
Foto: Canva.com
Tussen vinne en vlerke
Op Saldanha se kaai
klets vissers spontaan
maklik soos Die Burger
wat almal verstaan
As Amanda later stoom
in die bad bring
is dit diesélfde woorde
wat klink en sing
Op die bed se kussings
voor slapenstyd
reis ons eers met Dana
van noord na suid
dan by flikkerende kerslig
driftig, selfs verwaand
ontsluit André Brink
ons Kennis van die aand
Die lessenaar vannag
ontgin óns taal
delf histories dieper
met Jorik se joernaal
Ons verbeelding skroef los
met die bliksnywiel
van Johan Degenaar
se sterflike siel
Dis joernaliste, skrywers,
sangers, denkers
van woorde en frases:
skeppers en skenkers
wat skeppend en skenkend
deur woelwaters vaar,
wat met woord, klank en beeld
in Noordbaai baljaar
Skole snoek en stompneus,
imposante geelbek
krioel in Afrikaans
óns dialek –
dié golwe wat
óns breinkrag wek,
dié medium waardéúr
óns woordkuns strek,
die oseaan wat
óns elkeen bedek
Of sien snoek en stompneus
soms dof iets draai
in ’n ander medium
bó Saldanha se kaai?
óók woorde, óók klanke
maar in lug geklee
hoog bo die opper-
vlak van die see?
in ’n medium wat nie vinne
maar vlerke verg
waarin swerms eiers lê
op Baviaansberg.
Dostojewski kies
oor Malgaskop koers
waar hy worstel met
sy Karamazov-broers
On liberty van Mill
wat verskeie swerms lei
seil op wíndgolwe stil
van die oseaan vry
Bo-oor Malgaskop
wat ongestoord staan
en oor ysige golwe
wat deur Noordbaai gaan
kwetter vlerke vannag
voor ’n blinkgoue maan
in idiome wat
die swerms verstaan
Jenseits von Gut und Böse
sweef Nietzsche die meeu
hoog oor die toppe
van Cervantes die spreeu:
as ridder besiel
met woede en waan
bestorm Don Quijote
de la mancha die maan
Weet die swerms wat
hoog bokant draai
dat die visse verborge
in hierdie baai
elke drif, elke traan
deel en verstaan?


Kommentaar
Op die vinne van sielvolle visse en wieke van objektiewe woordevoëls het jy ons vinnig en vêr deur jou ryk kontrei asook fynkuns literaruur laat swiep. Wat 'n meesterstuk.
Literatuur
Kultuur (vinne) in Afrikaans (golwe in die see) ontsluit inderdaad vir ons "elke drif, elke traan" van kultuur (vlerke) in ander moedertale (windgolwe in die lug). Besef kunstenaars in ander tale dit? Dankie vir jou skerp waarneming Desmond!
Spring jy soos 'n blink vis bo-uit - lieflik, Louis!
Ester, iemand soos jy, met wortels in daardie omgewing, is waarskynlik vertroud met die genoemde landmerke in Saldanha: Baviaansberg, Malgaskop, Noordbaai. Is dit nie verblydend nie hoe kulturele simbole, soos in letterkunde, ons eie en ander tale (see én lug) oorspan. Baie dankie Ester. Geniet die Weskus-lentedae!
Prof (dr)Louis du Plessis, jy is nie slegs ’n uitstekende dosent en toespraakskrywer nie, maar n dinamiese digter. Dankie vir elke toespraak wat jy vir my geskryf het by die Militêre Akademie. Wens jy kon ook my preke skryf. Saluut. Shai Mulder.
Heerlik om van jou te hoor Shai – jy wat in jou eie reg 'n prediker en skrywer is – net soos ons oudkollega Chris Nelson wat op LitNet Akademies sulke insiggewende gesigspunte ontbloot, soos oor hoe samelewings demokratiseer. Opregte dank vir jou boodskap Shai. Mens bly regtig beïndruk met hoe woordkunstenaars op LitNet in prosa en poësie, tragedie en klug, woorde en frases só eiesoortig rig.