Trek vertel die stories wat ons moet deel

  • 0

Hierdie resensie is oorspronklik op 13 September 2013 op LitNet gepubliseer.

 

Titel: Trek
Skrywer: Winnie Rust
Uitgewer: NB-Uitgewers
ISBN: 9780798159333

Winnie Rust het reeds bekendheid verwerf met Martha, ‘n verhaal oor Martha Solomons, Countess of Stanford (2004) en Margie van die Seminary (2011), wat beide die geskiedenis van Wellington as agtergrond het. So ook haar nuwe roman, Trek.

In breë trekke handel Trek oor die gedwonge verskuiwing van die bruin mense uit die middedorp van Wellington gedurende die laat ’50’s en vroeë ’60’s van die vorige eeu. Dit bied egter ook ‘n breër kyk op die verskuiwings tussen plaas en dorp, en selfs, teen die einde van die teks, die verskuiwing na ander vastelande.

Synde self ‘n Wellingtonner vir meer as drie dekades het ek die optekening van die klein geskiedenisse van my dorp uiters interessant gevind, al is dit dan ook die fiksionalisering daarvan, soos uit die erkennings agterin die boek duidelik blyk. Die werklike ruimte van Wellington, beskrywing van historiese gebeure, verwysing na onlangse werklikhede, en die gebruik van huidige straatname en buitewyke skep egter ‘n geslaagde werklikheidsillusie waarvan die leser moeilik in die leesproses ontkom.

Die teks is in twee dele verdeel: in die eerste deel val die fokus hoofsaaklik op Miss Girlie en haar mense, terwyl die fokus in die tweede deel verskuif na die Bovleiplase en die perspektief van die blankes as grondbesitters.

Sy sit onder die boom en wag vir hom, vir Lambert.

Lambert het gesê: “Ek kom vir Miss Girlie haal, eendag, wanneer ek grond het van my eie. Eendag wanneer ek los is van Boeta.”

So begin die teks met die aanduiding van drie van die hoofkarakters en die motiewe van verhoudings, grond en onderdrukking.

Miss Girlie is die Juffrou in die Bovlei-skool vanaf 1938. Sy is die “ouderwetsste” van haar pa se kinders, “Girlie van die elite bruines wat kon Engels praat” (21). Sy is die musikale een, die singer en danser, die een met die mooi bene. Maar ook “Girlie van die donkerte, … vir wie die mans nie kon uitlos nie, en Girlie wat partykeers saamgespeel het”, wat uiteindelik trou met Leonard ter wille van die sekuriteit. Uit haar oogpunt word die verhaal van die gedwonge verskuiwings vertel en later meer afstandelik die storie van Molly, Hanna en Miss Pat, karakters wat ook sterk na vore kom in die ander vertellings.

Boeta is die uitbeelding van die tipiese konserwatiewe “baas van die plaas” op Weltevrede in die Bovlei. Lambert, sy jonger broer, is die meer gematigde. Die konflik en kontras tussen die twee broers se uitgangspunte oor die politiek, hantering van die plaaswerkers en hul gesindheid teenoor die vrouens in hul lewe, bied verdere perspektiefverruiming op die gebeure in die eerste deel van die teks. Lambert skryf later sy eie herinneringe neer (die enigste ek-vertelling) en die teks word afgesluit met die fokalisering op Lettie, Boeta se vrou, haar belewing van hul getroude lewe en die interaksie met veral Hanna en haar kleindogter, Lien.

Alhoewel oënskynlik een van die mindere karakters, word Hanna een van die indrukwekkendste deurlopende figure in dié teks. Hanna wat haar hartseer van haar seun alleen moes dra, wat haar eie huis laat bou en met haar tuinmakery “die plaas na haar grond op die dorp toe bring” (66), wat Miss Pat na die moord op haar buurvrou bystaan, wat vir Let (Boeta se vrou) ondersteun na háár seun se dood, maar altyd net dáár was vir Let. Hanna wat uiteindelik sê: “Hanna het ‘n huis, ‘n grondjie, en sy is dankbaar. Daar’s mense wat dit nie het nie” (243).

Die toon is hoofsaaklik nostalgies-elegies: ‘n terugdink aan en terugverlang na die verlede met sy goeie en slegte tye, maar ook die besef van die swaarkry, lyding en onregte daarvan. In die loop van die verskillende stories van mense word ook die universele, parallelle ervarings tussen die verskillende en verdeelde gemeenskappe en karakters duidelik: ongelukkige huwelike, die verlies van kinders op ‘n vroeë ouderdom, die behoefte aan ‘n lappie grond (14), die aftakeling van die ouderdom, verset teen onregverdigheid, die onderdrukking van die vrou deur ‘n patriargale gemeenskap en die skynbare onmoontlikheid van ontvlugting uit ‘n ruimte vol fisiese en strukturele geweld.

Rust gebruik die afwisseling van vertelperspektiewe (en taalregister) in die teks effektief ter wille van verskuiwing in karakterfokus en ook die aanwending van die beskrywing van kerngebeure vanuit verskillende hoeke. Alhoewel die herhaling van elemente van die intrige sommige lesers kan hinder, bied dit tog ‘n noodsaaklike korrektief op uiterste standpunte by party van die karakters en ‘n meer geskakeerde uitbeelding van die “geskiedenis”. Dit is veral die volgehoue deernis waarmee gekarakteriseer en vertel word, wat my opgeval het.

Deur die lees van die teks kom die leser ook gaandeweg tot die besef van die verweefdheid van die verskillende gemeenskappe in ‘n klein gemeenskap, die afhanklikheid van mekaar en die gedeelde universele behoeftes van mens-wees. Lettie besef aan die einde “(dat) sy sal terugkeer na die grond waaruit sy gevorm is. Na die mense na aan haar. Na Willempie se graf. Na Boeta s’n. Na Lien en Hanna, wie se lot met hare verweef is. Sy en Hanna en Lien, weefdrade van verskillende kleure wat die skering en inslag vorm” (254).

Die oënskynlik fragmentariese aanbieding vanuit verskillende karakters se belewenisse word heg saamgesnoer deur die historiese gebeure, die herhalende voorkoms van karakters en ‘n sterk samebindende ruimte.

Die roman lees vlot, die taalgebruik is tegelyk keurig en vol variasie, die perspektief op nog ‘n stukkie van ons gedeelde verlede noodsaaklik, en die besef van universele behoeftes, geluk en lyding – ‘n gedeelde menslikheid – oorgedra deur die stories van die Ander.

Lees gerus: dit is die stories wat ons moet deel.


Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top