Tot dan

  • 0

Foto: Canva

Tot dan
(nav Je vais t’aimer paroles – Michel Sardou)

Ek sal jou liefhê tot hawehoere bloos,
tot reeksmoordenaars ken van troos,
tot nuwe piramides verrys,
tot hadedas ophou krys

Tot dan sal ek jou liefhê

Ek sal jou liefhê tot sterre inplof na blinde gapings,
’n vlamwit meteoriet die nag ontwapen,
tot heiliges jou lyf onthef van blaam,
die Markies de Sade in ’n geskrif verklaar:
Ek, ja ek, is skaam

Tot dan sal ek jou liefhê

Jerigo sou solied bly staan,
die Rooi See ongesteurd;
Jupiter sou ’n maan verloor;
Hawking voorts op skrif ontspoor:
Ek, ja ek, is dom

Uit ’n opperhand sal hellevure spruit,
die aarde in ’n ander rigting draai;
in slegs een waarheid sal algar glo:
’n wêreld skep uit mededoë

Tot dan sal ek jou liefhê

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top