Twee intense weke

  • 2

Dit was twee intense weke, was dit nie? Die koerante is gered, darem ook. Nou, sonder ommehaal:

Taboek, deur Riku Lätti. Resensent: Mellet Moll (Rapport Boeke)

LitNet het Crito se teks verwyder op Crito se spesifieke versoek.

Watch this space.

Bessie se hangkasbiblioteek, deur Madelein Rust. Resensent: Trisa Hugo (Rapport Boeke)

Dit gebeur só: Jy lees die resensie, dit lees vlot, en jy is bly om te sien dat Madelein Rust ná die negatiewe reaksie in sommige oorde op haar Siembamba goed op stryk is. Dan, goed op pad na die afsluiting van die resensie, lees jy jou teen jou lagspiere vas: “Die wanhoop van nageboortedepressie […]” Wat? Is dit nageboortelike of postnatale depressie waaraan Hugo dink? Die nageboorte wat depressief geraak het … Hou my vas, korporaal. 5/10

Bessie se hangkasbiblioteek, deur Madelein Rust. Resensent: Ilza Roggeband (Boeke24)

Om Roggeband se idiolek te gebruik: Sy mag maar. Nes Hugo, probeer sy die resensieleser nuuskierig maak oor die inhoud en mense van die boek. Bekyk mens Hugo en Roggeband se resensies naas mekaar, is dit opvallend dat Rust se styl hulle beïnvloed het. Roggeband kies een aanhaling uit die boek wat dit vir my onmoontlik maak om die boek nie te lees nie: “Die kwaadwees en die lelik het my geëet tot ek iets vreesliks aan die man van my hart gedoen het, maar ek is nie jammer nie.” Wat het sy gedoen? Net een manier om uit te vind. 6/10

Onrus op Steynshoop, deur Ingrid Winterbach. Resensent: Marni Bonthuys (Boeke24)

Daar is soveel dinge wat mens oor hierdie resensie kan sê! Ja, dis vanuit die akademiese sfeer. (Pap intro.) Maar ja, dis … ek wou sê skitterend, maar daardie woord is só besoedel deur misbruik om krimi’s te beskryf dat ek liewer sal sê uitsonderlik goed. Ingebed in haar resensie is kennis oor Winterbach se oeuvre, die groot andersheid van haar werk, die verwikkelde verweefdheid van karakters en temas. Sy lok die belangstelling deur die palet van personasies te lys, waardeur sy die eietydse situasie aansny. Sy is nie blind vir die probleme wat Winterbach vir sommige lesers skep nie. Sy vermy die geykte opmerkings oor Winterbach as geestelike anargis en satiris, maar jy kan sien sy is bewus daarvan. Wat sy ook nie pront noem nie, maar wat duidelik Bonthuys se subteks is, is die wete dat daar ’n ratverandering by Winterbach was, ten goede. Dié resensie sal my lank bybly danksy die gesag van die resensent. 9/10

Gebooie, deur Rudie van Rensburg. Resensent: Jonathan Amid (Rapport Boeke)

Die roman vorm die resensie. As Gebooie ’n roman was waarin die lesers eers teen die einde saam met die speurder ontdek wie die moordenaar is, sou Amid hierdie resensie anders geskryf het. Sy reaksie op die roman is interessant – die roman maak die gebruiklike struktuur van sy resensies onbruikbaar. Amid het die probleem uitmuntend benut – en diegene wat gereeld sy besprekings lees, geloods op ’n onvoorspelbare pad. Die voordeel hiervan is, soos mens dikwels vind by besprekings van die werke van ’n baie suksesvolle skrywer (dink maar aan Deon Meyer, Chris Karsten en diesulkes), dat die resensent nie te sukkel het met die probleem van wat op aarde mens nuuts kan sê oor die betrokke skrywer nie. 7/10 

Droomjagter, deur Leon van Nierop. Resensent: Jonathan Amid (Boeke24)

Dis maklik om boeke te loof, soos ons gereeld op die resensieblaaie sien; veel moeiliker is dit om indringende oorwoë negatiewe kritiek te lewer. Hierdie is een van Jonathan Amid se beste resensies. Dis nie sommer net gepleeg nie. Dis ’n bespreking wat samehang het. Dit sê dinge wat gesê moes word. Leon van Nierop is die Kas van den Bergh van ons generasie, en Amid lê die mankemente van skrywer en boek bloot. Dit maak ook sin dat Amid die aanklag aan die uitgewer koppel. Die groot ideaal is meer as net die aankeer van lesers, dit is ook die bymekaarmaak van bokke. In hierdie geval kan mens dus ook die boek se prys, R340, bo-aan vermeld, as deel van die resensie lees. 8/10

  • 2

Kommentaar

  • So van die os op die jas, Crito, daar is 'n mooi ienterview met Bonthuys elders, waar sy onder meer die volgende te sê het: "’n Literêre veld kan nie meer net bestaan uit mense van een ras, geslag en/of agtergrond nie. Diegene wat nog aandring op hekke en kampies, gaan hulleself vinnig-vinnig irrelevant maak in die toekoms en Afrikaans as taal en vakgebied geen gunste doen nie. Hopelik kan ons aanhou om meer oop ruimtes te bou en te handhaaf vir die volgende generasie Afrikaanssprekendes."

    Let veral op die deeltjie "en Afrikaans as taal en vakgebied geen gunste doen nie".

    Die volle ienterview kan mens hier lees:

    https://versindaba.co.za/2024/08/01/yves-tsjoen-cahier-van-een-lezer-30-vraaggesprekken-met-literaire-agenten/

  • Louis de Villiers

    En ek gee jou 1/10 vir daardie kritiek. Nou kan jy my 0/10 gee en dan voel jy sekerlik volbring.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top