Daar word dikwels geskryf oor die agteruitgang van Suid-Afrikaanse universiteite sedert 1994. In die geval van die Universiteit Stellenbosch word dit veral gekoppel aan die afskaling van Afrikaans as onderrigtaal. Maar dieselfde verskynsel doen hom voor aan die Universiteit Pretoria en die Universiteit Vrystaat, terwyl die trotse Afrikaanse tradisie aan die Randse Afrikaanse Universiteit feitlik heeltemal deur die Universiteit Johannesburg begrawe word. Hierdie inrigtings funksioneer almal in ’n bepaalde landstreek. Wanneer daar bewuswording van wanfunksionering is, klink daar protes uit die omgewing op. Maar dit is nie die geval by die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa) nie, moontlik omdat hierdie inrigting die land in sy geheel dien.
Unisa se geskiedenis het in 1873 begin, maar ek beperk die aandag hier tot sy geskiedenis sedert 1946, toe met sy afdeling Eksterne Studie in Pretoria begin is. Die idee was om bekostigbare afstandsonderrig aan alle Suid-Afrikaners te bied wat weens omstandighede (bv ’n gebrek aan geld of ’n voltydse werk) nie ’n residensiële universiteit kon bywoon nie. Onderrig het per korrespondensie geskied. Die dosente het hulle lesings op skrif gestel en Unisa het die studiemateriaal per pos aan die studente gestuur. Die studente kon Afrikaans of Engels as onderrigmedium kies en was verplig om ’n minimum getal werkopdragte van bevredigende gehalte gedurende die akademiese jaar in te lewer ten einde eksamentoelating te kry. Naas die studiegidse was daar vir iedere kursus voorgeskrewe boeke (dus verpligte leesstof) wat die studente moes bestudeer. Hierdie boeke was by boekwinkels te koop. Skriftelike eksamens is onder toesig in ’n toenemende getal sentrums dwarsoor die land en in die buiteland afgelê.
Anders as in die geval van voorgeskrewe boeke kon aanbevole boeke (dus aanvullende of opsionele leesstof) per pos van Unisa se biblioteek verkry word. Unisa het mettertyd die grootste universiteit in die land geword ingevolge sy getal studente en dosente. Sy biblioteek het insgelyks by verre die grootste plaaslike akademiese biblioteek geword. ’n Vakreferentstelsel is ingestel waarvolgens ’n professionele bibliotekaris in oorleg met die betrokke dosente verantwoordelikheid vir die uitbouing van iedere vak of vakgroep se boekversameling en tydskrifintekening aanvaar het. Nuwe aflewerings van vaktydskrifte is op ’n weeklikse grondslag aan die doseerdepartemente gesirkuleer.
Aanvanklik was daar min studente en min dosente, gevolglik was die vakkeuse beperk. Mettertyd was die vakkeuse in die humaniora en sosiale wetenskappe seker groter as aan enige ander universiteit. Fakulteite vir handel, opvoedkunde, regte en teologie is geskep. Die aanbieding van onderrig in die natuurwetenskappe is aan bande gelê weens die laboratoriumwerk wat vir baie van hierdie vakke vereis word. Maar daar is soms met vindingryke oplossings voor ’n dag gekom. Onderrig in bv medies, ingenieurswese en landbou kon egter om praktiese redes glad nie aangebied word nie.
Die vernaamste probleem waarmee Unisa aanvanklik te kampe gehad het, was die persepsie dat ’n graad wat deur afstandsonderrig verwerf is nie so goed soos dié van ’n residensiële universiteit kon wees nie. Tydens die ampstermyn van Samuel Pauw (die rektor van 1956 tot 1972) is hierdie probleem besweer deurdat aan Unisa eerder hoër as laer akademiese standaarde gestel is. Die groot getal studente het dit moontlik gemaak om al hoe meer dosente aan te stel. Anders as by die residensiële universiteite is daar bv meerdere professorate in baie van die onderrigdepartemente geskep. Die ander universiteite was verplig om dieselfde te doen of al hoe meer van hulle dosente aan Unisa af te staan. Pauw het aktief sulke dosente gewerf. Unisa het al hoe meer akademiese aansien geniet; plaaslik en in die buiteland.
