Tyd (Deel I)

  • 1

Die volgende interessante staaltjie is deur Dr WS Finsen, voormalige direkteur van die destydse Republiek Sterrewag, vertel:

“Dit was kort na WO II. Op daardie stadium het die SAUK nog die amptelike tydsein, van die Poskantoor af ontvang.

“Die SAUK het die blieps elke uur uitgesaai en die manier waarop hulle te werk gegaan het, was om die kantoor se venster oop te maak en te luister na die klokkespel van die Poskantoor se horlosie en hulle horlosie daarvolgens te stel. Dit het later aan die lig gekom dat die Poskantoor op sy beurt weer hulle horlosie, gestel het op die blieps wat hulle oor die radio ontvang het.”

Later jare het die Sterrewag die verantwoordelikheid by die Poskantoor oorgeneem en die blieps is hopelik deesdae meer betroubaar.

Die sekonde is die amptelike eenheid van tyd en een van die sewe fundamentele eenhede wat deur die Internasionale Stelsel van Eenhede (International Systems Units) gedefinieer word. Dié eenheid en veelvoude daarvan, word o.a. gebruik om ander eenhede soos snelheid en afstand te definieer. Aanvanklik was die sekonde gedefinieer as ’n gedeelte van ‘n dag. (1/86 400 ‘of the mean solar day’). In 1967 is die definisie aangepas en beskryf in terme van ’n sekere aantal vibrasies van die “Cesium 133” atoom onder bepaalde omstandighede. Die atoomhorlosie in Switserland wat sedert 2004 inwerking is, sal na bewering minder as 1 sekonde in 30 miljoen jaar, afwyk.

Tot laat in die 19 de eeu het elke afsonderlike gemeenskap eenvoudig daagliks met sonsoorgang hulle horlosies na middag, d.w.s. 12:00, verstel wat bekend gestaan het as plaaslike tyd. Om sonsoorgang te bepaal is ’n skadupaal by ’n strategiese punt in die gemeenskap opgerig. Die oomblik as die paal se skaduwee presies op die noord-suid lyn val en dus op sy kortste was, is ’n klok gelui wat die aankondiging vir 12:00 was en kon almal hulle horlosies stel. Ongelukkig vind sonsoorgang nie elke dag stiptelik volgens die horlosie plaas nie en varieer dit met tot ongeveer 15 minute na beide kante toe gedurende die verloop van ’n jaar. Horlosies moes dus uiteraard elke dag volgens die klokaankondiging verstel word. Vanselfsprekend het plekke op verskillende meridiane se tyd met 1 uur vir elke 15° verskil.

Voor die koms van die telegraaf en treine was tydsverskille onbelangrik omdat mense normaalweg in dieselfde omgewing bly woon het en indien hulle wel gereis het, was dit maar te perd of te voet en die tyd wat gebruik is om van een plek na ’n ander te reis was soveel langer as die tydsverskil tussen plekke dat dit min of geen praktiese implikasies gehad het. ’n Reisigers moes slegs die ongerief verduur om sy horlosie, indien hy so ’n luukse besit het, te verstel vir die tyd wat gegeld het vir die omgewing waar hy hom bevind. 

Met die koms van die telegraaf kon boodskappe vinnig versend word en was verskille in plaaslike tyd, a.g.v. verskille in meridiane, skielik ’n yslike irritasie. Dit was veral vir die spoorweë, wat skedules van aankoms- en vertrektye van treine moes opstel, wat met ’n groot kopseer gesit het omdat elke stasie sy eie plaaslike tyd gehad het. Met die ontwikkeling van vinniger metodes van reis en kommunikasie het dit derhalwe noodsaaklik geword om die chaos wat met plaaslike tyd geskep is te vervang met ’n meer praktiese tydstelsel.

’n Stelsel van Standaard Tyd was eerste deur die Britse Spoorweë op 11 Des. 1847 ingestel toe hulle van plaaslike tyd na Greenwich Mean Time (GMT), wat ook as ‘Railway Time” bekend gestaan het, oorgeskakel het. Teen 1855 was die meerderheid van Brittanje se openbare horlosies gesinkroniseer op GMT.

Op 11 Oktober 1883 het die belangrikste spoorwegstelsels in die VSA Standaard Tyd vir vier van die tydsones vir die VSA aanvaar. Standaard Tyd is ook feitlik onmiddellik deur die meeste State van die VSA aanvaar. Op die middag van 18 Nov. 1883 het die ‘USA Naval Observatory’ sy tydseine verander om aan te pas by dié verandering. Tans geld plaaslike tyd nêrens in die wêreld meer nie.

Dit wil egter voorkom asof tegnologie al weer deur die tyd ingehaal is. Sommige passasiersvliegtuie is bv. tans vinnig genoeg om wanneer dit van oos na wes vlieg, met gemak in pas met die son te bly. ’n Vlug wat bv. 12:00 middag (Eastern Standard Time) vanaf New York opstyg nadat ’n reisiger pas sy middagete genuttig het, sal vier ure later ook om 12:00 middag (Pacific Standard Time) in San Francisco arriveer, nog betyds vir die nagereg.

Groete
Panda

  • 1

Kommentaar

  • Beste Panda

     
    Uitstekende briewe - weer eens baie geleer.  Baie dankie daarvoor.
     
    Terloops, die poskantoor waarna jy verwys is die Rissikstraatposkantoor wat oorkant die Johannesbugse stadsaal gelee was.  Die ou gebou het 'n horlosie in sy toring gehad.  Ek dink amper die gebou is as Nasionale Monument verklaar.
     
    Ek het self in die vyft\igerjare my daelikse brood in daardie gebou verdien.
     
    Groetnis
     
    Enjee
  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top