Universiteit Stellenbosch as akademiese onderneming

  • 2

Op LitNet is die debat oor die Universiteit Stellenbosch (US) tot dusver hoofsaaklik in Engels gevoer. Ek vind dit eienaardig, nie net omdat LitNet hoofsaaklik Afrikaanse teks publiseer nie, maar ook omdat gepoog word om die lot van 'n eens voortreflike Afrikaanse universiteit met propaganda in veral Engels te beïnvloed. Dié propaganda word by uitstek deur ANC-politiek gemotiveer en by name kommunistiese kenmerke, soos dat wat is, omvorm of verander moet word. Dít is per slot van sake die kernbetekenis van "transformasie", te wete verandering, wat nie noodwendig verbetering is nie.

Ek het geen begeerte om uitgaande van 'n dogmatiese standpunt, soos ANC-afrikanisering of kommunisme, aan 'n propaganda-oorlog deel te neem nie. Wat ek gaan doen, is om die akademiese wese van die universiteit as uitgangspunt te gebruik en op grond daarvan my standpunt eerder te stel as te propageer. 'n Universiteit is veronderstel om 'n plek te wees waar die vrye uitwisseling van idees nie net moontlik is nie, ook nie bloot toelaatbaar is nie, maar inderdaad aangemoedig en gekoester word. Dit word akademiese vryheid genoem. Die ideaal is dat ingeligte menings ewewigtig gestel word, wat veronderstel dat diegene wat aan debatte deelneem oor grondige kennis en insig beskik.

Dit impliseer op sy beurt dat dit onwaarskynlik is dat bv eerstejaarstudente groot waarhede in pag het; des te meer as sulke studente vanweë hulle agtergrond nie eens eerstehandse ondervinding van 'n behoorlik funksionerende skool het nie, wat nog te sê van 'n universiteit. Hoewel enige student toegelaat kan word om sy mening te lug, behoort geen verantwoordelike akademikus sonder meer aan eise uit hierdie oord toe te gee nie; om die eenvoudige rede dat sulke studente nie 'n benul het van wat 'n universiteit veronderstel is om te wees nie. 'n Student wat akademies ingestel is, gaan na 'n universiteit om te studeer, om inligting tot kennis te verwerk en insig te verwerf; nie om die inrigting in die ANC-/kommunistiese tradisie met slagspreuke, optogte, onrusstoking en eise te verander nie.

Vrye meningsvorming en -uiting as die grondslag van 'n universiteit noodsaak die grootste moontlike onafhanklikheid van die inrigting. Dit word universitêre outonomie genoem. 'n Universiteit kan nie na behore funksioneer as hy finansieel afhanklik van regeringsubsidiëring is én bv die betrokke minister hom aanmatig om voor te skryf hoedanig die universiteit ingevolge regeringspolitiek moet wees nie. Die universiteit moet vry wees om oor studentetoelating, maniere van onderrig, onderrigtaal, akademiese standaarde, kulturele oriëntasie, ens, te besluit. Wat kultuur betref, is daar talle verdienstelike universiteite wat 'n bepaalde land of groep se kultuur bevorder, of selfs 'n ideologie, bv religieuse oriëntasie. Dit is nie taboe nie, mits dit binne redelike perke geskied en rasionele, kritiese en wetenskaplike besinning nie weens dogmatisme aan bande gelê word nie. Ideologieë soos kommunisme en fundamentalistiese Islamitiese religie, wat fanaties op wêreldwye uitbreiding en die uitroeiing van (alle) ander menings ingestel is, is anti-akademiese verskynsels wat nie bevorderlik vir vrye akademiese bedrywighede is nie.

