Uit Stasi se oogpunt: Moestas deur Deborah Steinmair

  • 0
Feit ontmoet fiksie. Een van die karakters in Moestas is gebaseer op 'n werklike mens en haar naam is Annelie de Wet. Nadat Annelie Moestas gelees het, het sy haar reaksie op die roman in 'n e-pos verwoord. Hiermee tree sy in gesprek met die skrywer, Deborah self. LitNet se lesers kry die seldsame geleentheid om 'n vlieg teen die muur te wees – en te sien hoe hierdie gesprek ontwikkel in 'n andersoortige soort beskouing van 'n roman. Tussendeur deel Annelie, wat 'n sangoma is, foto's vanuit haar persoonlike leefwêreld met LitNet.

Moestas: Die boek was ’n eienaardige ervaring.

Dis ’n tornado. Die pas wou my soms laat opgooi asof ek in die Ratanga Junction-wentelsirkel is. Plus, om myself en die journey so lewensgroot te sien, was ook duiselingwekkend. Want op ’n manier was daar min verskansing.

Ek het nou nog nie duidelikheid oor die taalgebruik nie – en ek dink dit was iewers vanaf die middel van die boek ... die vermenging van Afrikaanse en Engels was soos ’n wasige landskap verby ’n sneltreinvenster. My analitiese brein wil weer daarna kyk om te sien wat aangaan – maar my maag wil nie. Ek kry dieptevrees.

Die skrywer het Afrikaans en Engels gemeng op ’n manier wat die volk waarskynlik nie weer van sal herstel nie. Ek neem aan ek sou kon sê sy het hulle finaal gemolesteer. Selfs ek, wat nie ’n puris is nie, het myself deurgaans gevra, got, is dit OK dat sy alles so soomloos meng – sonder kniebuiginkies om die leser in te lig dat jy weet wat jy doen en steeds jou distansie handhaaf; dat jy weet waar “hulle” begin en “jy” eindig – wat tog lewensbelangrik is vir die Afrikaner. Want die aanklag(?) teen haar is dat sy reguit uit die onderbewussyn geskryf het en gelees kan word as dat die Afrikaanse god ’n onherkenbare hubris geword het – en noudat die sluise oop is, dit nog meer hubris sal word – waarvandaan geen terugkeer meer moontlik is nie. Dit spel die dood van taalpolisie, puriste, grammatiese reëls en ander behoudingselemente wat ’n eiesoortige religie, kunsvorm, ritueel en aanbiddingstafereel geword het waaruit baie van ons ons dors kon les net wanneer ons wou; selfs al was ons nie puriste nie, ons het altyd geweet die plek bestaan iewers – tot die verskyning van die boek. Nou is die fontein se water sommer vanuit die ondergrond gemeng. Die skrywer se rol hier is waarskynlik soos dié van ’n profeet – die wiel het gedraai en sy moet dit aankondig – dis nie asof sy die situasie veroorsaak het nie.

Daar is twee versluierde agtergronde in die boek wat inligting vashou – wat die skrywer dalk self nie eens van bewus was nie; dit is opgesluit in die dolle pas en die taalvermenging. Laat ek verduidelik.

Mens vergeet soms van die feitelike crusade van die verhaal – pedofilie, molestering. Dis asof dit vervaag, beelde voor ’n sneltreinvenster – in die waansinnige pas. Die taalvermenging maak alles helderder, maar displace dit ook na ’n plek sonder konvensie. Dis soos om ’n geheime kamer te betree waarvan jy die inhoud goed ken – maar alles is ’n geheim – jy kan nie die kennis oordra van wat in die geheime kamer gebeur nie.

Die twee agtergrondgegewens – of tegnieke (?) – gee meer “inligting” oor pedofiele as grafiese inligting – wat die lees van die boek sou verfonkfaai.

Die pas van die verhaal as verskuilde inligtingsbron
Dit is asof die snelpas van die verhaal, wat ek as byna waansinnig ervaar het (plus die sangoma se maniese dryfveer), die onsigbare angstoestand weerspieël van die kind-in-molestering. “Onsigbaarheid” is belangrik in die verhaal, want die pas van die boek is, nes molestasie, onsigbaar – net ’n vinnige draaiende maag elke dan en wan verklap die feit dat jy op ’n onvoorspelbare klimtol is en nie weet waarheen dit gaan spin nie – nes ’n gemolesteerde kind nie weet wanneer die molesteerder weer gaan verskyn nie. Daar is net heeltyd ’n dolle pas van innerlike gewaarwordinge in verhouding tot ’n donker geheim. In hierdie realiteit skep die aanwesige afwesigheid van die molesteerder ’n onsigbare, dog verskerpte energietoestand in die liggaam en bewussyn van die gemolesteerde; die gemolesteerde word byna psigies begaafd, of heldersiende, omdat sy heeltyd die onsigbare moet verwerk en antisipeer: wanneer die molesteerder haar in die geheim ontmoet, en nog erger, wanneer sy sosiaal met hom verkeer voor ander mense. Die ander mense in die sitkamer is in die duister, terwyl die kind se gemoed oorbelig is met kennis.

So word alle emosies by die gemolesteerde kind verskerp tot ’n toestand van heldersiendheid – en is hulle dikwels in staat om allerhande onderstrominge op te tel en selfs te voorspel. Ironies, hierdie gawe lei soms daartoe dat gemolesteerde kinders se greep op die realiteit uitgemaak word as leuens.

