Saterdagmiddag 14:00 vertrek ons uit Stellenbosch. Ek trek weg uit my tydelike woning, na ’n nóg meer tydelike kamer in Kaapstad. En my reisgenoot – Ewig Fouché, lid van die Afrikaanse postapokaliptiese band die Skynmaagde, vervoer klanktoerusting en stoele vir die aand se huiskonsert in Woodstock. Die kar waarmee ons ry is tot die nate toe volgepak met al my boeke, lêers en fragmente van my skripsie en Ewig se klankbokse, viool, sokkies, vuil koffiekoppies en ’n stoel wat hy ewe behendig op die dak monteer het. Met ratelende stoel op die dak en ’n groot pot sop vir die aand se konsert op my skoot vertrek ons na die stad van boemelaars, hipsters en Duitse toeriste.

Ek het die afgelope paar jaar al vele suksesvolle huiskonserte in laasgenoemde stad (wat ons eindbestemming was), bygewoon. En Saterdagaand se konsert was beslis geen uitsondering nie. Ewig se ouer broer se huis in Woodstock – kompleet met balkondek, tuin met varsgeplante fynbos, en boerewors wat op die kole braai – was die ideale plek. Hier kon mens nuwe mense leer ken, op intieme wyse na liedjies met besonder bisarre lirieke luister, en self saam met die kunstenaars ’n glasie klink en oor iets so absurd soos dolfynmelk filosofeer.
Dit het my laat dink aan die verskynsel (’n toenemend meer gewilde tydverdryf in Kaapstad) van die huiskonsert, en ek het bietjie gaan rondkrap op die internet.
Skynbaar het die moderne huiskonsert ’n lang nalatenskap. In die tydperk van die Barok en die Renaissance in die 16de eeu was alle sekulêre musiek in ’n kamer (maar die Engelse woord chamber sê soveel meer) van ’n herehuis gehou – vandaar die naam kamermusiek of chamber music. Blykbaar is daar eers in die tyd van Beethoven en daarná konsertsale spesiaal vir openbare vertonings gebou. Verder het folk-musiek, country, blues en jazz ontstaan uit die tradisie om in huise vir kleiner gehore te speel.
Vandag het ek op ’n wonderlike kortverhaal van Walter Ballenger (“When the saints go marching in”) afgekom. Dit gaan oor ’n groep jong jazz-musikante wat in ’n herehuis in Ohio in Amerika huiskonserte organiseer en hierdeur die rus en vrede op die dorpie Worden versteur. In ’n neutedop vertel dit hoe die ouens die intieme ruimte van die huiskonsert na die strate van die dorp neem. Met sleng skets die verteller die amok – maar ook ekstase – wat die paar vriende in die dorp saai.
Wat my interesseer van die idee van ’n huiskonsert, is juis die wisselwerking tussen die kultuur en musiek van die stad en die private ruimte van die huis. Die Skynmaagde het byvoorbeeld Saterdagaand kommentaar gelewer op die bisarre politiek van ons land, die departement van gesondheid en ons vriend die President, met bypassende bisarre beelde (wat juis iets soos appels met dolfynmelk verbind) – binne ’n private, veilige en alledaagse middelklas huis. Die skrynende kontras van die idee van “huis” wat ek met gemak, sekuriteit en familie verbind, teenoor die Skynmaagde se lirieke wat byvoorbeeld ’n siniese blik op die liefde en die getroude lewe bied, was besonder verfrissend. Ons middelklassers skyn onskuldig te wees. Maar die musiek van Saterdagaand het daardie skyn (van onskuld) wat agter ons beskutte huisies skuil, kom oopvlek. Hoewel ek net tydelik in Kaapstad is, voel ek ná Saterdagaand tuis.
• Hierdie heerlike blues-liedjie van Fats Waller, “The joint is jumping", maak my uitbundig oor die idee van ’n huiskonsert.
• Vriende van my het ’n paar jaar gelede ’n baie belowende niewins-organisasie in Kaapstad begin: city soireé. Hulle brei die informele aard en intieme atmosfeer van ’n huiskonsert uit na verskillende meer publieke venues in die stad. As jy in Kaapstad woon, hou hulle dop!
• Indien jy sélf ’n huiskonsert wil hou, bied die internet raad: hier en ook hier.
• ’n Goeie webblad met artikels, onderhoude en essays nét oor die fenomeen van die huiskonsert, is houseshowszine
Beplan dus julle konserte!
Rentia
Alle foto’s is geneem deur Malherbe Pelser en kan gevind word op die city soireé website.

