Tussen die abjekte en die eteriese. ’n Keur uit die poësie van Michel Houellebecq: ’n resensie

  • 0

Tussen die abjekte en die eteriese. ’n Keur uit die poësie van Michel Houellebecq
Vertaal en ingelei deur HJ Pieterse. Protea, 2018

Bloot die naam Michel Houellebecq roep al onmiddellik ’n magdom assosiasies op, van literêre provokasie, eksplisiete beskrywings van seks en wrang kommentaar oor die huidige Westerse samelewing tot ’n onthutsende voorgevoel van dreigende rampe soos dié van 11 September.

Hierdie persepsies rondom dié hoogs omstrede Franse skrywer is veral gekoppel aan die inhoud van sy romans. Volgens ’n berig in die Franse dagblad Le Figaro[1] was hy die mees gelese skrywer in Frankryk in 2015, veral met die publikasie van sy roman Soumission, wat op skerp satiriese wyse `n toekomstige Islamitiese oorname van die Franse samelewing uitbeeld.

Maar wie buite Frankryk sou kon gedink het dat Houellebecq ook ’n digter is? vra David Sexton, ’n joernalis by Evening Standard in ’n resensie[2] van ’n bundel Engelse vertalings van Houellebecq se gedigte deur sy vertaler en vriend, Gavin Bowd. Die skrywer het inderdaad tot op hede al vier digbundels laat verskyn, waarvan die eerste twee in Frankryk met pryse bekroon is. Afrikaanse lesers kon reeds ’n voorsmaak van sy poësie kry met die bundel van 80 gedigte wat in 2012 deur Catherine du Toit van Stellenbosch en ’n groep van haar voorgraadse studente gepubliseer is.[3] Vanjaar is daar nog meer gedigte van Houellebecq in Afrikaans op die spyskaart met die publikasie van Henning Pieterse se Tussen die abjekte en die estetiese. ’n Keur uit die poësie van Michel Houellebecq.

By die lees van hierdie keur van 105 gedigte uit Houellebecq se vier oorspronklike bundels, doem ’n beeld van die skrywer soos mens hom in media-onderhoude leer ken, werktuiglik voor ’n mens se geestesoog op: ’n brose, uiters sensitiewe, stamelende en onversorgde figuur omgewe deur ’n aura van neerslagtigheid, weemoed, eensaamheid en selfs wanhoop. Dit is veral hierdie essensie van sy wese wat in die toonaard van sy gedigte weerspieël word. Hierdie besondere Houellebecq-tonaliteit kan geen vertaler nalaat om oor te dra nie, iets waarin Pieterse se vertalings sonder twyfel slaag.

Dat Pieterse homself deeglik verantwoord het oor die uitdagings van sy vertaalprojek blyk uit die inleiding tot die bundel, waarin hy ’n besonder goed-gedokumenteerde oorsig van Houellebecq se lewe en werk gee. Hy motiveer sy keuse van ’n gepaste titel deur na Kristeva se definisie van die abjekte en die eteriese te verwys. Sy enigste bewuste vertaalstrategie is dié van veruitheemsing, wat die leser eerder op reis na die vreemde neem as om die Franse tekste te probeer verinheems.[4] As woordkunstenaar besin hy oor die uitdagings om Frans as Romaanse taal in ’n Germaanse taal soos Afrikaans om te dig. ’n Verdere tegniese uitdaging is Houellebecq se vaardige gebruik van vasteversvorme, soos die klassieke Franse aleksandryn met sy twaalf lettergrepe, wat as teenvoeter dien vir die absurde van die werklikheid wat hom meestal oorweldig. Anders as in Afrikaans, stel die Franse sintaksis, binne die dissipline van die vasteversvorm, Houellebecq in staat om sleutelwoorde in die klemposisie van die eindrym te plaas. Pieterse vergoed hiervoor met pragtige klankherhalings wat veral op alliterasie en assonansie berus. Daar is vele voorbeelde, waarvan ek twee wil uitsonder.

Op bl 270 vind mens die volgende twee versreëls waar die alliterasie van die [i]-klank in Frans die gedagte van klein krete oproep:

Et la mort qui avance
À petits cris plaintifs ...

