Toornaartyd

  • 0

In my jonkheid was Tyd
’n trapsuutjies op ’n wag-’n-bietjie.
’n Boek gelees,
kougom gekou,
miere dopgehou
waar hulle met grashalmpies
aantou na hul gate.
Moerbeie geëet,
my nuwe rok gevlek,
’n hoela-hoep laat sirkel
om my dun lyf.
’n Uur was skaars verby
wat nog ’n hele middag.
En hoeveel ure,
dae,
maande,
voor die jaar bollemakiesie slaan.
Vóór die reis
na my ouma se huis by die see.

Nou is Tyd ’n haas vlugtend van ’n windhond.
Ek stop-ry-stop tussen petroldampe werk toe.
Groei vas aan my kantoorstoel.
Lees sinnelose e-posse,
struktuurlose stories,
regs onder op my rekenaar het vier ure verbygeglip.
Niks so salig soos op my bed lê
en ’n boek verslind.
Niks so vernuftig soos miere dophou.
Niks so gewigtig soos ryp moerbye eet.
niks,
niks,
niks ...
(buiten ’n haas en ’n hoed.)

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top