Die akademiese ideaal is dat die verskillende ideologiese (politieke en religieuse) standpunte wat vryelik op 'n kampus gestel word gesamentlik op die ideologiese neutraliteit van die universiteit dui. 'n Universiteit wat aan bv ANC-verslaafdheid ly, is net so onaanvaarbaar as een wat deur NP-gedienstigheid gekenmerk is. In die vorige eeu is die sogenaamde gewetensklosule aan die universiteite te Bloemfontein en Potchefstroom toegepas. Daarvolgens is vereis dat dosente belydende christene moet wees. Dit was 'n ideologiese korset wat indruis teen die akademiese wese van die universiteit. Daar is selfs verder gegaan deur 'n verpligte eerstejaarskursus in 'n christelik-nasionale lewens- en wêreldbeskouing vir alle studente in te stel. Op Potchefstroom is dit die "studium generale" genoem; 'n ernstig skeefgetrekte misbruik van 'n Middeleeuse frase. [LitNet kan dit gerus oorweeg om my skrywe, gepubliseer op 4 Februarie verlede jaar, te herpubliseer as deel van die huidige US-debat. Die teks is geskryf na aanleiding van Miriam Joseph se boek The Trivium (1937/2002), en werp lig op die oorsprong en wesenlike aard van die universiteitsverskynsel; iets waaroor daar groot onkunde bestaan, ongelukkig ook by baie van diegene wat leidende posisies in die hedendaagse plaaslike universiteitswese beklee.] As bv 'n rektor oor hierdie agtergrondkennis beskik en die nodige akademiese insig het, sal hy nie as deel van transformasie 'n verpligte, ideologie-gelaaide eerstejaarskursus vir alle studente instel nie. Dit kom immers neer op die gedwonge indoktrinasie van alle inkomende studente, wat indruis teen die universiteitsideaal van ideologiese neutraliteit. Maar so 'n kursus is sekerlik iets wat deur anti-akademiese kamerade in die ANC-alliansie verwelkom word. Die Universiteit Vrystaat het reeds so 'n verpligte indoktrinasiekursus ingestel en die Universiteit Stellenbosch het aangekondig dat hy hierdie akademies dwase voorbeeld gaan navolg.

'n Universiteit moet hom nie laat afgedreig met die terughouding van owerheidsubsidiëring deur bv 'n kommunistiese minister van hoër onderwys nie. 'n Universiteit is nie daar om 'n bepaalde ideologie dogmaties te bevorder of enige politieke party se beleid uit te voer nie. 'n Universiteit kan en behoort die reg op te eis om self oor bv sy onderrigtaal en kulturele oriëntasie te besluit. Voorbeelde van sulke universiteite word dwarsoor die wêreld aangetref. Sou 'n regering begeer dat 'n universiteit bv ook in 'n ander taal onderrig verskaf, is dit vir die universiteit om die meriete van die versoek te oorweeg en indien hy instem, kan en behoort voldoende addisionele subsidiëring, om die addisionele koste te bestry, as 'n ononderhandelbare voorwaarde gestel en vooraf beding te word.

Daar is niks inherent boos aan 'n nie-Engelse, bv Afrikaanse, universiteit nie. Die enigste akademiese vereiste vir 'n universitêre onderrigtaal is dat dit 'n vaktaal moet wees en Afrikaans beskik in uitnemende en bewese mate oor daardie hoër funksies. Enige onderrigtaal kan sekere studente uitsluit. Vir 'n student is die aangewese weg om 'n universiteit te soek wat onderrig verskaf in die taal wat hy verkies, met as alternatief om die betrokke taal aan te leer. Ek vind dit ironies dat van die (swart) studente, wat die ANC-regering na Kuba vir mediese onderrig stuur, verwag word om Spaans te leer voordat hulle onderrig kan ontvang. In Suid-Afrika verseg swart studente egter om Afrikaans, wat vir baie van hulle nie so 'n vreemde taal soos Spaans is nie, te leer. Die uitgangspunt is dat die plaaslike universiteite (en nie die studente nie) moet aanpas of verander. Die studente word in hulle onredelike houding deur die ANC-regering gesteun. Dit word om politieke redes gedoen. Die ANC gee voorkeur aan die koloniale taal Engels, onder meer onder die voorwendsel dat dit nasiebou en sy beleid van gelyk- en eendersmaking bevorder. Die hedendaagse mode is dat op ooreenkomste by mense gefokus en verskille geïgnoreer word. In werklikheid verskil mense individueel en groepsgewys; insluitende in akademiese vermoë. Byvoorbeeld, in die VSA word tans algemeen aanvaar dat Asiate (bv Indiërs, Japannese, Chinese) akademies beter as enige ander etniese groep presteer.

