Tussen middernag en dagbreek – nagmerries word gewaarborg

  • 0

Titel: Tussen middernag en dagbreek
Skrywer:
Japie Bogaards
Uitgewer:
LAPA Uitgewers
ISBN:
9780799355253

Klik hier om Tussen middernag en dagbreek te koop by Kalahari.com.

Tussen middernag en dagbreek is ’n gewaagde stukkie literatuur. Veral vir ’n debuutroman. Japie Bogaards, ’n voedseltegnoloog in die suiwelbedryf, het ’n waaghalsige tema gekies om sy skrywersloopbaan mee af te skop – die ineengevlegde wêreld van dwelms, wraak en die liefde.

Drie hoofkarakters, Sam die psigoot, Hottie die onwillige misdadiger en Marco die dwelmverslaafde, het elkeen sy eie geskiedenis wat op ’n punt by die ander twee s’n aansluit. Ondersteunende karakters is ook in oorvloed teenwoordig – moontlik in oormaat. Andries, Fish, Lisa, Annette en Andre is maar van die ekstra karakters wat gereeld ’n aandeel in die handeling het. Hoofstukke word afgelos per karakter en ook die kleiner karakters het hier en daar ’n afsonderlike spreekbeurt. Dit is juis weens hierdie twee feite, die aantal karakters en die diepte waarmee elkeen afsonderlik uitgebeeld word, dat ek die teks as waaghalsig beskryf.

Tussen middernag en dagbreek begin onsamehangend, met kort hoofstukke en verskillende vertelperspektiewe vir die verskillende karakters. Vir die leser kan dit moontlik verwarrend wees en moes ek ook ’n hele paar keer weer tussen hoofstukke deurlees om agter die kap van die byl te kom.

Die benadering om ’n hoofstuk per karakter af te staan is gewild, en meestal is dit ’n effektiewe verdeling. Bogaards het egter te veel hooi op sy karaktervurk gelaai en dit is my hoofkritiek op die teks. Een of twee van die karakters voel selfs oorbodig.

Met Bogaards se skryftegniek skort daar niks. Sy vertelperspektiewe vloei gemaklik van die een na die ander, sy dialoog karakteriseer doeltreffend, en effektiewe beskrywing dra sy karakters tydens handeling. ’n Verdere punt van kritiek is egter die lengte van sy karakters se interne dialoë. Meestal hou hy dit kort en bondig en tot die punt, maar hier en daar raak dit effe langdradig en sleep die karakter se gedagtes.

Die intrige herinner aan Paul Haggis se film Crash (2004). ’n Groep mense se lewens is, sonder dat hulle daarvan bewus is, aan mekaar verbind, en op ’n dag gebeur daar iets wat hulle paadjies almal met mekaar laat kruis. ’n Eenderse tipe intrige is ook in Tussen middernag en dagbreek te vind, en Bogaards het hom met die weef van sy storie goed van sy taak gekwyt.

Die teks raak ’n aantal sensitiewe temas aan. En sonder handskoene, moet ek byvoeg. Rassisme, die effek van apartheid op hedendaagse Suid-Afrika, plaasmoorde en dwelmverslawing is almal dominante temas wat uit die perspektiewe van die drie hoofkarakters ’n diskoers met die leser onderhou. Bogaards verwag ongetwyfeld van sy leser om ook self te oordeel.

In sy miniverhandeling “Dwelms in/en letterkunde: ’n Terreinverkenning en toepassing op die Suid-Afrikaanse literêre konteks” beskryf Bogaards sy debuutroman as dwelmprosa, ’n jong genre in Afrikaans wat eers onlangs wortel begin skiet het. Hy skryf die volgende oor dié genre:

Literêre en semiliterêre tekste wat dwelms as tema het, hetsy dit die tema verheerlik, nugter beskryf en/of op die gevare van dwelmmisbruik fokus, is nie alles noodwendig dwelmprosa nie. Dwelmprosa is prosa wat nie pedanties of voorskriftelik is nie, dit kom nie voor in die vorm van traktaatjies en pamflette wat waarsku teen die gevare van dwelmmisbruik nie en is ook nie ’n handleiding wat inligting gee oor die feite rondom dwelms as sulks nie. Soms is dwelmprosa die weergawe van die fisiese ervaringe met ’n sekere tipe dwelm, dit vergestalt die “high” (Soos De Quincey se “joys”) of die swaarkry (“the pains”) wat gepaard gaan met die onoordeelkundige gebruik van dwelms.

Wanneer mens die bogenoemde eienskappe van dwelmprosa in ag neem, kwalifiseer Tussen middernag en dagbreek ongetwyfeld. Ek meen egter dat die teks nie eksklusief tot die dwelmprosa-genre behoort nie, maar dat die tema van wraak sterk met die dwelmtema kompeteer. Dat Bogaards dit primêr as dwelmprosa geskryf het, is egter nie betwyfel nie. Hy skryf in sy verhandeling: “Tussen middernag en dagbreek is enersyds ’n storie/fiksie, maar andersyds ’n boodskap van hoop aan diegene wat glo dat daar nie werklik ’n realistiese kans is op volkome herstel van verslawing nie.”

Hierdie hoop wat Bogaards noem, skemer ook onbeskaamd deur die teks, soms in sy eie skrywerstem, en soms ontwikkel dit as emosie by een van sy karakters. Die leser voel byna jammer vir die soms naïewe verteller (hetsy Bogaards self of een van die karakters) want sy beskrywings skets ’n donker prentjie. Een van meedoënlose wraak en nimmereindigende dwelms. Hierdie sporadiese straaltjie van hoop word ook male sonder tal vermorsel – wat dan natuurlik die spanning verder laat opbou, en die leser (al is die verhaal op plekke bitter bar) word byna sonder enige sê deur die res van die boek gesleep. Daar is dus ook niks fout met Bogaards se gebruik van verskeie spanningstegnieke nie.

Ongelukkig (hang natuurlik af hoe jy daarna kyk) is ’n resensie in sy diepste wese subjektief van aard. Alhoewel Bogaards glad nie ’n vrot skrywer is nie, en alhoewel sy intrige, spanningstegnieke en karakters ’n goeie roman vorm, het ek dit nie geniet om die teks te lees nie. Die enigste rede wat ek hiervoor het, is die uitmergelende besonderhede waarin Bogaards geweld in die roman uitbeeld. Selfs die blote kras optrede van sy karakters word oomblik vir oomblik beskryf, en alhoewel dit goed gedoen word, het ek ’n paar maal geswets en die boek ’n ruk laat rus.

Moontlik is dit juis wat Bogaards met al dié besonderhede beoog het: om afgryse by die leser uit te lok. Indien dit die geval is, het hy hom sommer ordentlik van sy taak gekwyt. Die emosie wat Tussen middernag en dagbreek by die leser wakker maak, is natuurlik ’n terugkaatsing van die karakters se emosies en ook moontlik ’n realistiese weergawe van wat mense in dieselfde situasies as die karakters beleef.

Tussen middernag en dagbreek is ’n uitstekende debuutroman, propvol aksie en spanning, en veral geskik vir lesers met bietjie meer hare op hulle tande. Indien klipharde, onbeskroomde geweld nie in jou smaak val nie, sou ek voorstel jy lees eerder die dagblad (daar draai hulle tog doekies om). En as jy braaf genoeg voel, geniet die boek, maar hou ’n slaapmiddel byderhand – nagmerries word gewaarborg.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top