"Uit die bloute" deur Bernard Odendaal

  • 0

Uit die bloute

Vanoggend is ek uit die bloute
deur die draadloos met ’n melodie
tot ou herinneringe weer verras.

Vereers onthou ek net jou hande
wat soos dinkswaels swiep deur jou gesels,
en hoe die somer in jou oë was;

en toe jou bene, bruin van tennis;
plekke aan jou appelgladde lyf;
konkawe woorde wat jou halslyn pas...

Onthou was skielik met verlang oorhoops
en ek moes buite my gemoed gaan lug,
maar dáár het blomme en die tuin vol voëls
die ganse dag met kleur en geur vergif!
Wat weet ’n son, ’n lied, ’n vink of roos
van lieflikheid se skaduwee – gemis?

Vanmiddag was jy net abstraksie,
greinpatrone in ’n fotoboek,
al het ek jou ook hóé probeer verbeel.

Die blaaie van ou versebundels,
flessies ou parfuum het ek beproef
en toentertyd se plate weer gespeel.

Maar niks wou jou vir my herskep nie:
alle poësie en melodie
was net maar skoonheid op verniet verspeel.

Verlang was skielik met vergeet oorhoops
en ek moes buite my gemoed gaan lug,
maar dáár het blomme en die tuin vol voëls
die ganse dag met kleur en geur vergif!
Wat weet ’n son, ’n lied, ’n vink of roos
van lieflikheid wat brandend word – tot níks?

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top