Voorgraadse studente is oorwegend jeugdiges. Op die universiteitskampus ervaar baie van hulle die eerste keer vryheid van ouerlike gesag en geen skooltoesig nie. As hierdie nuutgevonde vryheid nie doeltreffend met behulp van reëls en regulasies gekanaliseer word nie, kan dit lewenslange nadelige gevolge vir die studente en chaotiese implikasies vir die universiteit inhou. Daarom word daar bv verwag dat studente-organisasies om erkenning by die universiteitsowerheid aansoek doen en vooraf goedkeuring moet kry vir aksies wat op die kampus geloods word. Dit is gewoon dwaas as 'n universiteit sou toelaat dat 'n nie-geregistreerde organisasie sy gesag uitdaag en sonder vooraf goedkeuring maak soos hy wil; des te meer as dosente aan die opstoking meedoen. Dié situasie word vererger as die universiteit desnieteenstaande (glad te) geredelik toegee aan eise wat uit so 'n oord kom.

'n Universiteit in toegee-modus bevind hom in 'n gly-situasie. Iedere toegewing lei tot eise vir nog toegewings. Dié eise neig om eerder radikaler en onredeliker as redeliker te word. Die motief is om sake tot die punt te dryf waar die universiteit 'n streep in die sand trek. Dan word chaos en geweld as regverdigbare opsies beskou. Wat van meet af aan nodig was, was om te verseker dat al die studente die reëls en regulasie nakom; dus om rammetjie-uitnekneigings in die kiem te smoor. As dit nie slaag nie, moet tugstappe volg. Dit is bekend dat van die belhamels universiteitsbeurse ontvang. Omdat beurstoekennings, soos tewens ook universitêre studie, 'n voorreg is wat 'n minderheid mense beskore is, kan en behoort die finansiële ondersteuning van ontwrigtende elemente sonder gewetenswroeging onttrek te word en hertoelating kan, indien nodig, ook geweier word. Die universiteit moet nie toelaat dat die oorgrote meerderheid studente deur 'n klein groepie onrusstokers en oproermakers verontrief en die universiteitsowerheid weens ruggraatloosheid gyselaar gehou word nie.

Deel van universitêre outonomie is dat die universiteit self besluit hoeveel studente hy kan of wil akkommodeer. Dit sou dwaas wees as 'n universiteit in 'n plek soos Stellenbosch sou toegee aan 'n regeringsversoek dat hy onbepaald en daarby eksponensieel moet uitbrei. 'n Faktor wat 'n universiteit in sy outonomie sterk, is dat geen stemgeregtigde owerheidsverteenwoordiging in sy raad toegelaat word nie. Waarnemers sonder stemreg behoort in afdoende mate oor owerheidsbelange te kan waak. As daar reeds raadslede is wat deur die betrokke minister benoem is, is die akademiese ideaal dat hulle getal tot nul verminder word; sekerlik nie dat hulle meer word en politieke owerheidsbeheer oor die universiteit gevolglik toeneem nie. 'n Universiteit se besluite moet deur akademiese (nie politieke nie) oorwegings bepaal word.

'n Egte universiteit laat hom by studentetoelating deur die bewese akademiese prestasie van applikante lei; nie deur bv ras- of geslagsoorwegings nie. Ook nie deur die beweerde potensiaal van aansoekers nie, want potensiaal word dikwels nie verwerklik nie. By studiebeurstoekennings behoort naas bewese akademiese verdienste die finansiële situasie van applikante in ag neem te word. Die resultaat behoort 'n studentebevolking van hoë gehalte te wees wat nie die demografie ('n nie-akademiese, politieke norm) weerspieël nie, maar wat stukrag aan die stel van optimale akademiese standaarde gee. Remediërende onderrig sal dan oorbodig wees of tot die minimum beperk kan word. Van 'n universiteit kan daar nie met reg verwag word om op tersiêre vlak reg te stel wat die staat weens ondoeltreffendheid op skoolvlak verbrou nie.

