Tsaar Nikolaas II – God is met ons!

  • 0

Tsaar Nikolaas II, 1912 (Foto via WikiMedia)

Tsaar Nikolaas II en sy gesin se moord in die donker nag van 16–17 Julie 1918 is steeds ’n oop wond 100 jaar later in die geheue van Ortodokse Rusland en menige ander Christen. Die laaste tsaar, sy vrou Aleksandra, hulle vier dogters en jong seun Aleksei, is saam met ’n paar getroue bediendes in die kelder van die Ipatief-huis deur Bolsjewiste doodgeskiet. 

Vir die Kerk is hulle lydensdraers – heilige koninklike martelare wie se stil volharding in Christus God se eie lyding vir ons weerspieël. Hulle dood het drie eeue van Romanof-heerskappy afgesluit, maar in die oë van baie gelowiges het die bloed wat daardie nag gevloei het, ’n saad van toekomstige herlewing geword.

Die Russies-Ortodokse Kerk Buite Rusland het die Romanofs reeds in 1981 as nuwe martelare heilig verklaar. Die Moskou-patriargaat het hulle in 2000 as lydensdraers heilig verklaar. In die Ortodokse tradisie is die bloed van martelare en lydensdraers saad van die Kerk. 

Emigré- en konserwatiewe Ortodokses het die teregstelling as ’n heilige bloedoffer vir die kollektiewe sonde van die Russiese volk verklaar, vir ’n volk wat tot wedergeboorte moes kom. Ná 1991 is die herlewing van die Kerk, die herbou van kerke – veral die Kerk op die Bloed in Jekaterinburg – en die openbare verering van die koninklike martelare gereeld in juis hierdie taal geformuleer: Hulle lyding as reinigende saad vir die geestelike opstanding van die volk. Dit is die vroomheid van baie gelowiges, nie die amptelike standpunt van die hele Kerk nie, maar dit is hoe hulle self die gebeurtenis sien en verwoord.

Die Sowjet-volkslied basuin vandag uit volle bors van ’n moederland “vir ewig verenig in vriendskap en arbeid”, gebou deur die hand van die volk en sterk deur die storm. Daardie visie het uit dieselfde omwenteling gekom wat die tsaar se lewe geneem het. 

Vir sommige was die teregstelling ’n harde breuk met ’n mislukte outokrasie sodat ’n nuwe orde gebore kon word. Vir ander, veral die Ortodokses, was dit die doelbewuste vernietiging van ’n Christelike gesin wat hul geloof uitgeleef het, hoe onvolmaak ook al. Hulle het volgens tradisionele rolle geleef: die tsaar as vader van die nasie, die tsarina as toegewyde vrou en moeder, hul kinders grootgemaak in vroomheid en wederkerige trou. 

Die gesin se laaste ure was verskriklik.

Die 1997-animasiefilm Anastasia is ’n ongelukkige, dog tipies Westerse misplaaste verwerking van hierdie verhaal. Hulle verdraai ’n nag van martelaarskap in ’n tekenprentavontuur met ’n tekenprentkurk, geheueverlies en ’n gelukkige hereniging iewers in Parys. Die werklike geestelike gewig – die stil moed van ’n Christelike huishouding wat saam die dood in die gesig staar – word vervang deur liedjie-en-dans-nonsens. Die film dryf los van die dieper strome wat nog steeds die Russiese geheue beweeg: die gevoel dat iets heiligs daardie nag gebreek is, en dat die nasie sedertdien daarvan genees.

Die opvallende getal Joodse name onder die vroeë Bolsjewistiese leierskap en in die plaaslike Sowjet wat die moorde uitgevoer het, staan vas in die geskiedenis. Die feit het nooit verdwyn nie. Historiese navorsing verduidelik dit meestal as die gevolg van stedelike geletterdheid, uitsluiting onder die ou Ryk, en die radikalisering van ’n generasie wat in die Tsaristiese tydperk min ander politieke uitweg gesien het.

Wat daarna vir Moeder Rusland gevolg het, is ’n lang les in oorlewing. Burgeroorlog, hongersnood, die doelbewuste oorlog teen die Kerk, die industriële stormloop, die ontsaglike opoffering van die Groot Vaderlandse Oorlog, die lang dekades van amptelike ateïsme, die skielike ineenstorting in 1991, en die stadige, onvolledige terugkeer van geloof en tradisionele gevoel in die jare sedertdien – dit alles vorm een deurlopende verhaal van ’n volk wat weier om te verdwyn. 

Die pyn van dié wat alles verloor het in die Rooi Terreur, en die pyn van Joodse families wat later onder dieselfde regime gely het, verdien almal om gehoor te word. Fiddler on the roof is ’n uitnemende uitdrukking van ons almal se stryd in die ewige politieke agenda van die maaiers wat nooit saai nie.

Geskiedenis laat altyd ruimte vir ongemak; dis nie nodig om elke ongemak dood te skreeu nie.

Die melodie van die ou Sowjet-volkslied is behou en nuwe woorde gegee; dieselfde land wat eens die Kruis verbied het, sien nou kerke wat herbou word, en die koninklike martelare word openlik vereer. Konserwatiewe gesinswaardes – die man as hoof, die vrou as hart van die huis, kinders grootgemaak om God en ouers te eer – het nooit heeltemal gesterf nie.

Die saad in ons harte het ondergronds gewag en groei weer – nes die fynbos in ’n verskroeide veld!

Daar is duidelike parallelle vir ons vandag. Nasies wat die heiligheid van die gesin vergeet, wat geloof as opsionele versiering behandel, wat toelaat dat wortellose elites die geskiedenis herskryf en grense oplos, staar uiteindelik dieselfde leegheid in die gesig wat eens Rusland agtervolg het. 

Die Russiese ervaring wys dat ’n volk deur ateïsme, massadood en ideologiese eksperiment kan gaan en tog die ouer patroon van lewe kan herontdek: geordende rolle binne die huishouding, trou aan die land, en die besef dat lyding aangebied eerder as net verduur kan word. 

Die koninklike martelare het nie die Ryk gered nie, maar hulle stil getrouheid bly steeds die saad wat oorleef te midde van al die oorlog en chaos. Dit is die lewende erfenis – nie ’n feëverhaalprinses nie, nie ’n perfekte ideologie nie, maar ’n hardnekkige wil om as ’n volk gehoorsaam aan God te leef.

Ek deel graag hierdie besonderse weergawe van Rusland se volkslied en sien in my geestesoog hoe Sy Eksellensie Wladimir Poetin, president van die Russiese Federasie, die wit-blou-rooi salueer!

Mag Jesus Christus onse Here Nikolaas II en sy gesin se siele genadig wees. 

С нами Бог!

Cornelius Henn 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top