Tryna du Toit (1910–2005)

  • 0
Foto: Wikipedia (openbare domein)

Sêgoed van Tryna du Toit

“Ek kry my stories oral. In ’n koerant sien jy ’n berig en jy begin dink daar sit ’n storie agter. Die mans praat iets, jy hoor van ’n geval soos destyds met Groen koring. Ek het gehoor van goeie vriende se dogter (wat in die moeilikheid beland het). Dan begin jy dink, die implikasies om só ’n ding in die familie te hê en dan begin jou boek.” (Beeld, 10 Desember 1990)

Oor haar gewildheid as skrywer: “Ek was maar net gelukkig. Toe ek begin skryf het, was daar ’n groot behoefte aan ontvlugtingslektuur. Die mense was so moeg vir boeke oor droogtes, ellendes en agterlike, plattelandse tipes. Die tyd was ryp vir helde en heldinne wat omgewe was van ’n bietjie glans, ’n bietjie optimisme, karakters met wie hulle hulle kon vereenselwig.” (Rooi Rose, 1 Januarie 1992)

Vir wie skryf sy? “Ek het nie ’n spesifieke gehoor in gedagte nie. Ek skryf net my storie.” (Beeld, 10 Desember 1990)

Hoekom het haar boeke so gewild gebly? “Ek weet werklik nie. Met alles wat op TV en in die koerante aangebied word, al die geweld, begryp ek dit nie. My boekies is so onskuldig as ’n mens kyk na seks wat vandag alles domineer. Ek bly net dankbaar as oud en jonk vir my vertel hoe hulle my stories geniet.” (Beeld, 10 Desember 1990)

Hoe skryf sy? “Moeilik. Uiters moeilik. En dit gaan maar beroerd stadig. Daarom gaan loop ek soggens draaie; pluk blomme, soek die loerie wat so roep; drink tee. Enigiets om tog net ’n bietjie uitstel te kry. Jy sien, as ek eers aan die werk is, dan werk ek aanmekaar.” (Die Vaderland, 16 Augustus 1975)

“Ek dink nie ek was so danig romanties in die sin van drome oor galante jong mans en skone vroue nie. Maar ek kan mos my verbeelding laat werk. Ek kan mos skryf. En toe het ek probeer. Maar ek hou nie van ’n mooi man nie. Hy moet karakter en charisma hê.” (Sarie, 6 Februarie 1991)

Oor moderne Afrikaanse boeke: “Van sommige het ek gehou, ander het ek nie so goed verstaan nie. Maar ek glo dat elke skrywer sy eie gehoor en sy eie storie kies. En as jy in ’n glashuis woon, gooi jy nie klippe nie.” (Beeld, 10 Desember 1990)

“Ek het altyd geglo die lewe is jou niks verskuldig nie, jy moet werk vir wat jy wil hê. Of dit in jou loopbaan is, jou vriende, huwelik. Hoe meer jy daarin sit, hoe groter is die dividende.” (Beeld, 7 Desember 1991)

Hoeveel van háár is in haar stories? “Dis moeilik om te sê. ’n Mens se eie ervarings, lewensbeskouing, mensekennis, stampe en stote – dit kan jy tog nie uit jou stories hou nie. Maar dis onbewus. Die karakters kies hul eie koers.” (Sarie, 6 Februarie 1991)

Hoogtepunte in haar lewe: “Elke kind se geboorte was ’n hoogtepunt. Elke boek wat verskyn het. Vandag is dit vir my ’n hoogtepunt, om nog op hierdie leeftyd (in 1991) ’n boek van die pers af te kan ontvang. Een van die gelukkigste oomblikke in my lewe was toe my man baie siek in die hospitaal was en daardie dag toe ek hom kon huis toe bring. Om nog vir ’n rukkie saam met hom te kon lewe. Ek bly maar glo in die liefde. Ons skuil mos maar by mekaar.” (Sarie, 6 Februarie 1991)

Die grootste invloede in haar lewe: “My hele lewe, die skole waarin ek was, my huwelik, die wonderlike man wat ek getrou het. Dit alles help jou slyp en groei en jou belangstelling in die lewe, dat jy in alles belangstel, weetgierig is en soekend bly. Dit alles help jou vorm in die lewe.” (Beeld, 7 Desember 1991)

“Die genot, die vreugde en die opwinding wat my skryfwerk my deur die jare verskaf het, glo ek, het sy begin in die betowerende ure wat ons om die kaggelvuur na my vader se vertellings geluister het.” (Die Vaderland, datum onduidelik)

“My resep vir ’n geslaagde skrywersloopbaan is toewyding en roetine. ’n Mens moenie wag vir inspirasie nie. As jy sit en skryf, kom die inspirasie vanself.” (Transvaler, 8 Maart 1993)

“My skryfwerk het my lewe vol en interessant gemaak. My skryfjare was vir my werklik ’n vreugde.” (Taalgenoot, September 1998)

Gebore en getoë

Catherina Charlotte du Toit (die oudste van vyf kinders) is op 13 Januarie 1910 op die Karoodorp De Aar gebore, waar, soos sy aan Annette Jordaan (Stilet, Maart 1997) gesê het, “die aandblomme tussen die klipkoppies groei”. Sy was ’n boeredogter grootgemaak volgens ou Afrikaner-ideale van Christelike eerlikheid, opregtheid, hardwerkendheid en toewyding.

Tryna was ook ’n skrander en nuuskierige meisie wat haar kon uitleef in die goed-toegeruste biblioteek op De Aar: “Haar gees is gevoed deur ’n kennismaking met ou klassieke werke, waarvan Jane Austen se Pride and prejudice altyd een van die gunstelinge gebly het. Terselfdertyd het dit haar getref dat daar so min goeie boeke in Afrikaans was.”

In haar gesprek met Annette Jordaan het sy Die tweede Grieta en Johannes van Wyk van JHH de Waal uitgewys as van die min Afrikaanse boeke in die biblioteek. Reeds tóé het die idee ontstaan om eendag ook vir jongmense Afrikaanse boeke te skryf. Sy het egter saam met haar seunsmaats al die Wilde Weste-boeke ook gelees.

In haar jeugjare het die gesin gereeld in die Strand vakansie gehou. Sy vertel aan Una Nieuwoudt in Sarie van 3 Januarie 1996: “As die trein op die stasie stilgehou het, is skoene en kouse uit, en daar gaan ons! See toe. Om ’n halfuur later druipnat terug te keer na die huisie waarheen ons elke jaar terugkeer: die huisie by die see. Gelukkige, sorgelose dae van stap, swem en eet. Sandkastele bou en grootoog kyk hoe die inkomende gety hulle weer afbreek.