Hierdie “versteekte inligting” in die pas van die boek (eerder as pornografiese besonderhede, wat afwesig is) maak die leser ook heldersiende. Dis soos om oorval te word met ’n inname van inligting wat niekognitief sy ingang gevind het. Dis ’n ongemaklike ervaring. Want jy weet nie altyd wát jy sien nie, maar die feit dát jy sien, is duidelik soos ’n neonbeligte kamer in jou verbeelding, in elke versnelde hartklop. Dit is ’n presiese weerspieëling van die innerlike van die gemolesteerde kind.

Met ander woorde, die pas van die boek, wat waarskynlik ’n tegniek was wat die skrywer dalk onderbewustelik aangewend het, laat die leser sy konvensionele houvas verloor en plaas hom in die skoene van die gemolesteerde, waar geen normale konvensies geld nie. Die leser word ook gemolesteer – deur die asembenemende pas wat deurgaans presies en helder bly met sy intensie – die ontbloting van ’n geheim. Sommige lesers sal dit waarskynlik toelaat, andere nie.

Die gemengde taalgebruik as backdrop met verskuilde inligting

Die soomlose gemengde taalgebruik wat die boek se gebeure aankondig, is die ander tegniek, nes die vinnige pas, wat ondertekstueel ’n soort van heldersiendheid van die innerlike oog bring.

Ek moes myself telkens wakker tik om objektief te kyk wat aangaan, wat die skrywer mee besig is.

Dit het nooit lank gehou nie, want vier woorde later was ek weer binne-in die sneltrein, die (taal)molestering.

Ek moes myself tik om te glo dat dit Afrikaans en Engels deurmekaar was op ongewone skaal. Want dit was so eg en vlot dit het gevoel soos suiwer Afrikaans. Of Engels. Wat ’n kontradiksie.

Wat ’n dilemma. Wat ’n mind-fuck.

My reaksie op die vermenging had sy eie gekke subteks tydens die lesery. Ek was OK daarmee en nie OK nie. Ek was gekonfronteer met die feit dat ek onbewustelik iewers nog in grense (oor die taal?) geglo het. En hier word die grense genadeloos verskuif, en los jou sonder greep op wat jy gedog het reg en verkeerd kan wees in an ideal world – wat baie Afrikaanssprekendes skisofrenies ophou met veral hul geskrewe taalomgang. Die finale stem in die sub-sub-subdebat in my kop, terwyl ek lees, was: “Waaroor worry jy – dis nie asof jy dit nie geniet nie? Duik nou finaal onder.” Toe lewer ’n ander stem kommentaar daarop: “Nou klink jy nes ’n pedofiel wat vir die kind sê: “’Ja, maar jy het dit geniet.’”

Dit is op daardie oomblik dat ek my onskuld verloor het. Ek dink om jou onskuld te verloor, is om iets op te gee waarvan jy nie eens bewus was nie totdat jy dit verloor het.

Hierdie verhaal het uit die onderbewuste gespring. Dis nie eens ’n verhaal nie. Dit gebruik die tools van boeke skryf om ’n gees te manifesteer wat deur mure, kelderdeure en toiletdeure beweeg. Dit deal nie met die konvensies nie.

Die lees self is die inademing van die pedofielprofiel wat álle grense oorskry.

Om die boek te lees is om jou onskuld op ’n lelike manier te verloor. En dit te geniet. Die dilemma van baie gemolesteerdes. En dit is waar hierdie boek ophou om ’n boek te wees. Jy is óf bereid vir so ’n eksistensiële ervaring – óf nie. Wat ook al jou “keuse” – jy gaan die boek waarskynlik nie kan neersit nie.

Wat ek moet byvoeg, is dat die boek elke onderdeel van die stelsel en mensheid verdag maak. En binne die gewone morele konvensies is die patroon dikwels dat dit genoeg is om net die pedofiel aan te val. Dan het jy jouself bewys en jou saak is sterk. Vergeet daarvan dat daar ’n hele verweefde stelsel en mense by betrokke is, gesiens en ongesiens (soos die boek se beskrywings van die Deep Internet, die INTERNET onder die internet – waarop ons almal se vingertjies elke dag vroetel). Dis eenvoudiger om van die pedofiel ’n sondebok te maak. Ons wil nie weet van die res nie – dis te moeilik en kompleks om te bedink en die verbande is so aweregs dat jy dit kan lees net as jy effe skeef is, of die vermoë het om visooglens te kyk. Daar is nie baie sulke mense nie. Die groepie helde in die boek is aweregs – en opereer slegs op aweregse inligting en ongewone verbande. Hulle lees/leef ’n heeltemal ander realiteit. Baie mense voel dis nie ordentlik om hééltyd so te wees nie, behalwe as jy in die “rol” is van psigiater, akademikus of profiler op Amerikaanse televisie. Dis miskien OK vir ’n naweek of ’n paartie of ’n kunstefees op die platteland, of inligting in ’n psigoanalis se kantoor. Maar dis waar die grense eindig. Not in my neighbourhood.

Maar die suurdeeg sal trek, mark my words. Die kweek sal die sypaadjies kraak.

Lees ook 'n onderhoud met Deborah Steinmair oor Moestas.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top