Pietermaritzburg 28 Desember 1958
Ons staar vasgevang na die dreunende rivier voor ons agterplaas. Die water lek-lek aan die hoogste terras waarop ons huis staan. Ek, my pa, ma en vierjarige boetie het ons reënjasse oor ons slaapklere gegooi en ons staan en luister na die donderweer, sien die flikkerende bliksemstrale en hoor skreeuende mense in die water.
Dis nie die donderweer wat ons wakker gemaak het nie. Dis mense se geskree. Mense wat wanhopig vasklou aan enigiets: sinkplate, boomstompe, deure, planke, kosyne. Hulle wit verskrikte oë weerkaats momenteel in die lig van die swaaiende stoeplig. Dan verdwyn hulle saam met die swart water en die volgende klomp kom – mense wat nie kan swem nie en nie gehelp kan word nie.
Pappa slinger ’n motorband aan ’n tou die water in, maar dit bereik hulle nie. Ons kyk oor die water wat die aangrensende rugbyveld verswelg en weet die krokodilletjies wat Pappa vir die Durbanse slangpark gaan gee, sal nie oorleef nie.
’n Wilgerboom bokspring in die water. ’n Man sit tussen die takke; sy een hand klou aan ’n sak en die ander aan ’n tak. Die stoeplig skyn op sy blinknat bors.
“Umlungu! Umlungu! Galepa mina!” (Wit man, wit man, help my.)
My pa gooi die motorband. Dis te kort. Hy dryf al amper by ons verby. Dan staan hy regop. Hy gryp die sak met twee hande vas en die boom rol en kantel. Met bomenslike krag gooi hy die sak. Ons kyk in die gietende reën op na die sak wat oor die rivier tol. Dit val op die rand en Mamma is eerste daar voor dit wegdryf.
Bokant die ruisende water hoor ons hom skree.
“Buka yena! Mina zo fika!” (Kyk daarna. Ek sal terugkom.) Dan is hy weg die donkerte in waar die rivierklippe die water nog onstuimiger maal.
Mamma hardloop met die goiingsak huis toe. Op die stoep besef sy iets beweeg. Sy druk dit vorentoe, bang dis ’n dier of ‘n slang. As die man ’n sangoma is, kan dit muthi wees. Water stroom oor Mamma se gepoleerde blokkiesvloer, maar sy sien niks.
Sy ruk die sak oop.
Die baba in die sak spoeg en hyg en hoes. Die doek om die lyfie hang deurdrenk om die swart boudjies, die verskeurde vessie wurg om die baba se keel, verwring die gesiggie. Water stort by die kind se mond uit. Ma skreeu bevele aan haar drie manskappe – ek, Fransie, Pappa.
“Annie, kook water!”
“Fransie, bring handdoeke!”
“Dikkop, maak pap!”
Sy stroop die nat goed van die baba se lyf af en skeur die striemende onderhempie in repe. Sy draai die baba onderstebo om die water te laat uitloop. Ek wil nie kyk nie, maar ek kan nie wegkyk nie.
Sy duik by my en Fransie se kamer in en gooi ’n handdoek op my nuwe pienk satynbedsprei. Water borrel by die kind se mond uit en die armpies ruk bewerig bokant die koppie. Mamma hou op om water uit die kind te kry eers toe sy ’n egalige hartklop hoor. Toe sy ’n droë handdoek om die lyfie draai, sien ons dis ’n dogtertjie – klein, pikswart, vreesbevange. Dan begin sy gil – met ‘n toekomstige operastem. Ons staar na die vertrekte, tandlose mondjie wat in my ma se gesig op soek is na iets.
Mamma druk die handdoek se punt in die warm melk en dan in die pap en die dogtertjie suig gulsig. Uiteindelik bly sy stil. Ek voel opgewonde – ek het so gewens vir ’n nuwe sussie vir Kersfees en hier is sy – bietjie laat, maar darem. Bietjie anders, maar darem!
Fransie is ook baie bly.
“Dis goed dat Mamma haar op jou bed gesit het, Annie. Pienk is vir meisies. My bed is blou vir seuns.”
Ek wil nie dink aan die plas op my nuwe Krismisdeken nie.
“Wat’s haar naam? Hoe oud is sy?”
Pappa, wat soos ’n werklose beskermengel by die deur rondhang, antwoord: “Sy lyk omtrent drie maande oud. Sy het seker ’n spesiale Zoeloenaam – een wat vir haar en haar mense iets beteken. Ons moet vir haar iets noem wat by vannag pas.”
Ons drink koffie en dink aan name. Fransie kom by met Bliksem en Donder. Ek hou van Storm en Water. Krismis? Pula! (Reën.) Dan sê my ma: “Hierdie baba is gelukkig om te leef. As sy nog in die rivier was, was sy dood. Wat is die Zoeloewoord vir ‘geluk’, Dikkop?”
