na ’n gedig van Ted Hughes
Ons bymekaarkoms was ’n verskoning
om bier te drink en vir my om te sien
of my voorgevoel van vroeër daardie oggend
in die kol was – my voorspooksel
dat ek jou daar sou raakloop
soos ’n ou vriend. Ek en Shaun het binne gesit,
ek met ’n Blonde, hy met ’n Weiss,
hy nog altyd die verstandigste een.
Ons het gepraat oor politiek en reg
en verkeerd – intieme afstand, sy gekose forte.
Dit was ’n Dinsdagmiddag voor Menseregtedag,
die Kaap was sonnig, warm, en Erfenisplein
omgeef met die reuk van passie en chaos.
Ted Hughes sou aanvoer dat dit in die sterre was
dat my Uranus en jou Venus daardie middag
in jukstaposisie was. Opperman en Louw
sou op Bittergenot se stoep sit en kla, kla, kla.
NP sou na die sterre wys en sê dat my Son
en jou strydlustige Mars saamgesweer het
om ons daardie middag by enerse koördinate
te verwyder of saam te snoer – op die ou einde
is dit dieselfde. Ons Opperman, dink ek, sou sug,
hy sou my vir my histerie betig en ’n grappie maak
oor die Weduwee Viljee; daardie dag verteenwoordig
die skeiding tussen alles en niks. Shaun het gepraat,
oor allerhande goed, maar toe jy en jou vrou
inloop, in die ry gaan staan vir drankies,
het ek my kop verloor (dit het morsig op die kroegtoonbank
gerol). Die musiek onthou ek nie, maar daar was luidsprekers
buite – iemand sou optree teen die agtergrond van son –
maar ek en Shaun het binne gesit, hy het die bier omgeruil
en toe, jy: bebaard, langer en groter as wat ek jou ooit verbeel
het en jou gesig ’n ongeskende beeld van onwrikbaarheid.
Jy het gegroet en blad geskud, jou greep het alles verraai –
dink jy steeds dat ek niks daarvan weet nie?
Ek sien jou daar, “duideliker as al die jare
in die skaduwee daarvan, asof ek jou eenmaal
gesien het en toe, nooit weer nie”. Die strikte kam
van jou hare, daardie dissipline van jou gesig, jou littekens.
En tog was daar op daardie oomblik ’n sweem van trane,
die trane die rol oor jou, bokkie. Maar ek en Sylvia Plath weet
dat die trane diamante is, dat óns jóú uitgeklop het met ons
lewenslustigheid. Ek onthou minder en minder van daardie
laatmiddag. Ek het weggeglip, my vriend in agterhoede,
my hand teen my slaap, asof ek jou kon verban.
Maar hoe kon ek? Jy het reeds onder my vel geswel
soos ’n wrede bytmerk
waarvan ek nie ontslae kan wees nie.


Kommentaar
Jo^ ! Uitgeboul.
Antie Interteks is, van wat ek verneem, ook seergemaak oor hierdie "klakkelose" en "onverwerkte" uitbuiting van Saint Ted Hughes. Siestog, Tante, ek verstaan ons almal het ons post-feministiese heroes, maar, soos onse Steve Biko gesê het: "I write what I like". Op die ou einde is dit die bekwame redaktrise wat besluit of die teks staan of val - ongelukkig nie die selfaangestelde boetebessie van die Afrikaanse letterkunde nie. Jaco