Tussen vinne en vlerke

  • 7

Foto: Canva.com

Tussen vinne en vlerke

Op Saldanha se kaai 
klets vissers spontaan 
maklik soos Die Burger 
wat almal verstaan 
As Amanda later stoom 
in die bad bring 
is dit diesélfde woorde 
wat klink en sing

Op die bed se kussings 
voor slapenstyd 
reis ons eers met Dana 
van noord na suid 
dan by flikkerende kerslig 
driftig, selfs verwaand 
ontsluit André Brink 
ons Kennis van die aand

Die lessenaar vannag 
ontgin óns taal 
delf histories dieper 
met Jorik se joernaal 
Ons verbeelding skroef los 
met die bliksnywiel 
van Johan Degenaar 
se sterflike siel

Dis joernaliste, skrywers, 
sangers, denkers 
van woorde en frases: 
skeppers en skenkers 
wat skeppend en skenkend 
deur woelwaters vaar, 
wat met woord, klank en beeld 
in Noordbaai baljaar

Skole snoek en stompneus, 
imposante geelbek 
krioel in Afrikaans 
óns dialek – 
dié golwe wat 
óns breinkrag wek, 
dié medium waardéúr 
óns woordkuns strek, 
die oseaan wat 
óns elkeen bedek

Of sien snoek en stompneus 
soms dof iets draai 
in ’n ander medium 
bó Saldanha se kaai? 
óók woorde, óók klanke 
maar in lug geklee 
hoog bo die opper- 
vlak van die see?

in ’n medium wat nie vinne 
maar vlerke verg 
waarin swerms eiers lê 
op Baviaansberg. 
Dostojewski kies 
oor Malgaskop koers 
waar hy worstel met 
sy Karamazov-broers 
On liberty van Mill 
wat verskeie swerms lei 
seil op wíndgolwe stil 
van die oseaan vry

Bo-oor Malgaskop 
wat ongestoord staan 
en oor ysige golwe 
wat deur Noordbaai gaan 
kwetter vlerke vannag 
voor ’n blinkgoue maan 
in idiome wat 
die swerms verstaan

Jenseits von Gut und Böse 
sweef Nietzsche die meeu 
hoog oor die toppe 
van Cervantes die spreeu: 
as ridder besiel 
met woede en waan 
bestorm Don Quijote 
de la mancha die maan

Weet die swerms wat 
hoog bokant draai 
dat die visse verborge 
in hierdie baai 
elke drif, elke traan 
deel en verstaan?

  • 7

Kommentaar

  • Op die vinne van sielvolle visse en wieke van objektiewe woordevoëls het jy ons vinnig en vêr deur jou ryk kontrei asook fynkuns literaruur laat swiep. Wat 'n meesterstuk.

  • Louis du Plessis

    Kultuur (vinne) in Afrikaans (golwe in die see) ontsluit inderdaad vir ons "elke drif, elke traan" van kultuur (vlerke) in ander moedertale (windgolwe in die lug). Besef kunstenaars in ander tale dit? Dankie vir jou skerp waarneming Desmond!

  • Louis du Plessis

    Ester, iemand soos jy, met wortels in daardie omgewing, is waarskynlik vertroud met die genoemde landmerke in Saldanha: Baviaansberg, Malgaskop, Noordbaai. Is dit nie verblydend nie hoe kulturele simbole, soos in letterkunde, ons eie en ander tale (see én lug) oorspan. Baie dankie Ester. Geniet die Weskus-lentedae!

  • Prof (dr)Louis du Plessis, jy is nie slegs ’n uitstekende dosent en toespraakskrywer nie, maar n dinamiese digter. Dankie vir elke toespraak wat jy vir my geskryf het by die Militêre Akademie. Wens jy kon ook my preke skryf. Saluut. Shai Mulder.

  • Louis du Plessis

    Heerlik om van jou te hoor Shai – jy wat in jou eie reg 'n prediker en skrywer is – net soos ons oudkollega Chris Nelson wat op LitNet Akademies sulke insiggewende gesigspunte ontbloot, soos oor hoe samelewings demokratiseer. Opregte dank vir jou boodskap Shai. Mens bly regtig beïndruk met hoe woordkunstenaars op LitNet in prosa en poësie, tragedie en klug, woorde en frases só eiesoortig rig.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top