“Saam met Pa die vissersbootjies inwag om die dag se vangs te aanskou, te luister na die vissermanne se skilderagtige taal en self trots huis toe te stap met ’n bossie glimmende visse vir ons volgende maaltyd.

“Dit was die patroon van ons dae. Daar het met die jare ander strande ook gekom, maar die Strand bly onvergeetlik.”

As kinders het hulle winteraande om die kaggelvuur gesit en het hulle vader vir hulle stories vertel, het sy aan Jaap Swanepoel in Die Vaderland vertel. “Staaltjies uit die dae toe hy en sy broer as jong seuns met die vee getrek het en snags onder die sterre geslaap het, terwyl die leeus digby brul en die jakkalse huil of vreemde dwaalligte onder in die vlaktes deursweef en die honde tjankend die wa bestorm.

“Heerlike spookstories. Stories van Jakkals en Wolf. Die verhaal van Smartryk waaroor ons so bitterlik gehuil het en wat ek later as een van die Ryn-legendes herontdek het. So is my liefde vir ‘stories’ gebore. ’n Liefde wat my die res van my lewe bygebly het.”

As skooldogter het sy ’n dagboek gehou en dit was ’n trotse oomblik toe die skoolhoof eendag haar opstel vir die klas voorgelees het. (Die Vaderland, datum onduidelik)

Sy het op De Aar gematrikuleer.

Verdere studie en werk

Ná matriek is Tryna na die Onderwysopleidingskollege op Wellington in die Wes-Kaap, waar sy haar as onderwyseres bekwaam het. Sy was daarna vir drie jaar onderwyseres, onder andere op Burgersdorp. Op daardie stadium was daar reeds ’n verstandhouding met Wilbert Kotzenberg, vir wie sy leer ken het toe hy op De Aar gewerk het. In 1932, toe Tryna maar 22 jaar oud was, is sy en Wilbert getroud en het haar lewe in Pretoria begin waar sy meer as 70 jaar gewoon het.

Haar man was ’n gesiene staatsamptenaar wat dikwels moes reis, ook oorsee, maar wat terselfdertyd intens in haar werk belanggestel het en al haar boeke voor publikasie gelees het. Hy is egter reeds in 1973 oorlede. Drie kinders is uit die huwelik gebore: Wilhelm, Anna en Gustav. Die seuns was albei mediese dokters, maar die oudste, Wilhelm, en hul enigste dogter, Anna, is ook oorlede. In 1997 het Tryna nege kleinkinders gehad en een agterkleindogter.

Tryna het aan Die Vaderland (16 Augustus 1975) vertel: “En een ding is seker, my nege kleinkinders het werklik rigting en dimensie aan my lewe gegee. Ek vind veral dat om die goeie verhouding met my kinders en kleinkinders te behou, moet ek op my eie voete staan en my eie lewe so vol en interessant probeer maak.”

Sy was lewenslange lid van die Afrikaanse Skrywerskring van Pretoria en ook baie jare lid van die moedertak van die Afrikaans-Hollandse Leesunie. In 1950 is sy aangestel as assistentsekretaris van onderwys in die destydse Transvaal en was ook ’n ywerige lid van die Vrouefederasie.

Tryna het haar eerste boek in Engels geskryf en dit voorgelê aan ’n uitgewer, wat haar laat weet het dat die boek heeltemal geskik is vir publikasie, maar ongelukkig ’n te klein leserskring sou hê. Daarna het sy die boek in Afrikaans vertaal. Sy was later baie bly dat sy dit gedoen het, want dit was die oorsaak dat sy in Afrikaanse begin skryf het, het sy aan Tys van der Vyver vertel. Hierdie vertaling is later gepubliseer as Wag-’n-Bietjie, wat later deel van die Bolander-trilogie was. Dit is ook een van haar boeke wat haar die naaste aan die hart gelê het, want “ek het lekker daaraan geskryf en dit handel oor die wêreld waar ek grootgeword het”.

Sy het haar verhale alles met die hand begin skryf en dan getik. “Hierna lees my man en ek dit saam, ons maak foute reg en dan stuur ek die manuskrip na iemand om dit te laat tik.” Soms het haar man van haar boeke kwaai gekritiseer en dan het “ons glad rusie daaroor”.

Tryna het altyd belanggestel in skryf: benewens dat sy ’n dagboek gehou het, het sy artikels vir koerante geskryf en so meer. Sy het egter eers na haar huwelik ernstig begin skryf. Haar eerste boek, Die Bolander, die eerste boek in ’n trilogie met dieselfde naam, het sy vir ’n romanwedstryd van Afrikaanse Pers geskryf. Dit was een van die boeke wat gekies is om gepubliseer te word.

Dit was die begin van haar baie produktiewe skrywersloopbaan. Talle van Tryna se verhale en novelles het as vervolgverhale in tydskrifte soos (en veral) Sarie verskyn. Die vervolgverhale is later in boekvorm uitgegee, onder andere Die wit magnolia en Rooi malvas. In die destydse Sarie Marais van 28 September 1949 was haar novelle Ou liefde die novelle van die week. In die heel eerste nommer van Sarie het haar kortverhaal “Maanlig op die Sabie” verskyn. Tryna se verbintenis met Sarie het dus ’n lang pad gekom.

Die meeste van die verhale is deur Tryna self vir die radio verwerk. Sy het erken dat sy baie lief is vir dialoog en die radioverwerkings baie geniet het. Hulle was ook baie gewild by die luisteraars.

Tryna was ’n baie beskeie mens en het altyd verwys na “my verhaaltjies” of “my boekies”, maar daar was talryke briewe van waarderende lesers en dit was duidelik dat haar boeke verkoop het én gelees is. Veral die Bolander-trilogie en Groen koring het talle herdrukke beleef. Human & Rousseau het ook al haar ander werk in die vorm van omnibusse herdruk en met die verskyning van die twaalfde omnibus was al die boeke reeds herdruk.

’n Besonderse bekroning was die prestige-toekenning in 1992 van die ATKV-dames in die vorm van ’n beeldjie wat erkenning gegee het aan haar “besondere skryfstyl en diens betoon aan die Afrikaanse samelewing”. (Rooi Rose, 1 Januarie 1992)

Die skryfwerk het nogal baie van Tryna geverg. Veral die later jare was dit nie vir haar so maklik soos die beginjare nie. “Ek skryf die hele boek met my hand. Ek sien dit na, dan tik ek hom self met twee vingers oor, sien hom weer na en dan stuur ek dit na ’n tikster om dit finaal te tik voordat ek dit na die uitgewer stuur. Dit neem ’n tyd in vergelyking met vandag se rekenaars en woordverwerkers. Ek kan net my kop skud. Ek het dit so bietjie probeer, maar toe was ek al besig met Net soos ’n arend.”

