(Tot) we(d)ersiens

  • 6

Foto: Canva

(Tot) we(d)ersiens

Op Vadersdag, terwyl ek skeer, dink ek weer aan hom.

Ek probeer uitwerk hoeveel jaar dit al is. Agtien? Negentien? Dit is al amper vergete geskiedenis sedert die dag op 8 Mei 2004 toe my pa, ’n fors man, vir ’n laaste keer na sy asem gesnak, sy oë toegemaak en in ’n ander wêreld begin droom het.

Dit is koud vanoggend en dit herinner my aan my pa se voorkop toe ek hom in die lykshuis vir ’n laaste keer met ’n afskeidsoen gaan groet het.

En dit was dan ook die laaste keer dat ek hom gesien het.

Ek skud die stoppels in die wasbak uit, net soos my pa my geleer het om te maak as jy skeer.

Kort nadat my pa weg is, was daar al verskeie kere dat ek gedink het om saam met hom na waarheen hy ook al gegaan het, te gaan sodat ek hom net weer kon sien. Maar die moed het my altyd begewe.

Ek kon eenvoudig nie die diep snit met ’n jagmes in my pols-are maak nie.

Ek kon ook nie die handvol wit, salige slaappille afsluk sodat ek net my oë hoef toe te maak en dan elders anders wakker te word nie.

My trane meng met skeerseep- en stoppelswater.
Ek trek die lem weer oor my kakebeen.
Na my pa se dood was daar soveel van sy goed wat oorgebly het. Skoene, aktetas, mot-gevrete grade, boeke, droog-geskrewe penne, geel gister-kiekies, houtlessenaar, tennisraket, seilskoene. Hulle het een vir een weggeraak.

Weggegee, verloor, verkoop. Niks het meer van sy besittings oorgebly nie.

Hy het eenvoudig net onsigbaar geword.
Waar is hy nou?

Sal ek hom ooit weer sien?
Partykeer loop ek ou vriende van my pa raak en dan praat hulle oor hom. In hulle monde leef hy nog in hulle stories oor hom voort. Dan is hy weer daar. Maar ek weet: Eendag sal hulle ook weg wees, soos bome in ’n woud wat die een na die ander uitgekap word totdat net ’n godverlate vlakte oorbly.

Op die ou einde word ons almal se stories vergeet.

Dit is ons almal se eindbestemming, het my pa altyd sinies gesê. Hy het baie keer met my oor die dood gepraat asof hy my daarop wou voorberei het. Ek kan hom selfs op hierdie oomblik in my gedagtes hoor sê: ’n Mens moet die dood maar aanvaar, Martin.
Ek besef dit, Pa, wil ek terug antwoord, maar ek wil jou so graag net nog een keer sien, veral noudat dit Vadersdag is. Nog net een keer jou sien lag, oogknip of jou by jou lessenaar sien sit en skryf. As daar maar net ’n manier was om die natuurwette bietjie te kon buig. Net ’n klein bietjie die werklikheid te kon verneuk. 

As jy maar net nog ’n uurtjie, ’n half-uurtjie, tien minute, vyf minute, net een minuut weer kon lewe sodat ek jou weer kon sien.
’n Klop aan die badkamerdeur laat my orent kom. My vrou se stem volg kort na die klop. “Is alles reg, skat?” 
“Ja,” lieg ek, “moenie worrie nie. Ek skeer net gou.”
Ek hoor haar voetstappe die gang af verdwyn.
Toe sy weg is, sê ek vir myself: Hy is weg en ek sal hom nooit weer sien nie.
Ek snuit my neus, vee my trane af en onderneem om nie weer aan hom te dink nie.

Sjiert-sjiert trek ek die skeermes weer oor my gesigvel. Net soos my pa het ek nogal ’n harde baard wat enige skeermeslem se moses is. Elke lem hou maar net een of twee skere, voordat ek dit weer moet vervang. As ek kon, sou ek – tot my pa se groot ergernis – ’n snor of ’n baard groei. Maar my seuntjie weier om sy pappa te soen as hy snorre het. Ter wille van hom en my pa skeer ek maar.

Die grootste deel van my gesig is al mooi glad geskeer.

Ek trek die handdoek nader en druk-druk dit teen my teer vel.

Vir oulaas loer ek na my weerkaatsing in die kykglas.

Die handdoek glip uit my hande uit.
Maar… maar daar is jy dan!

Die donker slaaploosheidskringe om die groot oë, die dubbelken, die ronde kop, die breë nek, die welige krulhare.
Onmiskenbaar hy.

Onmiskenbaar my pa.

Ek hoef hom nie verder te soek nie, want hy is hier, hier reg voor my.

Pa, jy was nog heeltyd hier.

Van nou af sal ek jou weer gereeld kan sien.

Ek knipoog.

En my pa knipoog terug.

  • 6

Kommentaar

  • Pieter Bakker

    Martin, jou pa was inderdaad in 'n klas van sy eie. Ek mis jou pa nog elke dag, met sy wyshede wat hy net so terloops kwytgeraak het. Sy humoristiese dog siniese uitkyk op akademia laat my nou nog grinnik in raadsvergaderings. Hy het altyd gesê ek is sy laaste doktorale student, en die voorspelling was ongelukkig waar. My graad is in April 2004 toegeken. Die manier waarop ek navorsing doen is deur hom geïnspireer, asook sy waarskuwing om nie jouself te ernstig op te neem nie, het ek ter harte geneem. Ek waak nou nog daarteen om myself nie ‘n ‘expert’ te noem nie, want hy het altyd gesê ‘ex’ is iets in die verlede en ‘spurt’ is mos water wat drup, so 'n ‘expert’ is 'n ‘has been drip’.

  • Martin Labuschagne

    Dankie Pieter, vir die mooi herinnering aan hom. Hy was 'n wyse man op sy siniese manier - ek mis hom elke dag!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top