Tyd (Deel II)

  • 0

 

Waarskuwing!: As syfers jou verveel moet jy liewers verbyhou!:

Eenhede van tyd is sedert die vroegste tye gekoppel aan die beweging van hemelliggame.

’n Son dag is gelyk aan die tyd wat dit vir die aarde neem om een maal te roteer sodat die son weer reg bo dieselfde meridiaan skyn, soos aangedui met posisie (1) en (3) op meegaande skets. Dit is effens meer as een volledige rotasie van die aarde soos gesien kan word uit die verskil tussen posisies (2) en (3) op die skets. Daar word algemeen na ’n son dag verwys as ’n dag.

’n Sideriese dag is presies een rotasie van die aarde en word teen die agtergrond van ’n ster gemeet — soos aangedui met ster A en posisies (1) en (2) op meegaande skets. Dit is 3 min en 55.01 sek minder as ’n dag/(son dag).

Daar is dus (365 + 1) sideriese dae in 365 dae. Dis reg ja! — die aarde roteer in 365 dae net mooi 366 keer om sy as! Dit verklaar waarom die sterre elke aand bykans 4 minute vroeër opkom.

’n Sideriese jaar verteenwoordig een volledige omwenteling van die aarde om die son en word teen die agtergrond van ’n ster gemeet en is gelyk aan: 365 dae 6 uur 9 min en 9 sek. (365.256363004 dae). Die lengte van die sideriese jaar is reeds in die 2de eeu v.C. deur die Turkse sterrekundige Hipparchus bereken as 365 dae 6 uur en ±2½ min. Merkwaardig! Hy het ook waargeneem dat dié jaar nie tred hou met die jaarlikse deklinasie van die son nie wat later gelei het tot die — mens kan byna sê ontdekking — van die tropiese jaar.

Die tropiese jaar — algemeen genoem ‘jaar’ — word bepaal deur die deklinasie van die son. Daar word ook daarna verwys as ’n son jaar en in Engels soms ook as ’n ‘equinox year’. Dit is die tydsverloop tussen ooreenstemmende deklinasies van die son op dieselfde breedtegraad.

’n Tropiese jaar is korter as ’n sideriese jaar (1 sideriese jaar = 1.00003878 jaar/tropiese jaar) en dit neem vir die aarde nog 20 min. en 23 sek. om ’n volledige omwenteling om die son te voltooi nadat die jaar/tropiese jaar om middernag 31 Desember verstryk , die champagneproppe geklap en die vuurwerkvertonings om die nuwe jaar in te lei, begin het.

Die Westerse kalender was tot in die 17de eeu en in sommige lande tot die 18de eeu gebaseer op die sideriese jaar voordat daar oorgeskakel is na die tropiese jaar.
Die skrikkeljaar: Die jaar/tropiese jaar = 365 dae 5 uur 48 min en 46 sek. Omdat dit nie ’n afgeronde getal dae is nie, is dit nodig om van tyd tot tyd die kalender aan te pas deur ’n dag aan die einde van Februarie by te voeg. So ’n aangepaste jaar word ’n skrikkeljaar genoem. Die aanpassings geskied as volg:

Dit is ’n skrikkeljaar indien die jaartal presies deelbaar deur vier is — behalwe jare wat deelbaar is deur 100 maar nie deur 400 nie. Dus die jaar 1600 was ’n skrikkeljaar maar nie die jare 1700; 1800 en 1900 nie. Die jaar 2000 was derhalwe weer ’n skrikkeljaar. Dit sal gevolglik drie keer in elke vierhonderd jaar gebeur dat daar 8 jaar verloop tussen twee skrikkeljare, Die eerste skrikkeljaar na 2096 sal dus eers in 2104 voorkom.

Hierdie aanpassings los egter nie die probleem 100% op nie en teen die jaar 4 000 sal daar waarskynlik bo en behalwe die gewone skrikkeldag, ook ’n tweede een nodig wees. Die besluit daaroor is nog nie geneem nie en dit lyk nie of daar enige haas in die verband is nie.

Groete
Panda

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top