Annette Jordaan skryf in Stilet (Maart 1997) dat daar in haar studie van Tryna du Toit se werk baie interessante kultuur-historiese gegewens gevind kan word. “Haar boeke beeld ’n hele tydperk in die bestaan van die Afrikanervolk uit. Karakters soos Ampie en Meraai is kosbaar en neem ’n besonderse plek in die Afrikaanse letterkunde in. Maar tog sien ons in Tryna se werk ’n nuwe geslag Afrikaners raak, naamlik dié van die 1940’s en daarna. Hierdie mense in haar vroeër romans is skielik nie meer agter by hulle Engelse tydgenote nie. Hulle is geleerde, ontwikkelde en talentvolle mense: mediese dokters, advokate, skoolhoofde, dosente, joernaliste, kunstenaars, tennisspelers wat tot op Wimbledon se hoofbaan vorder, en so meer. En met Die nuwe dokter is daar selfs ’n meisie wat ’n gekwalifiseerde mediese dokter is. Dis ’n welvarende middelklas wat hulself ook in die groot stede baie goed kan handhaaf.

“Daar is wel nog karakters wat uit die pen van die ‘boeredogter’ kom wat hulle diep verbondenheid met die bodem behou. Die bekende Die Bolander-trilogie se mense is skaapboere in die Karoo; die Bassons van Kleingeluk is druiweboere in die Boland; Buks Veldman in As jy my nodig het is ’n gekwalifiseerde veearts wat die liefde vir die grond geërf het en ’n stukkie Laeveld gaan ‘mak maak’ en opbou tot ’n pragtige sitrusplaas – om maar enkeles te noem. Maar ook die boere het nou dikwels universiteitsopleiding en boer wetenskaplik.”

Jordaan het aanvanklik gemeen dat hierdie interessante nuwe geslag Afrikaners half toevallig, op grond van Tryna se eie ervaringswêreld, ontstaan het. Maar ná sy ’n onderhoud met Tryna in Rooi Rose van 1 Januarie 1992 gelees het, het sy besef dat die skrywer haar karakters doelbewus so ingeklee het.

“Met die beskrywing van die plaas- en plattelandse milieu teenoor dié van die stad kom daar ook slim kontraste na vore: dikwels word die ou, suiwer waardes soos eerlikheid, gasvryheid en ongekunsteldheid opgeweeg teen die dikwels meer kunsmatige lewe tussen die blink ligte en die versoekings wat dit op die pad van die jongmens bring,” skryf Jordaan. “Daar is ook dikwels ’n fyn spot met die ‘niets word iets’-mense wat skielik neersien op ander wat minder geleerd of welgesteld is.

“Een van die besondere vermoëns van Tryna du Toit is om die goeie waardes uit te lig en aan te prys sonder dat daar ooit ’n prekerige toon in haar werk is. Die onderliggende boodskap bly egter steeds dat karakter en inbors altyd belangriker bly as wêreldsgoed.”

Vir Jordaan is een van Tryna se heerlikste boeke Wag-’n-Bietjie. “Dit vertel die verhaal van die testament van tant Katrien waarvolgens haar halfbroer se kind Magrieta £7 000 erf, Kosie, Magrieta se broer, die familieplaas Eendekuil, en Barry Retief, ’n jong kennis van Katrien, ’n stuk grond van 800 morg wat aan sy eie plaas grens en waarop hy ’n dam wil bou. Al drie die erflatings is egter net geldig indien Barry en Magrieta binne sewe dae na die bekendmaking van die testament met mekaar trou en vir ses maande as man en vrou op Wag-’n-Bietjie bly.

“Na druk van haar broer stem Magriet in en die uiteinde is natuurlik dat Barry en Magriet so verlief raak op mekaar dat daar later geen sprake van ’n egskeiding is nie. Vir Jordaan is die inkleding van die verhaal meesterlik: die twee hoofkarakters se hewige rusies enersyds, maar hulle toenemende betrokkenheid by mekaar andersyds; die geloofwaardigheid van die milieu en die feite oor die Karoo en dié rondom skaapboerdery; die humor en raak dialoog – al dié dinge help om Wag-’n-Bietjie ’n nommer 1-treffer in die Afrikaanse populêre romankuns te maak.

“Van die ander geheime van Tryna du Toit se trefkrag is die egtheid en spontaniteit in haar verhaalkuns wat geloofwaardigheid in die hand werk. ’n Belangrike aspek van die geloofwaardigheid is haar deeglike kennis van, of so nie, haar grondige navorsing oor, haar agtergrond. In Wag-’n-Bietjie het sy haar so deeglik van haar taak gekwyt dat van die mans in hulle vriendekring wat daar geboer het, gesê het hulle wil net eers weer bietjie in Tryna du Toit gaan lees hoe hulle nou verder moet boer! Ook die karakterontplooiing is eg en geloofwaardig.

“Van haar ander geheime is die fyn humor, die tong-in-die-kies opmerkings waarmee sy die ernstiger en meer intense oomblikke in haar romans afwissel en balanseer.

“Maar die belangrikste deel van haar boeke is die liefdesaspek daarin, en daarom bly die hoofbestanddeel van haar werk en sekerlik ook die rede vir haar blywende gewildheid oor al die jare heen, die onbevange en onverbloemde romantiek van haar verhale.”

Tryna se laaste roman, Net soos ’n arend, het in 1990 verskyn toe sy reeds 80 was. Soos sy self dit gestel het, is dit ’n moderne Groen koring. Almal ken die storie van Debbie, jonk en onskuldig, wat verlief raak op Paul Hugo, ’n mediese student, en swanger raak. Hulle kan nie trou nie, omdat Debbie minderjarig is, en die baba word aangeneem. Sewe jaar later keer Paul uit die buiteland terug en werk weer in Pretoria, waar Debbie woon. Paul maak weer vir Debbie die hof, en ten spyte van sy moeder se besware, trou die twee. In die opvolg, Goue gerf, word die storie vertel van Debbie en Paul se dogter, Elizabeth, waarin sy deur die bemiddeling van Paul se moeder herenig raak met haar ouers.

Groen koring, sekerlik een van Tryna se bekendste en gewildste boeke, het reeds in 1948 verskyn. Dit is later deur Jamie Uys verfilm onder die titel Debbie, en die film het groot opspraak gewek toe dit vyf dae lank verban is. Dit is egter vir vertoning goedgekeur nadat ooreengekom is dat dit nie aan “kinders onder 21 gewys mag word nie” en dit terwyl die meisie wat die hoofrol in die film vertolk het, nog nie 21 was nie!

