
Dis byna tyd om die wenner van LitNet se Groot Afrikaanse Haikoe-kompetisie bekend te maak. Hier is die name van die 13 finaliste wat die kortlys gehaal het, en hulle haikoes. Het jy ’n gunsteling? Die skrywers van die top 6 haikoes en die algehele wenner word Maandag bekendgemaak!
In geen spesifieke volgorde nie, die 13 haikoes wat uit meer as 700 inskrywings gekies is as finaliste, en wat deur die hoofbeoordelaar oorweeg is as opsies om as Die Groot Afrikaanse Haikoe gekroon te word.
Brandwag, stokalleen
voor die venster, kry die kers
’n koue rilling.
o haikoe sonder
natuur en die seisoene:
padda sonder poel
die pit word korter
die was lê rondom versmelt
vuur verdrink daarin
’n wolk in die see!
skool vis gooi sy skaduwee
mossels krimp ineen
droë weerligstraal
die verrimpelde vel van
’n rivierbedding
die vinknessie hang
klein planeet in die heelal
`n bondeltjie bang
een druppel gevries
’n deurskynende mespunt
hang in die spelonk
die tak vol bloeisels
se een-tonige skadu
teen die lang wit muur
die winterboord dink
dat hy die veraf sterre
in sy takke vang
Wit is die winter
Wit die ouvrou se vlegsel
As in die vuurherd
Halfpad so laat staan
hang die verlate vinknes
’n harp in die wind.
die gloeiende son
krimp gesnyde perskes tot
oumensgesigte
’n ooglid gaan oop
dit flikker oor die wêreld
en bewe weer toe



Kommentaar
Watter kosbare skat ontdek ek vandag!
Baie dankie, en doe zoo voort, als het u belief.
Linky de Bruin en Martha McLoud spreek tot my.