In werklikheid het die unieke opset van Unisa sy akademiese sukses en gevolglike aansien verseker. Meer dosente per vak het beteken dat elke dosent kon spesialiseer deur in diepte navorsing te doen oor bv ’n enkele vraestel of selfs ’n deel van ’n vraestel. Die dosent se taak was drieledig: navorsing, die skepping van studiemateriaal en nasienwerk (werkopdragte en eksamenskrifte). Naas voorgraadse studente het al hoe meer nagraadse studente geregistreer. Naas plaaslike studente het al hoe meer buitelandse studente (veral uit Afrika, maar ook uit ander kontinente) hulle vir studie aangemeld. Die gehalte van onderrig is verseker deurdat dosente hulle onderrigmateriaal op skrif moes stel en die inhoud gereeld moes vernuwe. Studiegidse is aangevul met studiebriewe waarin algemene kommentaar op die studente se werkopdragte gelewer en die studiegidse aangevul is. Anders as by residensiële universiteite was al die onderrigmateriaal van elke dosent beskikbaar vir akademiese evaluering. In elke kursus kon die hele leerplan elke jaar gedek word. By lui en onbekwame dosente aan ander universiteite was Unisa se studiemateriaal baie gesog.
Unisa het van owerheidsweë ’n kwart of derde van die subsidie vir ’n residensiële student ontvang. Die uitsaksyfer by studente was hoog, sodat relatief min subsidie vir afgestudeerdes ontvang is. Dit was ’n bedekte seën, want daar was gevolglik nie druk vir die verlaging van akademiese standaarde nie. Studente wat akademies op standaard was, op hulle eie kon studeer, grootliks self hulle studieprobleme kon oplos en toewyding en deursettingsvermoë openbaar het, het sukses behaal. Afstandsonderrig was die rede waarom Unisa naas ander universiteite bestaansreg gehad het. Die hoogbloei van Unisa het saamgeval met die apartheidsera, maar daar is nie op grond van nie-akademiese oorgewings teen studente gediskrimineer nie. Tydens vakansieskole, die skryf van eksamens en gradeplegtighede is wit en nie-wit studente egter geskei.
Sedertdien het Unisa en die ander plaaslike universiteite verander. Die residensiële universiteite het hulle residensiële vereistes verslap en hulle al hoe meer op deeltydse en afstandsonderrig verlaat. Unisa het sy bestaansrede versaak deur toe te laat dat sy studente nie net afstandsonderrig ontvang nie, maar ook huisvesting in die sin van studielokale. Streekkantore met studieruimte is geskep en op allerhande koste-ondoeltreffende maniere is gepoog om die afstand tussen die universiteit en dosent aan die een kant en die student aan die ander kant te oorbrug. Die norm is nie meer die begaafde student wat op sy eie ’n sukses van sy studie kan maak nie, maar die "benadeelde" student wat nie universiteitsmateriaal is nie.
Studiemateriaal hoef nie meer so gereeld hersien te word nie. Die getal verpligte werkopdragte is teruggesnoei. ’n Magistergraad kan soos ’n honneursgraad met studie verwerf word; ’n verhandeling gebaseer op navorsing word in baie gevalle nie meer vereis nie. Soos aan residensiële universiteite is ’n semesterstelsel ingevoer wat koste-ondoeltreffend en heeltemal ongeskik vir Unisa is. Voorheen het universiteite grade en technikons diplomas toegeken. Kader Asmal het universiteite en technikons saamgevoeg asof hulle eenders is en toegelaat dat almal grade toeken; asof universiteite nie op opvoeding en technikons op afrigting ingestel is nie. In 2004 het Unisa, die Technikon Suidelike Afrika en Universiteit Vista se afdeling vir afstandsonderrig saamgesmelt. Talle sogenaamde kort kursusse, wat nóg diploma- nóg graadstandaard is, word aangebied.
Alle kursusse het duur geword, want daar is afgewyk van die vroeëre kostedoeltreffende onderrigmodel. Talle bekleërs van die hoogste poste ontvang astronomiese salarisse. Die getalsverhouding en koste van doserende en nie-doserende personeel word al hoe meer skeef getrek. Die universiteit word gedeakademiseer. Sedert 1994 word by aanstellings en bevorderings voorkeur aan nie-wit kandidate gegee. Talle kom uit Afrika. Anders as voorheen hoef die kandidate nie Afrikaans magtig te wees nie. Al hoe minder onderrigmateriaal word in Afrikaans aangebied. Unisa is getransformeer van ’n Suid-Afrikaanse na ’n Afrika-universiteit. Die ironie is dat Unisa voorheen Suid-Afrika en Afrika akademies baie beter gedien het.
Johannes Comestor