Die feit dat Groen koring verfilm sou word, was vir Tryna ’n groot verrassing. Die hoofrolle is vertolk deur Suzanne van Oudtshoorn en Leon le Roux. Tryna het nie self die draaiboek van film geskryf nie. Die verhoogverwerking is deur Johann van Jaarsveld geskryf en Fanus Rautenbach en Gilbert Gibson geskryf.

Tryna het in 1991 aan IL de Villiers (Sarie, 6 Februarie) vertel dat die verfilming van Groen koring vir haar ’n gelukkige tyd was: “Selfs die hele polemiek wat daarmee saamgegaan het. My kinders wil hulle nou doodlag daaroor – dat die hele kwessie van buite-egtelikheid te ‘gevaarlik’ was. Vandag is dit natuurlik flou tee teen wat alles verfilm word.”

Aan Elise Keyter het sy vertel dat die hoogtepunt van die hele Groen koring-polemiek nie die film was nie, maar wel die aand in Mei 1965 toe dit in ’n volgepakte Aula-teater in Pretoria opgevoer is. (Taalgenoot, September 1998)

Annette Jordaan skryf in haar huldeblyk aan Tryna du Toit (Stilet, Maart 1997) oor sommige van Tryna se boeke: In Net soos ’n arend raak Amy, wat by ’n klein uitgewery werk waar sy manuskripte keur en kinderboeke illustreer, verlief op Adam Foster, ’n briljante joernalis, en die twee gaan gereeld uit. Ná ’n naweek in Hermanus raak Amy swanger. Adam verwyt vir Amy en ontken vaderskap. Hy stel dit duidelik dat liefde en die moontlikheid van ’n huwelik nooit deel van hulle verhouding was nie. Wanneer hy vir Amy ’n groot bedrag geld aanbied, weier sy en dreig om vir Adam se geliefde ouma te vertel. Ná die geboorte van die baba hou sy die baba en besluit, na steun van haar tante, om die baba self groot te maak.

Jordaan skryf voorts: “Uit hierdie gegewens kan ’n mens al aflei hoe die gemeenskap se siening van ’n buite-egtelike swangerskap in die 40 jaar wat tussen die twee verhale verloop het, verander het. Dit word makliker aanvaar en is nie meer ’n onnoembare skande nie. Enkel-ma’s is ook nie ongewoon nie, hoewel dit vir Amy ’n moeilike en eensame pad is. Nadat Adam van een van sy sendings oorsee terugkeer, dring Amy aan op ’n vaderskaptoets, sodat sy vir haar seun sou kon vertel wie en wat sy pa is as hy daarop sou aandring. Toe die toets positief is, raak Adam teen sy beterwete al hoe meer betrokke by Amy en Michael se lewens. Hy vra Amy om te trou, maar sy vertrou hom nie en wys die aansoek van die hand. Adam gaan na Tel Aviv op nog ’n sending, word gewond en keer terug na Suid-Afrika, waar hy vir sy ouma die hele storie vertel. Deur haar bemiddeling kom hy en Amy by mekaar uit en ‘eind goed, alles goed’, nes vir Paul en Debbie.”

Resensies oor Tryna se werk, ook dié wat oor haar omnibusse verskyn het, is ongekwalifiseerd positief. Daar is beskrywings soos: “’n verhaal van die lewe self”; “steeds een van die gewildste romanskrywers in Afrikaans”; “’n heerlike boek om te lees en ’n aanwins vir enige boekrak”; “Tryna du Toit [...] is steeds in aanvraag”; “’n boeiende liefdesverhaal van formaat”; “die geliefde skryfster”; ensovoorts. (Stilet, Maart 1997)

In ’n onderhoud met Tryna in Sarie van 6 Februarie 1991 het Izak de Villiers haar gevra of dit die liefdesverhale is wat haar so jonk hou. Haar reaksie: “Ek dink as ’n mens geseën is met goeie gesondheid – en dis louter genade uit die Skepper se hand – is die geheim dat jy moet besig bly. Jou program moet altyd lekker vol wees. En jy moet ook nie sit en wag om gevra te word om iets te doen nie. Gaan sit of gaan uit en doen dit self. Maar om net te sit. En te dink en te dink. Jouself in die hartseer in! O nee. Jy moet met mense meng en deur al hul bedrywighede gestimuleer word.”

Tryna du Toit is op 16 Oktober 2005 op 95-jarige ouderdom in Pretoria oorlede. Sy het na haar aftrede in die Fleurenville-aftreeoord in Arcadia gewoon en was die laaste jaar voor haar afsterwe in ’n koma nadat haar been weens gangreen afgesit is. Haar enigste oorlewende kind, Gustav Kotzenberg, ’n afgetrede dokter van Durban, het genoem dat sy ma die paar jaar voor haar dood baie agteruitgegaan het en al hoe minder gekommunikeer het.

Huldeblyke:

  • Helene de Kock, skrywer: “Enige veertig-plusser wat ontken dat sy (of hy) Tryna du Toit gelees én geniet het, kan as hoogs pretensieus beskuldig word. Tryna was nooit pretensieus nie. Sy wou bloot stories vertel, verhale van mense se lief en leed; en sy het dit goed en smaakvol gedoen. Haar bekende Bolander-trilogie en die roman Wag-’n-Bietjieis onvergeetlik. Natuurlik moet ’n mens in ag neem dat sy in daardie tyd in haar spesifieke genre uitgeblink het. Sy het ontspanningsromans geskryf wat vandag nog gereken word as werk van goeie gehalte.

“Sy het haar lesers meegevoer en gevoed met stewige leeskos, romans vol karakters wat oortuig, en wat afspeel in ruimtes wat bekoor – in ’n tyd toe leesstof van só ’n kwaliteit in daardie genre taamlik skaars was. Haar heengaan is bepaald ’n verlies vir enige leser van goed geskrewe ontspanningsromans. Sy was ’n kind van haar tyd en haar verhale sal heel moontlik vandag as oudmodies bestempel word, aangesien sommige moderne liefdesverhale heel anders daar uitsien. Tog dra haar werk steeds ’n onuitwisbare, ouwêreldse bekoring.

