Twee nuwe gedigte deur Deon Swanepoel

  • 0

Angs

As die angs my toevou
soos die mis oor Duiwelspiek,
gryp ek na die botteltjie happy pille
altyd gereed op my bedkassie,
of in my broek se sak.
Om die vrees te besweer
sluk ek een en sit een onder die tong,
dit maak tog die hart se stemme stom
en verjaag die paniek vir ’n wyle,
net totdat die Alprazolam sy taak volvoer het
want dan speel ons die hele game weer oor,
tot ek die volgende pilletjie sluk.
So sleep elke dag verby
in angs en die wete dat paniek
om elke straathoek skuil,
soms bid jy dat die suidoos
jou skoon kon waai
maar jy weet jy het verkeerd geraai,
Van Hunks het weer sy pyp gestop
en ek gaan gou by die apteker stop.

Werkloos

Hier staan ek
met ’n leë briefcase.
Daar was nie juis iets van waarde
om in te pak of te wou hou nie
nie eers die foto’s
teen my kantoor se muur sou
iets vertel wat ek nie te goed geken het nie.
Dit is ook nie ’n smart duur briefcase nie -
pennesakkie, drie highlighters, ’n uitveër en
twee HB-potlode met ’n stomp skerpmaker
daarbinne - en ’n Tupperware-kosblik.
Ek wag vir my taxi
miskien na ’n nuwe horison,
dalk na ’n eindelose terugreis na wat kon gewees het
en wat was.
Niks is gewaarborg op hierdie reis
alleen stap jy en los ’n spoor
hoe wankelrig ook al,
feite verdoesel in die groot heelal.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top