(Klik op die foto om te vergroot.)
Treffersparades en merietelysies is deesdae blykbaar hoog in die mode!
Hierdie lysie van gepubliseerde werke wat myns insiens kwalifiseer vir die prys vir die Groot Afrikaanse Roman is ’n heel persoonlike bydrae wat ek graag wil lewer. Die idee is nie om ’n gospel truth daar te stel nie, maar eerder om debat te stimuleer.
Is daar iets soos ’n Groot Afrikaanse Roman? Is dit al geskryf, of moet ons nog daarvoor wag? Is daar enige van hierdie werke wat in ag geneem kan word wanneer ons oor hierdie onderwerp besin?
Ek laat dit aan LitNet-lesers oor om die gesprek verder te voer!
Koos Kombuis



Kommentaar
Dis veelseggend dat nie een van die werklike groot Afrikaanse romans - Karel Schoeman se Hierdie lewe, Die uur van die engel, Verliesfontein, 'n Ander land en Verkenning - op bogenoemde lysie verskyn nie. Die onderwerp van die Groot Afrikaanse Roman is buitendien ook al so afgesaag en holrug gery en die alewige gepraat en besinning daaroor is 'n sinlose gejaag na wind.
Gebore en geleef in die suide van Johannesburg [Rosettenville, Kenilworth, The Hill] het ek nog nooit in my 63 jaar in 'n suiwer wit en suiwer Afrikaanse gebied gebly nie. Toe PG du Plessis skool hou by Fakkel, waar ek was, en hy ons vreemde lotjie ontdek, het hy "Siener in die suburbs" geskryf. In "Die Vaderland" het AM van Schoor gewaarsku teen “rioolliteratuur” en ons “veragtelikes”. Die wetter. Ons praat Afrikaans en is onversadigbare lesers. Ongelukkig het Portugese sakemanne en die munisipaliteit saamgesweer, en die wonderlike Rosettenville-biblioteek vernietig, ter wille van ‘n winkelsentrum; die bib is in ‘n klein kamertjie ingedwing.
Hier is ‘n paar titels wat beslis nie die elite se lysie sal haal nie:
Die Vergetene, Elmar Steyn; Juffrou Jackie se man, M.G. Smith; Armand Fouchet, Kobus Snyman, Karima, Wille Martin; Zap Zap - in Seepunt gaan dit pienk en plesierig, Jan Harmse [Klaas Steytler], Een vermiste Hippie, Jasper M Cloete; Kruistog na die Ewigheid, Adriaan Snyman; Die Laaste Vrees, Adriaan Snyman; Droster, Tinus Horn; Onse Hymie, Etienne le Roux; Daar’s 'n gaatjie in die middel van die see, AS van Straten; Die Wenner, AS van Straten; Oumatjie se Grootseun, Pierre J.Fourie; om net 'n paar te noem.
PG du Plessis se 'Fees van die ongenooides', dit sal my nommer 1 wees, Koos. Ek hou ook nogal van CM van der Heever, maar "Laat Vrugte' is vir my veel beter as 'Somer'. Ek verstaan 'Laat Vrugte' is esteties seker beter, maar ek oordeel tematies.