“Ek glo selfs die postmoderne lesers met hul wye smaak en groot keuse sal ’n lekker uur of wat verwyl met Tryna du Toit se ‘skoon’ stories, wat bevolk word deur herkenbare, gawe mense met wie ’n mens jou graag wil en kan vereenselwig. Tryna du Toit se bydrae tot die liefdesverhaalskat van Afrikaans mag nie onderskat word nie.” (Die Burger, 31 Oktober 2005)

  • Gustav Kotzenberg, haar seun: “As daar ooit ’n engel sonder vlerke was, dan was dit Tryna du Toit. Die wonderlikste, sagste mens met nooit ’n kwade woord nie.” (Rapport, 23 Oktober 2005)
  • IL de Villiers, skrywer: “’n ‘Grande dame’ wat aan derduisende lesers ure van vermaak besorg het en gelewe het volgens die reëls van wellewendheid en etiket wat ’n mens soms vir jouself laat skaam kry.” (Sarie, 6 Februarie 1991)
  • Gretel Wybenga, skrywer en letterkundige: “Die geheim van Tryna du Toit se gewildheid lê myns insiens juis in die onskuld, die ‘skoon’ boek, en in ’n sekere eerlikheid van die skryfster wat in die vertel van haar stories oorkom na haar lesers.” (Stilet, Maart 1997)

In Sarie (15 November 1978) het Tryna vertel dat sy soos haar ouma is: elke reis ’n vreugde. “My reis is reguit Vleesbaai toe. My suster-hulle het ’n vakansiehuisie daar; jy loop uit die erf uit op die see. Dis wat ek wil hê. Ek wil drie keer op ’n dag swem. Ek wil kaalvoet gaan loop met laagwater, so ver stap as wat ’n mens kan kom sonder om weg te raak. Dis dan dat die eenvoud van dinge weer terugkom in jou gedagtes. Jy spoel skoon, die see neem jou in, jy kry tyd om te dink. Ek stap daar elke oggend langs die see, en die blou dag lyk vir my of dit nooit gaan ophou nie. Die volslae vrede daarvan – as ek kon kies, sou ek eendag graag die ewigheid so tegemoet wou loop.”

Aan Izak de Villiers het Tryna (in die Sarie van 6 Februarie 1991) gesê dat sy net een woord as grafskrif wou hê en dit is die woord dankbaarheid. “Dankbaarheid vir ’n vol lewe. Ek het baie hartseer ook gehad, maar ’n wonderlike vol interessante, sinryke lewe.”

En dit is dieselfde woord wat lesers oor geslagte heen ook vir haar wil sê: “Baie dankie, Tryna du Toit.”

Publikasies:

Publikasie

Die Bolander

Publikasiedatum

  • 1946
  • 1968
  • 1989 (grootdruk)

ISBN

079592049X (hb)

Uitgewer

  • Johannesburg: Afrikaanse Persboekhandel
  • Kaapstad: Human & Rousseau
  • Pretoria: Daan Retief

Literêre vorm

Liefdesverhale

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • Van der Merwe, Gerjo: Die Bolander. Ons Eie Boek, Maart 1947
  • Vulpen: Die Bolander. Taalgenoot, November 1946

 

Publikasie

Wag-’n-Bietjie

Publikasiedatum

  • 1946
  • 1947
  • 1950
  • 1955
  • 1968
  • 1990 (grootdruk)

ISBN

0795921497 (hb)

Uitgewer

  • Johannesburg: Afrikaanse Persboekhandel
  • Kaapstad: Human & Rousseau
  • Pretoria: Daan Retief

Literêre vorm

Liefdesverhale

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • Vulpen: Wag-’n-Bietjie. Taalgenoot, April 1947

 

Publikasie

Groen koring

Publikasiedatum

  • 1948
  • 1949
  • 1950
  • 1957
  • 1984 (grootdruk)

ISBN

0795902794 (hb)

Uitgewer

  • Johannesburg: Afrikaanse Persboekhandel
  • Pretoria: Daan Retief

Literêre vorm

Liefdesverhale

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • Kok, B: Groen koring. Huisgenoot, 30 Julie 1948
  • Van der Walt, PD: Groen koring. Taalgenoot, Oktober 1965

 

Publikasie

Eendekuil

Publikasiedatum

  • 1948
  • 1951
  • 1968
  • 1971
  • 1990 (grootdruk)

ISBN

0795923295 (hb)

Uitgewer

  • Johannesburg: Afrikaanse Persboekhandel
  • Kaapstad: Human & Rousseau
  • Kaapstad: Bokmakierie-Boeke
  • Pretoria: Daan Retief

Literêre vorm

Liefdesverhale

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • Eendekuil. Unie, Julie 1950
  • Vulpen: Eendekuil. Taalgenoot, Desember 1948

 

Publikasie

Die helder lied

Publikasiedatum

  • 1948
  • 1958
  • 1975
  • 1988 (grootdruk)

ISBN

  • 0628008228 (hb)
  • 079591444X (hb)

Uitgewer

  • Johannesburg: Voortrekkerpers
  • Johannesburg: Dagbreek-Boekkring
  • Pretoria: Daan Retief

Literêre vorm

Liefdesverhale

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

Geen

 

Publikasie

Kruidjie-roer-my-nie

Publikasiedatum

  • 1949
  • 1960
  • 1987 (grootdruk)
  • 1996 (grootdruk)

ISBN

  • 0795909454 (hb)
  • 186839620 (hb)

Uitgewer

  • Pretoria: Van Schaik
  • Pretoria: Daan Retief

Literêre vorm

Liefdesverhale

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • Kruidjie-roer-my-nie. Unie, September 1949
  • Le Grange, Jacques: Kruidjie-roer-my-nie. Huisgenoot, April 1956
  • Van Zyl, Anna: Storie onnodig outyds. Volksblad, 11 April 1987

 

Publikasie

Sy erfenis

Publikasiedatum

  • 1949
  • 1966
  • 1992 (grootdruk)

ISBN

079525069 (hb)

Uitgewer

  • Pretoria: Keurbiblioteek
  • Kaapstad: Human & Rousseau
  • Pretoria: Daan Retief

Literêre vorm

Liefdesverhale

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • Van der Walt, PD: Sy erfenis. Taalgenoot, Augustus 1967

 

Publikasie

Liefde gedwarsboom

Publikasiedatum

1940

ISBN

(hb)

Uitgewer

Johannesburg: Afrikaanse Persboekhandel

Literêre vorm

Liefdesverhale

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

Geen

 

Publikasie

Skuilte

Publikasiedatum

1950

ISBN

(hb)

Uitgewer

Pretoria: Keurbiblioteek

Literêre vorm

Liefdesverhale

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • Skuilte. Kerkbode, 20 Junie 1951
  • Skuilte. Staatsamptenaar, Desember 1950

 

Publikasie

Na elke lente

Publikasiedatum

  • 1951
  • 1952
  • 1969
  • 1994 (grootdruk)

ISBN

1868393739 (hb)

Uitgewer

  • Johannesburg: Voortrekkerpers
  • Pretoria: Daan Retief

Literêre vorm

Liefdesverhale

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • AP: Na elke lente. Staatsamptenaar, Augustus 1951

