Twintig jaar van demokrasie

  • 0

Mens dink aan aartsbiskop Desmond Tutu wat so jubelend was twintig jaar gelede nadat hy vir die eerste keer in sy lewe sy stem in ‘n demokratiese Suid-Afrika kon uitbring. Die lang, kronkelende rye en rye van Suid-Afrikaners wat geduldig gewag het vir die geskiedkundige geleentheid in ons land om te kan sê wie hulle dink hulle regeerders moet wees. Uiteindelik ‘n regering van die mense, deur die mense en vir die mense. Die regse mobilisering en bomme kon dit nie keer nie, die brutale geweld en slagtings ook nie. Die stembriefies moes aangepas word om die huiwerige Inkatha Vryheidsparty (IVP) aan die einde ook in te sluit. Generaal Constand Viljoen het moedig sy militêre kundigheid ingespan om tot die besluit te kom dat die demokrasie die beste opsie was. Die demokratiese euforie se wiele het begin draai.

Meneer Mandela het almal verstom met sy versoeningsagenda. Terwyl hy soveel verskillende faksies gehad het om in ag te neem, was nasiebou, versoening en die eenheid van Suid-Afrika vir hom van veel meer belang as die sentimente van talle aktiviste en “struggle-iste”. Die oproepe na wraak en vergelding was baie geldig na soveel jare lange ontberinge.  Vir hom was dit egter nie die tyd vir haat en wraak nie, eerder vergifnis en versoening. Dit was ‘n bitter pil om te sluk vir baie, maar meneer Mandela het daarin geslaag om daai pil met die nodige suiker af te laat gaan. En selfs om dit te sien as die presiese bitter medisyne wat nodig  is om ‘n land op te bou, om werklik te kan laat sien dat Suid-Afrika die land is wat aan almal behoort, swart en wit.

Daarin het ons geslaag. Suid-Afrika is nie meer die land van een of ander eksklusiewe groepie nie. Die naakte rassisme van die verlede is nie meer daar nie, en ook nie so sigbaar meer nie. Ons land het inderdaad ten goede verander. Nêrens hoor mens meer ‘n hunkering na die terugkeer van die verlede nie. En tog ... dit gaan nie so goed in ons land nie. Ja, daar is nog behoorlike vertroue in ons ekonomie en ons infrastruktuur, ons finansiële dienste word baie hoog aangeslaan, ons besighede is bedrywig op die Afrika-kontinent. Aan regeringskant is daar weinig wat werklik uitstaan: die Departement van Finansies, die Binnelandse Inkomstediens, die Department van Gesondheid, die Department van Binnelandse Sake skiet my binne as goeie presteerders. Maar wanneer dit kom by die korrupsie wat die land wat so ingebak is in soveel vlakke van ons samelewing dan raak die terugkyk op ons demokrasie benouend.

Dit is onverstaanbaar hoe dat daar op die verslag van die Openbare Beskermer, advokaat Thuli Madonsela, reageer word. Die waardige begrafnis van die ontslape staatshoof meneer Nelson Mandela lyk asof dit ook sy nalatenskap en leierskap op die agtervoet geskuif het. Alles is so asof daar nie ‘n Mandela-fase in ons demokrasie was nie. Die aartsbiskop Desmond Tutu was onlangs deel van ‘n optog deur geestelikes waar die Staatspresident van die land gevra word om sy stilswye te verbreek oor die verslag van die Openbare Beskermer.

Aartsbiskop Tutu het sy eerste stem in die 1994-verkiesing uitgewys as ‘n diep geestelike ervaring waar hy die stemlokaal binnegestap het met al die swaarmoedigheid van die verlede en daar uitgestap het met ‘n enorme verligting van vergiffenis en oplugting. Hy praat nou van die bekommernis van die huidige Suid-Afrika, die regering en die regerende party. Hy sal wel weer stem hierdie keer, maar anders as in die verlede. Mens raak sommer koud van die realiteite. Die jubeling van twintig jaar herdenking kry ‘n bak yskoue water in die gesig.

Dit maak ons seker ‘n normale land, weg van die euforie en die enorme Madiba-voetspore. Dat ons nou moet terugkeer na ‘n demokratiese Suid-Afrika wat ons moet beskerm, die grondwetlike waardes wat ons tot nou gedra het respekteer, en die grondwetlike instellings verhef bo ons prinse se voete van klei. Twintig jaar van demokrasie? Versigtig wees met die euforie, en terug na die harde werklikhede waar ons almal ‘n bydrae het om te maak.

Danny Titus: Uitvoerende direkteur (Kultuur) van die ATKV

 


Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top