Hier sit ek nou al ’n maand in ’n dorpie genaamd Vaison-la-Romaine en maak myself bankrot. Die Romeine het baie van hierdie omgewing gehou en ek ook. Maklik genoeg om by die groot stasies te kom sodat ons kan gaan rugby kyk. En dan kom ons terug om die senuwees te lawe.
Maar ek hou julle dop. Met, soos die bakker hier sê, “the internets”. Ek moet kontak hou met my wortels. Daarom ’n klompie kort oorpeinsings.
***
Geluk aan Kirby van der Merwe met sy double whammy. En Eunice Visser en Chris Karsten en Deborah Steinmair en Theodore Rossouw – die bekroondes by die jaarlikse kykNET-Rapport-prysaand.
Bien sûr was ek baie nuuskierig oor die resensentpryse. Ná my opmerkings van verlede jaar het ek gewonder hoe dinge sou uitdraai. Soos die noodlot dit wou hê was Jean Meiring skynbaar op sabbatsvakansie van die resensiewerk. Boeke24 se resensente het nie die kortlyste gehaal nie, en die uiteindelike verdeling was LitNet 2, Rapport 2 en Vrye Weekblad, Tydskrif vir Letterkunde elk met een.
Ek is veral bly oor Steinmair se prys – die nuwe Vrye Weekblad se boekedekking is die varsste en Steinmair se resensies is deurentyd op ’n besondere peil. Sy is duidelik besig om te ontwikkel in ’n soort boekepersoonlikheid – as Vrye Weekblad ooit daaraan sou dink om ’n soort videokanaal te ontwikkel, sal Steinmair die persoon wees met wie hulle moet begin naas Max du Preez en Piet Croucamp.
Hélas het ek die ander bekroonde, Theodore Rossouw, se resensie nie gelees gehad nie, maar sedert Sondag het ek dit verskeie kere vanuit die kuberbiblioteek van LitNet opgeroep om te lees en herlees. Wat ’n enorme rigtingswaai weg van die soort resensies waaraan ons gewoond geraak het!
Is dit té vroeg om te dink dat daar ’n swaartepunt-verskuiwing is?
***
Rudie van Rensburg is onstuitbaar. Sy speurder, Kassie Kasselman, is op pad silwerdoek toe wanneer Piranha ’n TV-reeks word. Ek wonder of Frank Opperman die gesogte rol gaan kry …
My vriende wat by die kykNET-Rapport-funksie was, vertel dat Beer Adriaanse by die aankondiging van die wenner van die mees verfilmbare teks-prys gesê het dat Chris Karsten se Op pad na Moormansgat verdien om ook ’n TV-reeks te word. Die roman is enkele dae vantevore met die ATKV-prys vir prosa bekroon.
Hopelik gaan Waldimar Pelser, hoof van kykNET, daardie wenk opvolg.
***
Ek moet seker oor resensies ook skryf. Die belangrikste een van die afgelope maand, vir my altans, was Willie Burger s’n oor Joan Hambidge se roman Stasies (Boeke24).
Dis in baie opsigte ’n merkwaardige resensie. Ek het al begin wonder of Burger gewoon net nie meer lus of tyd het vir die resenseer van boeke nie. My vermoedens was misplaas – hierdie resensie getuig van baie harde werk en diepe nabetragting. En hope waagmoed.
Burger analiseer die konstruksie wat Hambidge skep – die teoretiese agtergrond, haar procedé, die uiteindelike uitwerking daarvan op die leser. Hy wys op die effek wat ’n genre-pastiche het, laat dit deurskemer wat die irritasies is wat dit vir hom as leser meegebring het, konfronteer die kitsoplossings van die postmodernistiese roman, die strikke van literatuur-as-spel.
So met die lees, kom ’n mens agter dat Burger besig is om homself met groot waardigheid en sekerheid van stelling voor te berei vir ’n finale, treffende oordeel, en wanneer hy dit lewer in sy laaste paragraaf, kom dit so snel en seer soos dié van ’n bouncer wat ’n lastige klant by die kroeg uitklap.
Hy sê dat Hambidge se skepping die leser se belangstelling maklik sal verloor; sy kan maar die literêre kunswerk as spel benader, maar as dit patroonmatig word, voorspelbaar, gaan haar lesers ophou om om te gee. (Dit geld natuurlik in rugby ook, Rassie Erasmus!)
Hy kies sy woorde baie noukeurig, sodat dit nie kwetsend is nie. Sy slot het hierdie leser egter na die asem laat snak. Die implikasie daarvan is baie duidelik: Dis ’n vervelende roman.
Sekerlik is dit ’n reaksie op die postmodernistiese benadering. ’n Pleidooi vir die vertel van ’n pakkende verhaal, vir die estetiese fynheid van die woordkuns, vir die aanvaarding van prosa as ’n manier om mense in hul volle rondheid te beskryf en oortuigend op die blad te laat leef.
Ek het simpatie met Joan Hambidge wat só ’n verdoemende resensie moet verwerk. Miskien spoor dit haar aan om te bewys dat sy ’n verhaal kan vertel sodat ons aan elke woord sal hang.
Intussen is dit vir my duidelik dat Willie Burger ’n streep getrek het waarvan al die satiriste en colporteurs van pastiche sal moet kennis neem.
***
Die dood van Schalk Schoombie is ’n groot verlies. Sodra ek terug is by my boekrak gaan ek Rooi haring van die rak haal en herlees. Waar ek hierbo gepraat het van boeke wat verfilm word, sou min dinge my groter plesier gee as om Rooi haring verfilm te sien. Met ’n knap regisseur sal veral die tonele rondom die heropening van die restaurant Tydloos in daardie roman die mooiste manier wees om Schalk se lewe en strewes te gedenk.


Kommentaar
Ek meen hierdie anonieme resensent, Crito, slaan die bal mis met die laaste paragraaf van Willie Burger se resensie van Stasies. By versigtige nalees is die felle kritiek wat daarin gelees word, nie so duidelik nie.
Nêrens sien ek dat die resensent self Stasies gelees het nie?
Drie vrae:
1. Waarom resensies of literêre kommentaar plaas onder 'n skuilnaam?
2. Waarom jou uitlaat oor 'n literêre werk wat jy duidelik nog nie self gelees het nie?
3. Op welke basis matig hy/sy vir hom/haar aan om woorde in Willie Burger se mond te lê?
Is daar al flieks gemaak van enige van die boeke wat die afgelope jare kykNET en Rapport se prys vir verfilmbare boek gewen het?