 

Publikasie

Verdwaalde liefde

Publikasiedatum

1951

ISBN

(hb)

Uitgewer

Johannesburg: Afrikaanse Persboekhandel

Literêre vorm

Liefdesverhale

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • Vulpen: Verdwaalde liefde. Taalgenoot, Januarie 1952

 

Publikasie

Die nuwe dokter

Publikasiedatum

  • 1951
  • 1953
  • 1965
  • 1986 (grootdruk)
  • 1994 (sakformaatuitgawe)

ISBN

  • 0795906919 (hb)
  • 0798133570 (sb)

Uitgewer

  • Johannesburg: Afrikaanse Persboekhandel
  • Kaapstad: Human & Rousseau
  • Pretoria: Daan Retief
  • Kaapstad: Artemis

Literêre vorm

Liefdesverhale

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • Die nuwe dokter. Ekstra, 20 Desember 1952
  • Die nuwe dokter. Staatsamptenaar, Januarie 1953
  • Vulpen: Die nuwe dokter. Taalgenoot, Februarie 1953
  • Vulpen: Die nuwe dokter. Taalgenoot, Julie 1953

 

Publikasie

Ou liefde

Publikasiedatum

1952

ISBN

(hb)

Uitgewer

Johannesburg: Afrikaanse Persboekhandel

Literêre vorm

Liefdesverhale

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

Geen

 

Publikasie

Die nimmer-nimmer-berge

Publikasiedatum

  • 1953
  • 1976
  • 1993 (grootdruk)

ISBN

  • 0798106867 (hb)
  • 1874927693 (hb)

Uitgewer

  • Johannesburg: Voortrekkerpers
  • Kaapstad: Human & Rousseau
  • Pretoria: Daan Retief

Literêre vorm

Liefdesverhale

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • Vulpen: Die nimmer-nimmer-berge. Taalgenoot, Maart 1954

 

Publikasie

Dwaalspore

Publikasiedatum

  • 1954
  • 1975
  • 1987 (grootdruk)
  • 1991 (grootdruk)

ISBN

  • 0798105402 (hb)
  • 0868121339 (hb)
  • 0755924860 (hb)

Uitgewer

  • Johannesburg: Voortrekkerpers
  • Kaapstad: Human & Rousseau
  • Pretoria: Makro
  • Pretoria: Daan Retief

Literêre vorm

Liefdesverhale

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • SM: Dwaalspore. Byvoegsel, 5 November 1954
  • Vulpen: Dwaalspore. Taalgenoot, Desember 1954

 

Publikasie

Die eensame pad

Publikasiedatum

  • 1954
  • 1981
  • 1992 (grootdruk)
  • 1994

ISBN

  • 0628020732 (hb)
  • 0795925425 (hb)
  • 079813223X (hb)

Uitgewer

  • Johannesburg: Voortrekkerpers
  • Johannesburg: Perskor
  • Pretoria: Daan Retief
  • Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Liefdesverhale

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • SM: Die eensame pad. Byvoegsel, 5 November 1954
  • Vulpen: Die eensame pad. Taalgenoot, Desember 1954

 

Publikasie

Kleingeluk

Publikasiedatum

  • 1955
  • 1966
  • 1981
  • 1991 (grootdruk)
  • 1995

ISBN

  • 062819777 (hb)
  • 0795923597 (hb)
  • 0798132216 (hb)

Uitgewer

  • Johannesburg: Voortrekkerpers
  • Johannesburg: Perskor
  • Pretoria: Daan Retief
  • Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Liefdesverhale

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • Hattingh, SC: Kleingeluk. Die Bondgenoot, April 1956
  • McArdell, G: Kleingeluk. Staatsamptenaar, Maart 1956
  • SM: Kleingeluk. Byvoegsel, 3 Februarie 1956

 

Publikasie

Die towerstaf

Publikasiedatum

  • 1956
  • 1970

ISBN

(hb)

Uitgewer

Johannesburg: Voortrekkerpers

Literêre vorm

Liefdesverhale

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • SM: Die towerstaf. Byvoegsel, 10 November 1956

 

Publikasie

Wanneer die oestyd kom

Publikasiedatum

  • 1957
  • 1975
  • 1988 (grootdruk)

ISBN

  • 0628007612 (hb)
  • 0795914458 (hb)

Uitgewer

  • Johannesburg: Voortrekkerpers
  • Johannesburg: Dagbreek-Boekkring
  • Pretoria: Daan Retief

Literêre vorm

Liefdesverhale

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • ACS: Wanneer die oestyd kom. Die Bondgenoot, Februarie 1958
  • Wanneer die oestyd kom. Byvoegsel, 18 Januarie 1958

 

Publikasie

Rusteloos is die seile

Publikasiedatum

  • 1958
  • 1965
  • 1992

ISBN

079813044X (sb)

Uitgewer

  • Johannesburg: Dagbreek-Boekkring
  • Human & Rousseau

Literêre vorm

Liefdesverhale

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • Anita: Rusteloos is die seile. Huisvrou, Februarie 1966

 

Publikasie

Stille hawe

Publikasiedatum

1958

ISBN

(hb)

Uitgewer

Johannesburg: Voortrekkerpers

Literêre vorm

Liefdesverhale

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • Vulpen: Stille hawe. Taalgenoot, Februarie 1959

 

Publikasie

Haar erfenis

Publikasiedatum

1959

ISBN

(hb) 

Uitgewer

Johannesburg: Mimosa

Literêre vorm

Liefdesverhale

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

Geen

 

Publikasie

Verdwaalde harte. Saam met Ela Spence en Sanet te Groen

Publikasiedatum

1960

ISBN

(hb)

Uitgewer

Pretoria: Keurbiblioteek

Literêre vorm

Liefdesverhale

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

Geen

 

Publikasie

Die goue gerf

Publikasiedatum

  • 1960
  • 1985 (grootdruk)

ISBN

(hb) 

Uitgewer

  • Johannesburg: Voortrekkerpers
  • Pretoria: Daan Retief

Literêre vorm

Liefdesverhale

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • Behrens, Louise: Die goue gerf. Staatsamptenaar, Maart 1961
  • Van der Walt, PD: Die goue gerf. Taalgenoot, Oktober 1965
  • Van Zyl, JE: Die goue gerf. Taalgenoot, Februarie 1961

 

Publikasie

  • Die Bolander-trilogie
  • Tryna du Toit-omnibus 1: Die Bolander-trilogie

Publikasiedatum

  • 1961
  • 1977
  • 1990
  • 2006

ISBN

  • 0798107561 (hb)
  • 0798117443 (hb)
  • 0798146702 (sb)
  • 9780798158442 (sb) (e-boek)