Insgelyks is dit onbillik om aan universiteite, naas die tradisionele funksies van navorsing en onderrig, 'n derde funksie, naamlik gemeenskapsdiens, op te dring, waardeur van die universiteit verwag word om op daardie terrein te doen wat die staat weens onvermoë versuim om te doen. In die nuwe Suid-Afrika word, anders as voorheen, male sonder tal beweer dat die private sektor met dit of dat moet help, dat die staat dit nie alleen kan vermag nie. Dit kom neer op meer as 'n erkenning van ondoeltreffende regering. Onderliggend is die kommunistiese veronderstelling dat die inwoners eintlik aan die staat behoort. Daarom word bv al hoe meer 'n jaar of twee lank op graduandi beslag gelê om verpligte gemeenskapsdiens te doen.

Ter onderskraging van akademiese gehalte behoort die owerheidsubsidie nie beïnvloed te word deur die getal studente wat hulle leergange suksesvol voltooi nie omdat dit die deurlating van substandaardstudente bevorder. 'n Student wat studeer net om 'n formele kwalifikasie te verwerf en daarna 'n werk te kry, is 'n ongewenste element op die kampus. 'n Student moet studeer om kennis en insig vir sy eie geestelike vorming en verryking te verwerf. Hy hoef sy akademiese ervaring nie noodwendig ten bate van die samelewing aan te wend nie. 'n Mens, insluitende 'n student, mag 'n enkeling of individu wees. Hy hoef nie 'n sosiale wese of gemeenskapsmens te wees nie. 'n Student wat ter geestelike selfverryking studeer, het die reg op universitêre studie, hoewel hy nie noodwendig op 'n studiebeurs aanspraak kan maak nie. Die huidige oorbeklemtoning van diensbaarheid aan die gemeenskap het 'n kommunistiese geurtjie. In die meeste gevalle sal studente hulle akademiese arbeid egter gebruik om die nodige bekwaamheid vir werk te bekom en nie om reeds as student die universiteit of die land of die wêreld te verander nie. So 'n student sal 'n student wees, dus 'n studerende mens en nie 'n opneuker of kroegvlieg nie.

Uitnemende universitêre onderrig vereis dat die beste dosente en navorsers ingevolge suiwer akademiese vereistes aangestel en bevorder word. Daar kan en behoort uiteraard geen ruimte vir bv ras- en geslagskwotas te wees nie. Enige universiteit wat erns met suiwer akademiese oorwegings maak, word gekenmerk deur akademici wat glad nie die etniese of geslagsdemografie van die land weerspieël nie, om die eenvoudige rede dat akademiese oorwegings die deurslaggewende rol speel en nie bv die politieke mode van die oomblik nie.

Daar is nog 'n kenmerk van die huidige US wat my bekommer. Feitlik net Open Stellenbosch stel pro-aktief 'n standpunt. Daarna volg die US-bestuur se reaktiewe stelling-inname, wat grootliks sy seën oor daardie nie-akademies gefundeerde radikaliteit uitspreek, bv dat die US voortaan nie meer Afrikaans gaan beskerm nie. Daar is geen fundamentele openbare besinning oor wat 'n universiteit veronderstel is om te wees nie. Oor die potensieel gevaarlike aard van ideologie, bv kommunisme, word geswyg. Die geskiedenis van die universiteitswese word nie belig nie. Die ooreenkomste en verskille, die akademiese voor- en nadele, van die ou en die nuwe US word nie opgeweeg nie. Gesprekvoering oor die plek en toekoms van Afrikaners en Afrikaans word vermy. Die US-webwerf dra, met die seën van die US-bestuur, (feitlik) uitsluitlik linkse en grootliks pro-ANC-propaganda. Die Adam Tas-vereniging en Solidariteit maak soms sagte geluide, maar die strekking neig om te toegeeflik te wees, veral in vergelyking met die anti-akademiese boosheid wat die US tot in sy akademiese kern bedreig.

Johannes Comestor

  • 2

Kommentaar

  • So logies, so waar.
    Om Johannes se stuk op te som: Wat nou op Stellenbosch gebeur (en op die ander Afrikaanse universiteite, in die hele land om die waarheid te sê) is hoe die aangebode pinkie tot gevolg het dat die hand, arm, skouer, kop en uiteindelik hele lyf verswelg word.

    • Avatar
      Johannes Comestor

      Dankie, Jan. 'n Mens kan altyd vertroue in jou gesonde verstand stel. Let daarop dat my teks bloot as 'n brief getakseer word; nie as 'n bydrae tot die OS-seminaar nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top