrika is dat politieke oorwegings ’n groter rol as akademiese meriete by universiteitstoelating speel. Dit is inherent deel van die sogenaamde transformasieproses. Russel Botman, die rektor van die Universiteit Stellenbosch (US), is bv ’n uitgesproke voorstander van diversiteit op die kampus; dermate dat daar gepraat word van die Diversiteit Stellenbosch. Dit is bekend dat Jonathan Jansen, die rektor van die Universiteit Vrystaat, by toelating tot mediese studie voorkeur aan ’n swart kandidaat met een matriekonderskeiding bo ’n wit kandidaat met sewe onderskeidings gee (SêNet, 17.05.2010). In die geval van studente en dosente word demografiese verteenwoordiging, dus die weerspieëling van die bevolkingsamestelling, amptelik as ideaal voorgehou al is dit heeltemal uit pas met die bewese akademiese gehalte van die verskillende etniese groepe.
Ooreenkomstig die Amerikaanse bevindings is my persepsie dat Asiate en wittes plaaslik akademies beter as bruines en swartes presteer. Ek was dus uiters geskok toe ek onlangs die volgende oor die US lees: "Die eerstejaarklas vir die MB ChB-program vir 2012 bestaan tans uit 41% bruin, 30% wit, 17% swart en 12% Asiatiese studente" (Die Burger, 28.11.2011, p 7). Dit dui myns insiens op massiewe rassediskriminasie teen akademies beter wit kandidate ten gunste van akademies swakker bruin kandidate. Dit is bevestig toe berig is dat ’n kandidaat toelating tot mediese studie sou gekry het as sy nie wit nie maar bruin was. Dit is wat gebeur in die sogenaamde nie-rassige nuwe Suid-Afrika. Die veel geprese grondwet laat rassediskriminasie teen wittes (en net wittes) toe en aktiviste skuil hieragter; ook op ons kampusse. Die vorige dekaan van die US se mediese fakulteit word verheerlik omdat 60% van die studente in die tydperk 2006 tot 2010 nie-wit was (SêNet, 24.01.2011). Suiwer akademies is dit nie iets om op te roem nie.
Ek het onlangs Allan Bloom soos volg aangehaal: "The fact is that the average black student's achievement do not equal those of the average white student in the good universities, and everybody knows it" (SêNet, 7.12.2011). In dieselfde boek het Bloom as ideaal gestel: "Better education for the best people" (p 49). Maar dan moet universiteitstoelating vanselfsprekend op akademiese gronde geskied. Die akademiese gehalte van ons universiteite het die afgelope twee dekades onrusbarend agteruitgegaan. Die voorkeur wat aan politieke oorwegings gegee word, moet die skuld hiervoor kry. Wanneer kom ons by die punt waar die plaaslike bruines en swartes (soos die Asiate in Amerika) akademies baie beter as hulle demografiese verteenwoordiging presteer? Is dit nie gewoon dwaas om op grond van groepverwantskap voorkeur aan bewese nie-presteerders te gee nie?
Teen die einde van die jare veertig het Joodse organisasies die oprigting van die voorgestelde Holocaust-gedenkteken in New York City geveto "on the grounds that such a monument would result in other Americans thinking of Jews as victims" (Peter Watson, The German genius, London: Simon & Schuster, 2011, p 8). Soos ons plaaslike bruines kla Amerikaanse swartes steeds steen en been oor slawerny. Plaaslike nie-wittes beskou hulleself steeds as ongerehabiliteerde slagoffers van apartheid en die een monument na die ander word ten koste van die belastingbetalers vir sogenaamde helde van die "bevrydingstryd" opgerig. Wanneer gaan hulle (soos die Jode) ophou om slagoffers te wees en eerder te presteer, ook akademies?
Johannes Comestor