Uitgewer

  • Pretoria: Van Schaik
  • Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Liefdesverhale

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

Geen

 

Publikasie

Die wit ringmuur

Publikasiedatum

1964

ISBN

(hb)

Uitgewer

Pretoria: Van der Walt

Literêre vorm

Liefdesverhale

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

 

 

Publikasie

Agter die berge

Publikasiedatum

  • 1964
  • 1991 (grootdruk)

ISBN

 0795923538 (hb)

Uitgewer

  • Pretoria: Van der Walt
  • Pretoria: Daan Retief

Literêre vorm

Liefdesverhale

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

Geen

 

Publikasie

Erfgenaam van La Provence

Publikasiedatum

  • 1964
  • 1973
  • 1986 (grootdruk)

ISBN

  • 0798102616 (hb)
  • 0868121282 (hb)

Uitgewer

  • Pretoria: Van der Walt
  • Kaapstad: Human & Rousseau
  • Pretoria: Makro

Literêre vorm

Liefdesverhale

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

Geen

 

Publikasie

Groen koring; Die goue gerf

Publikasiedatum

  • 1965
  • 1972
  • 1986

ISBN

  • 0628002181 (hb)
  • 0798119683 (hb)

Uitgewer

  • Johannesburg: Voortrekkerpers
  • Johannesburg: Perskor
  • Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Liefdesverhale

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

Geen

 

Publikasie

Die vennootskap

Publikasiedatum

  • 1965
  • 1971
  • 1990 (grootdruk)

ISBN

0795921314 (hb)

Uitgewer

  • Kaapstad: Human & Rousseau
  • Kaapstad: Bokmakierie-Boeke
  • Pretoria: Daan Retief

Literêre vorm

Liefdesverhale

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

Geen

 

Publikasie

Towerwater

Publikasiedatum

1965

ISBN

(hb) 

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Liefdesverhale

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

Geen

 

Publikasie

As jy my nodig het

Publikasiedatum

  • 1965
  • 1991 (grootdruk)

ISBN

0795923570 (hb)

Uitgewer

  • Kaapstad: Human & Rousseau
  • Pretoria: Daan Retief

Literêre vorm

Liefdesverhale

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

Geen

 

Publikasie

Wolwehoek

Publikasiedatum

  • 1966
  • 1992 (grootdruk)

ISBN

1874927448 (hb)

Uitgewer

  • Kaapstad: Human & Rousseau
  • Pretoria: Daan Retief / Kennis Onbeperk

Literêre vorm

Liefdesverhale

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

Geen

 

Publikasie

Verdwaalde liefde

Publikasiedatum

1966

ISBN

(hb) 

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Liefdesverhale

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

Geen

 

Publikasie

Die wit magnolia

Publikasiedatum

  • 1966
  • 1990 (grootdruk)

ISBN

(hb)

Uitgewer

  • Kaapstad: Human & Rousseau
  • Pretoria: Daan Retief

Literêre vorm

Liefdesverhale

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • Van der Walt, PD: Die wit magnolia. Taalgenoot, Augustus 1967

 

Publikasie

Hermina se bedrog

Publikasiedatum

1967

ISBN

(hb) 

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Liefdesverhale

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

Geen

 

Publikasie

Rooi malvas

Publikasiedatum

  • 1969
  • 1986 (grootdruk)

ISBN

0795908393 (hb)

Uitgewer

  • Kaapstad: Human & Rousseau
  • Pretoria: Daan Retief

Literêre vorm

Liefdesverhale

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

Geen

 

 

Publikasie

Huis van purperwinde

Publikasiedatum

  • 1970
  • 1986 (grootdruk)

ISBN

0868121215 (hb)

Uitgewer

  • Kaapstad: Human & Rousseau
  • Pretoria: Makro

Literêre vorm

Liefdesverhale

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

Geen

 

Publikasie

Op vlerke van die wind

Publikasiedatum

  • 1971
  • 1986 (grootdruk)

ISBN

086812124X (hb)

Uitgewer

  • Kaapstad: Human & Rousseau
  • Pretoria: Makro

Literêre vorm

Liefdesverhale

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

Geen

 

Publikasie

Minnaar uit die vreemde

Publikasiedatum

  • 1974
  • 1991 (grootdruk)

ISBN

  • 0798104074 (hb)
  • 0795924879 (hb)

Uitgewer

  • Kaapstad: Human & Rousseau
  • Pretoria: Daan Retief

Literêre vorm

Liefdesverhale

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

Geen

 

Publikasie

Laat somer

Publikasiedatum

  • 1976
  • 1991 (grootdruk)

ISBN

  • 0798107014 (hb)
  • 0795923562 (hb)

Uitgewer

  • Kaapstad: Human & Rousseau
  • Pretoria: Daan Retief

Literêre vorm

Liefdesverhale

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

Geen

 

Publikasie

Die Tryna du Toit-omnibus

Publikasiedatum

1977

ISBN

079810791X (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Liefdesverhale

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

Geen

 

Publikasie

’n Ruiker in die herfs

Publikasiedatum

  • 1978
  • 1992 (grootdruk)

ISBN

  • 0798108169 (hb)
  • 0795924941 (hb)

Uitgewer

  • Kaapstad: Human & Rousseau
  • Pretoria: Daan Retief

Literêre vorm

Liefdesverhale

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

Geen

 

Publikasie

  • Tryna du Toit se treffer-omnibus
  • Tryna du Toit-omnibus 2: Groen koring en Goue gerf

Publikasiedatum

  • 1979
  • 2007
  • 2012 (e-boek)

ISBN

  • 0798109335 (hb)
  • 9780798148411 (sb)
  • 9780798157674 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Liefdesverhale

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

 

Publikasie

Die glashennetjie

Publikasiedatum

  • 1980
  • 1990 (grootdruk)

ISBN

  • 0798109599 (hb)
  • 0795923473 (hb)

Uitgewer

  • Kaapstad: Human & Rousseau
  • Pretoria: Daan Retief

Literêre vorm

Liefdesverhale

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

Geen

 

Publikasie

  • Die nuwe Tryna du Toit-omnibus
  • Tryna du Toit-omnibus 3

Publikasiedatum

  • 1982
  • 2008

ISBN

  • 079811391 (hb)
  • 9780798149150 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Liefdesverhale

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

Geen

 

Publikasie

Die vierde Tryna du Toit-omnibus: Towerwater, Die vennootskap, Wolwehoek

Publikasiedatum

  • 1984
  • 2009

ISBN

  • 0798117893 (hb)
  • 9780798150408 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Liefdesverhale

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

Geen

 

