“Gister was weer een van daai dae!”
Dit som nogal baie goed op, verduidelik niks, maar almal verstaan so op ’n manier.
Die dagtaak se gewone uitdagings, ’n ligte eisie of wat en ’n koppestamp hier en daar, kon seker genoeg gewees het om die afgelope Woensdag as ’n “rowwe dag” te beskou. Tot so halfpad deur die middag was dit die geval, behalwe dat die ergste om 15:30 sou volg.
In die sakekring waar ek my daaglikse sweet laat drup om ’n broodjie te bekom, handel ons met beide die suksesvoller onderneming wat sy huurgeld klokslag op die eerste van elke maand betaal en die een ’n bietjie laer-af in die inkomsteketting; dié onderneming wat ook elke maand betaal, selde klokslag en eers wanneer hul die nodigste bymekaar kon skraap. Die verderre ooreenkoms tussen hierdie getroue betalers is dit: albei is trotse mense en die onderneming is meer as net ’n voedingsbron, dit is hul bestaan.
Om 15:30 stap ’n fris vol figuur paneelklopper by ons kantoor in. Net betyds om ’n bietjie laat te wees vir ons 14:00 afspraak. “Die deliveries was laat – sorry” “Als reg Martie*, sit gerus. Waarmee help ek vandag?”
Martie en haar mannetjie besit en bedryf ’n paneelklopper onderneming. Hulle huur ongeveer ’n jaar al by ons en vanaf dag een, was daar nooit ’n enkele probleem met hulle nie. Martie is die bestuurder, stel pryse saam, doen die aankope, skuur bakwerke, vee die vloere en haar man doen die spuitverf. Wanneer hierdie vrou ’n tydjie gelede by jou kantoor ingestap het, het die ontvangsdame angstig begin soek na die kortste moontlike vlugroete en die res van ons was maar lugtig omdat almal aan Martie se stukkend-kyk-uitdrukking, bo-arms en hande kon sien dat hierdie paneelklopper die gemiddelde man se gesigsvorm goed sal kan timmer. Niemand sukkel met Martie nie.
Die verwese vroutjie wat hierdie middag egter voor my sit, het Martie se gelaat, maar dis ook al. Die fris en vol figuur lyk amper klein nadat “fors” die hasepad gekies het. Martie se tranerige oë wil-wil verdrink terwyl sy vertel hoe die “karre net opgedroog het”. Dit is hoekom sy nie verlede maand se huur ten volle betaal het nie en dit is hoekom Julie se huur ook laat sal wees. Hulle is nou op die punt om nie die huurkontrak te hernu nie en om selfs net die toerusting te verkoop, as ons nie bereid sou wees om nog ’n bietjie langer vir die huurgeld te wag nie. Die trane loop nou so sonder seremonie en emosie oor die sakke onder haar oë. In my keel is daar meer klemming as wat ek deesdae aan gewoond is. Ek sluk maar so bietjie en terwyl daar menige beelde uit my lewensrolprent onbeheersd in my gemoed afgestof word, besef ek weereens dat hierdie een van dáárdie oomblikke is. Die oomblik waar ek vir iemand kan vertel “mag God by julle wees”; óf ….daardie oomblik, waar ek dit vír Hom kan doen.
Ek stel haar gerus dat ons nie meer druk sal plaas nie. Sy moet ontspan; gaan kry die karre in en hou aan werk. Binnekort is hulle weer aan-die-gang. Ons sal help.
Die snikkende vrou wat ek met die groetslag teen my bors vasdruk, is ook maar net so ’n klein gewonde afhanklike mens, soos die res van ons.
*Martie is ’n skuilnaam
Hennie Fritz

