van Jaco Fourie is daar een groot les te leer en een ligpunt. Verstaan mooi, ek het empatie met hom.
Uit sy tragiese ondervinding is die les te leer dat ‘n mens nie sommer soos hy dit stel, “goedsmoeds” oor ‘n groen robot (verkeerslig) ry nie. Jy benader ‘n robot, al is hy groen en in jou guns, net soos wat jy as laerskoolkind geleer is om ‘n pad/straat oor te steek.
Jy ry stadiger, kyk regs en links en weer regs. Dan gaan jy oor indien jy seker is die ander ou gaan die rooilig aan sy kant respekteer en dit ook andersins veilig is, al is jy tiende in die ry. Groen beteken nie dat jy eenvoudig ‘goedsmoeds’ kan oorry oor nie, dit beteken slegs dat jy nie hoef te stop nie, en die kruising kan oorgaan indien dit veilig is.
Leer dit vir jouself aan, liewe Litnetter. Tel hoeveel keer jy ander ouens dit net-net sien maak, hy, onbewus van sy eie “near miss”.
Eienaardig dat Jaco as ateïs verklaar dat sy ondervinding “hel” was. Het hy ‘n soort van ND-ondervinding beleef?
Hallusinasies? Ernstige nadenke is hier nodig, sou ek sê.
Groetnis,
Raed-na-Gael


Kommentaar
Raed
Jy is heeltemal reg mbt hoe 'n groen robot benader hoort te word. In ons geval hoe meer so aangesien die berugte "kruising van die dood" soveel lewens in die verlede ge-eis het, waarvan ons volkome van bewus was.
Alhoewel ek amper dood was, was ek immers geensins dood om my halusinasies aan 'n ND se ondervinding toe te skryf nie. Die term "hel" was in 'n figuurlike konteks, en nie in 'n letterlike konteks deur myself gebruik.
Die brein is 'n wonderlike orgaan. Dit gewaar ALLES, bewustelik sowel as onbewustelik, laasgenoemde wat deel van die onderbewussyn vorm. Halusinasies word "getrigger" deur trauma (soos in my geval), medikasie, asook die misbruik van onwettige verdowingsmiddels. In my geval, die laaste wat ek onthou het was die aankomende kar se ligte en geskreeu van bande op teer, toe verder niks nie. Drie weke later word ek wakker met my hande teen die bedrelings vasgebind. My brein het sy eie logiese verklarings daarvoor probeer uitmaak in die vorm van angswekkende halusinasies. My bewuste en onbewuste opvangs in my brein het gesamentlik tekere gegaan tot so 'n mate dat ek pragtige musiek en logiese gesprekke kon ondervind; musiek en gesprekke wat ek nooit tevore van bewus was nie, asook knalskote van 'n geweer, ens.
Ek is dankbaar dat ek nie breinskade opgedoen, en permanent in sodanige halusinasies vasgevang was nie, wat kon gebeur het. So baie mense sit vandag in verstandelike vertraagde inrigtings, vasgevang in angswekkende halusinasies tot hulle dood toe agv van "triggers" hierbo genoem wat sodanige halusinasies in die eerste instansie aangebring het; gevolglik aan permanente breinskade te danke.
My vriend Wim lê vandag begrawe, sy lewe en bestaan tot in die ewigheid vorentoe tot niet. Ek is dankbaar vir die 15 jare se soete samesyn met hom, maar is ook ten volle bewus daarvan dat die lewe nie stilstaan nie, en moet aangaan.
Ek kom nooit by 'n begrafplaas uit nie, en met my besoek aan Wim se graf het ek so tussen die grafte rondbeweeg. Wat my opgeval het was dat omtrent elke graf met 'n Bybelversie versier was, in opwagting vir 'n toekomstige opstanding. Wat my verder tot nadenke gebring het is die groot aantal dubbel grafte (vir man en vrou), waar of die man of die vrou begrawe is met die leë spasie langsaan vir die toekomstige afsterwe van sy of haar oorlewende eggenoot, meeste waarvan nooit gevul gaan word nie, weens die hertroue van sodanige oorlewende eggenoot.
Grafte ouer as twee of drie jaar, geen blomme nie, meerendeels in die proses van vervallendheid, aanduidend hoe vinnig die afgestorwenes vergete word.