Publikasie

Die vyfde Tryna du Toit-omnibus

Publikasiedatum

  • 1985
  • 2010

ISBN

  • 0798118636 (hb)
  • 9780798151894 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Liefdesverhale

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

Geen

 

Publikasie

Donkerpoort

Publikasiedatum

  • 1973
  • 1986 (grootdruk)

ISBN

  • 9780798102094 (sb)
  • 0795908563 (hb)

Uitgewer

Pretoria: Daan Retief

Literêre vorm

Liefdesverhale

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

Geen

 

Publikasie

Die sesde Tryna du Toit-omnibus

Publikasiedatum

  • 1987
  • 2011
  • 2013 (e-boek)

ISBN

  • 0798122331 (hb)
  • 9780798152358 (sb)
  • 9780798155922 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Liefdesverhale

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • Kotzé, Helena: Tryna verskaf weer lekker leesstof. Die Vaderland, 8 Februarie 1988

 

Publikasie

Die sewende Tryna du Toit-omnibus

Publikasiedatum

  • 1988
  • 2012

ISBN

  • 0798117443 (hb)
  • 9780798156189 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Liefdesverhale

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

Geen

 

Publikasie

Tryna du Toit-omnibus 8

Publikasiedatum

1989

ISBN

0798125675 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Liefdesverhale

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

Geen

 

Publikasie

Net soos ’n arend

Publikasiedatum

  • 1990
  • 1996 (grootdruk)

ISBN

  • 0798127538 (hb)
  • 1868398218 (hb)

Uitgewer

  • Kaapstad: Human & Rousseau
  • Pretoria: Kennis Onbeperk

Literêre vorm

Liefdesverhale

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

Geen

 

Publikasie

Tryna du Toit-omnibus 9

Publikasiedatum

1991

ISBN

0798128135 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Liefdesverhale

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • De Beer, Charlotte: Dubbeldoor van Tryna du Toit. Volksblad, 17 Junie 1991
  • Wybenga, Gretel: Twee van Tryna se gewildste romans. Beeld, 7 September 1991

 

Publikasie

Die wit ringmuur

Publikasiedatum

1991 (grootdruk)

ISBN

0795923600 (hb)

Uitgewer

Pretoria: Daan Retief

Literêre vorm

Liefdesverhale

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

Geen

 

Publikasie

Die lied in die bos

Publikasiedatum

1992 (grootdruk)

ISBN

1874927057 (hb)

Uitgewer

Pretoria: Daan Retief / Kennis Onbeperk

Literêre vorm

Liefdesverhale

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • Van der Walt, PD: Die lied in die bos. Taalgenoot, April 1968

 

Publikasie

Tryna du Toit-omnibus 10

Publikasiedatum

1992

ISBN

0798129816 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Liefdesverhale

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • Du Plessis, Elize: Aanwins vir die rak. Volksblad, 3 Augustus 1992

 

Publikasie

Tryna du Toit-omnibus 11

Publikasiedatum

1993

ISBN

0798131675 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Liefdesverhale

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

Geen

 

Publikasie

Tryna du Toit-omnibus 12

Publikasiedatum

1994

ISBN

0798132434 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Liefdesverhale

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • De Beer, Erika: Tryna: twee met bekoring; een futloos

 

Artikels oor en deur Tryna du Toit

  • De Kock, Anita: Tryna du Toit se pen is leeg. Transvaler, 8 Maart 1993
  • De Kock, Helene:
      • ’n Liefdesskatkis. Beeld, 20 Oktober 2005
      • Tryna verdien steeds haar plek. Die Burger, 31 Oktober 2005
  • De Villiers, IL: Tryna du Toit: Die “grande dame” van die Afrikaanse liefdesverhaal. Sarie, 6 Februarie 1991
  • Du Toit, Tryna: Vakansies. Sarie, 15 November 1976
  • Erasmus, Elfra: Tannie Tryna skryf op tagtig nog steeds. Beeld, 10 Desember 1990
  • Jordaan, Annette: ’n Huldeblyk aan die skryfster Tryna du Toit. Stilet, Maart 1997
  • Karsten, Chris: Jare vol liefdesverhale. Rapport, 23 Oktober 2005
  • Keyter, Elise: Tryna se boeke is steeds in aanvraag. Taalgenoot, September 1998
  • Ná 10 jaar skryf Tryna weer. Volksblad, 12 Desember 1990
  • Nieuwoudt, Una: Daardie één strand. Sarie, 3 Januarie 1996
  • Ons Tryna du Toit … as skrywer en as Karookind. Die Vaderland, 16 Augustus 1975
  • Oud-Woerie: Balansstaat soos Tryna se vrystories [brief]. Beeld, 20 Oktober 2005
  • Pillans, Adrie: Tryna du Toit: haar lewe was ’n Helder lied. Rooi Rose, 1 Januarie 1992
  • Prinsloo, Thinus:
      • Gaan “grande dame” Tryna nou pen neerlê? Volksblad, 14 Desember 1991
      • Tryna du Toit / Die einde van lang pad. Beeld, 7 Desember 1991
  • Steyn, Nadine:
      • ’n Gunsteling-romanskryfster. Saffier, Augustus 1995
      • Tryna du Toit se suksesverhaal. Rooi Rose, 5 Junie 1991
  • Swanepoel, Jaap: Tryna so byna-byna ’n Engelse skryfster. Die Vaderland [datum onleesbaar]
  • Sy skryf met insae van jong mense. Die Vaderland, 24 November 1958
  • Tryna du Toit. Wikipedia
  • Tryna du Toit het pas sewentig gevier. Suidwester, 7 Februarie 1980
  • Tryna du Toit oorlede. Kaapse Bibliotekaris, November/Desember 2005
  • Tryna du Toit skryf op tagtig nog steeds. Suidwester, 21 Desember 1990
  • Van der Vyver, Tys: Tryna du Toit (Groen koring) het eers Engels geskryf [bron onbekend]
  • Vandag in die ou dae: Tryna du Toit. Beeld, 13 Januarie 1984
  • Williamson, Eagan:
      • Bekende romanskrywer sterf op 96 jaar. Volksblad, 18 Oktober 2005
      • Tryna du Toit (95) sterf nadat sy ’n jaar lank in koma was. Die Burger, 18 Oktober 2005
      • Tryna wou net skryf oor mens se lief en leed. Beeld, 18 Oktober 2005

Tryna du Toit se ATKV|LitNet-Skrywersalbum is oorspronklik op 2013-05-15 gepubliseer en is nou volledig bygewerk.

Bronne

  • Jordaan, Annette. 1997. ’n Huldeblyk aan die skryfster Tryna du Toit. Stilet, 9(1).
  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum

• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top