Tyd brand

  • 4

Foto: Canva.com

Tyd brand
Toe ek jonk was, het ek ’n prentjie in my kop geskep
Oor hoe ek verkieslik sal lyk aan die einde van my lewe
Van bo af sien ek ’n man in ’n bed met ’n hemelsbreë glimlag
Met ’n doodstil gewete en ope arms
Sy lewe skitter met herinneringe van goue mense
Vol stories met gelukkige eindes

Maar soos ek ouer raak, raak daai prentjie al hoe dowwer
Ek wonder of die man wat ek sien ooit rêrig gelewe het
Het hy die lewe met al sy hoogtes en laagtes beleef
In al sy seisoene, al sy kleure
Het hy ervaar dat liefde en smart hand aan hand loop soos ou vriende
Die een kan nie sonder die ander nie
Het hy verloor, het hy gestruikel en geval, het hy gemis?
Was hy al platgeslaan, het sy hart al gebreek, het sy hoop verdwyn?
Het hy al laaste gekom
Het hy al sy pa sien huil
Het hy gesukkel om te vergewe
Het hy al sy naaste se laaste woorde gehoor?

Deesdae sien ek ’n nuwe prentjie 
Ek sien ’n man wat uitasem is
Hy het ’n bloedneus en rowe op sy kneukels
In sy oë is daar woede
In sy hart is daar vrae oor die skepping wat brand
Sy lewe skitter met herinneringe
Vol stories

  • 4

Kommentaar

  • Christiaan, dis so goed beskryf. Ek kan dit oor en oor lees.
    Die ou lewe kan darem ongenaakbare draaie met mens stap!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top