So kom klein Jabulani toe by ons bly – ’n doodgewone wit Afrikanergesin in ’n apartheidland. Sy word gou deel van ons – nadat my ma twee glasbottels met tiete gekoop het. En klere. En twaalf doeke. Ek en Fransie baklei om haar te voer, maar nie om doeke te ruil nie. Ons raak slim met doekspelde.
Teen so sewe maande kruip Jabulani orals en glimlag breed wanneer ons smiddae die huis inkom. Die twee Spanjoele, Frederik en Isabella, is doodtevrede as sy haarself ophys deur hulle pelse te gryp. Ons tel vier tandjies en sy kruip oral agter Mamma aan. Ouma kom kuier en sy brei vir Jabulani sagte pienk truitjies. Pappa sê ons moet met haar Zoeloe praat. Dis haar moedertaal. Ons oefen voor hom, maar as hy weg is, hoor sy net Afrikaans.
Sy bring met haar stralende gesiggie en kraailaggie geluk na ons huis toe. Pappa sê dat ons vir haar goed leer, maar sy leer ons ook. Van omgee. Ons streel haar swart velletjie en besluit dat ons koffie met baie melk is en sy is koffie sonder melk. Sy streel oor my en Fransie se blonde koppe en ons rek haar stywe krulhaartjies uit, en dan sien ons dis lank. Sy is skreeubang vir water, maar later hou sy van die seepskuim en die borrels wat ons met ons hande blaas.
Laatmiddag, amper ’n jaar ná die wolkbreuk, sien ons ’n bedelaar voor die huis. Hy draal voor die hek, loop verder.
“Ons kan nie vir elkeen wat bedel ’n Krismisboks gee nie, hoor!”
Ma is kwaai. Mense moet werk vir geld. Die honde blaf weer. Die man is terug met ’n bonkige sak. Die honde is verwoed, spring teen die buitemuur op. Dan roep hy hard:
“Umlungu! Umlungu! Mina fikile!” (Wit man! Wit man! Ek het gekom.)
Pappa stap boontoe en voertsek die honde. Hulle gesels by die hek. Die man kom saam met Pappa die trappe af. Hy lyk bangerig, lek sy lippe. Hy is slordig, maar dan glimlag hy breed en sit versigtig die sak neer. Ons staan in ’n sirkel – Pa en die man, Ma en Fransie, ek met Jabulani in haar Krismisrokkie. Sy hou my vinger vas.
Die man val op sy knieë voor Jabulani neer. Wat hy vir haar sê, weet ons nie en Pappa vertaal dit nie, maar aan die trane in sy oë sien ek hy is hartseer ... of is hy bly? Twee woorde wat ek uitmaak, is “jabula” en “kakulu”. Bly. Baie.
Hy steek sy arms na haar toe uit, maar sy druk haar gesiggie teen my bene vas, loer na hom. Onthou sy iets?
Terwyl hy kniel, maak hy die sak oop en haal twee wit werfhoenders uit. Hulle vuilgeel bene is vasgebind en hulle lê op hulle sye. Die haantjie lyk parmantig en skud sy rooi kammetjie. Die hennetjie is doodstil met wakker oë. Wit vere fladder op die mat.
“Nkosi , Nkosikasi, my naam is Bongani. Hierdie hoenders is om dankie te sê. En dit is vir julle vir Krismis. Ek het gekom om my dogter te haal. En vir julle die groot dankie te bring.”
Mamma praat eerste.
“Ons kan môre praat. Jy kan vannag hier slaap. Daar is ’n bed. Wasplek. Kos.”
Daardie nag hoor ek Mamma huil. En Pappa se troosstem.
“Ons kan haar nie hou nie, Maria. Dis sy dogter.” Ek hoor nog woorde ... “die regering” ... “onwettig”, maar wat het ek tóé geweet?
Bongani het ‘n maand gebly. Jabulani moes hom gewoond raak voor sy saam met hom kon weggaan. Sy was nou Jabulani Thandiwe.
Ons het nooit daardie hoenders geslag nie; hulle het gedy en ons het baie eiers geëet. Mamma was soms hartseer, want as ons die eiers sien, was Jabulani en haar laggie daar.
Elke Kersfees – seker vir tien jaar – het Bongani met haar kom spog. Hy was so trots op haar. Sy het goed gevaar by die nonne. Pappa het vir hom ’n werk gekry en hy het weer getrou.
En toe, skielik, het ons nooit weer iets van hulle gehoor nie.
Ek sit nou nog, soveel jaar ná daardie vloed, en wonder of Jabulani al die ander rampe wat die lewe kan gooi, oorleef het.
Maar miskien, net miskien, is daar iewers ’n Zoeloe-mamma van omtrent 55 wat dalk iets onthou van ’n gelukkige tyd saam met vier Afrikaners vasgevang in ’n ander soort storm.
Tydens Kersfees, wanneer die reën oor KwaZulu-Natal begin uitsak, dink ek veral aan haar.
Hamba kahle, Jabulani.