Pieterse se vertaling steun op die herhaling van die eksplosiewe [k]-klank om ’n soortgelyke effek te bereik:

En die dood wat naderkom
Met klaaglike klein krete ... 

Vergelyk ook die vertaling van die volgende strofe (bl 89) wat nie net die Franse betekenis met ’n sekure keuse van woorde poëties weergee nie, maar ook ryk is aan treffende klankherhalings:

Je traverse la ville où la nuit s’abandonne
Et je compte mes chances d’atteindre le matin
L’air surchauffé s’enroule comme un drap de satin
Dans l’escalier désert, mes semelles résonnent.

Ek deurkruis die stad waar die nag wegsak
En bereken my kanse om die oggend te haal
Die oorverhitte lug krul soos ’n laken van satyn
My voetstappe weerklink op die verlate trap. 

Tog is Pieterse verkwalik deur Joan Hambidge[5] dat sy vertalings stokkerig en te letterlik is. Dit is betekenisvol dat David Sexton dieselfde kritiek op Gavin Bowd se vertalings het, wat glo so plat soos ’n pannekoek sou wees. Dit laat mens egter wonder of die ware kwessie nie juis die aard van Houellebecq se poësie is nie, en of hierdie twee vertalers, wat beide ook digters is, nie dalk met goeie redes gekies het om nie die oorspronklike tekste deur te veel omdigting te verraai nie.

Verder moet mens nie vergeet dat Houellebecq hom juis daarin verkneukel om plat, kras woorde in sy gedigte in te gooi nie, juis om die spanning tussen die eteriese en die abjekte in die sy verse te laat uitspeel. Dit gee soms ’n sterk wisseling in register aan sy tekste. Die belofte van vloeiende poësie word as’t ware ondermyn deur platvloerse banaliteite wat nie weggedig kan word in ’n vertaling nie.

Die versameling gedigte in Tussen die abjekte en die eteriese laat die leser van Afrikaans toe in die intieme binneruimte van Michel Houellebecq met sy gevoel van ontgogeling en diepe mishae in die lewe, asook sy weemoedige versugting na iets beter, na liefde wat in meer as net vervlietende oomblikke belewe kan word. Soos in die geval van sy 19de-eeuse voorgangers Verlaine, Baudelaire en Rimbaud word die affektiewe aard van sy verse dikwels deur die gebruik van natuurbeelde gesuggereer.

Die reis is egter nie net innerlik nie. Die strategie van veruitheemsing sleur die leser mee na Franse landskappe en eietydse stedelike realiteite, na ’n samelewing waar die kunstenaar as seismograaf van die lewe hom verset teen die kommodifisering van menswees, na ’n Eerste Wêreld wat allermins deur die digter as eersteklas beleef word.

Daar bestaan weinig of geen vertalings van ekstreem-kontemporêre Franse poësie in Afrikaans nie en in hierdie opsig kan hierdie bydrae van Henning Pieterse nie onderskat word nie.

* Elisabeth Snyman is ’n afgetrede professor in Frans en navorsingsgenoot aan die Noordwes-Universiteit se Skool vir Tale (Potchefstroomkampus).

[1] Le Figaro. 17/02/2016. Michel Houellebecq est l’auteur le plus lu en France en 2015. http://www.lefigaro.fr/culture/2016/02/17/03004-20160217ARTFIG00026-michel-houellebecq-est-l-auteur-francais-le-plus-lu-en-2015.php (17 Oktober 2018 geraadpleeg).

[2] Sexton, David. 12/01/2017. Unreconciled: Poems 1991–2013. Poems by Michel Houellebecq – review. https://www.standard.co.uk/lifestyle/books/unreconciled-poems-19912013-by-michel-houellebecq-review-a3438966.html (17 Oktober 2018 geraadpleeg).

[3] Houellebecq, Michel. 2012. Tagtig gedigte en twee essays. Michel Houellebecq. Pretoria: Hond.

[4] Verinheemsing en veruitheemsing verwys na die terme domestication en foreignisation soos deur die vertaalteoretikus Lawrence Venuti uiteengesit.

[5] Hambidge, Joan. 2018. Vertaling tussen die verhewe en die verwerplike. Beeld, 25 Junie 2018, bl 7.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top