In die werfstilte van 'n Sondagmiddag, wanneer Pa en Ma gaan lê en selfs die honde loom en geïrriteerd vir ons grom, loop ons al langs die kanaal af na die strooise. Daar sit Plaatjie onder sy lendelam prieel en rook, die geluksaligheid van Saterdag se bokswyn nog suur in sy lyf en in die ver kyk van sy oë.
Agter die strooise kry ons vir Nônô en Tollie. Tollie bou 'n draadkar. Nônô terg toktokkies met 'n lang, dun stokkie.
By die voetbrug oor die kanaal neem ons stelling in. Ek en Nônô bondel ons rokke by die beenrekke van ons panties in.
“Een … twee … drieeee!” tel Boeta. Dan hol ons met die grondpad af, al langs die afgeoeste mielieland. Tollie vat kortpad, déúr die kluite, maar ons voete is nie so hard van heeldag kaalvoet loop soos syne nie. As elkeen van ons 'n telefoonpaal vind, omhels ons dit – bly, soos dogtertjies mekaar langpouse omhels.
“Noot?” skree-vra Boeta vir my. “Watse noot sing die lyn?”
Ek luister na die monotone dreunsang van die telefoonlyn en frons. Ek draai my kop skuins, vir effek natuurlik, want ek raai sommer 'n noot.
“D!” skree ek.
“Wát?” roep Nônô.
“Dih! Soos in ‘Daan’!” skree ek terug. As ons skool-skool speel, leer ek die plaasvolkies uit my Sus en Daan-leesboek.
Ons druk ons ore teen die warm hout. Elkeen soek 'n lied in die geloei van die telefoonlyn.
Dis Boeta wat eerste 'n lied het: “D-aar kom tant Alie!” Hy skei die “D” van die res van die woord, sodat daar geen twyfel kan wees dat hy die eerste punt verdien nie.
“Vir nog 'n punt, sing hom!” skree Tollie. Hy maak strepies in die stof, want hy kan nie skryf nie. Tollie hou nie van skool-skool speel nie, maar omdat sy naam soos “tel” klink, wil hy altyd die tellingmeester wees.
“Daaaar kom die A-li-baaa-ma, die A-li-ba-ma die kom oor die see-hee-hee-hee.” Ek sing sommer by voorbaat my antwoord.
“Doer on-ner in die vlei stap 'n man-ne-tjie … Nou loop ek voor,” terg Boeta.
“Dis nie ‘doer’ nie, dis ‘daar’,” help ek reg. “Jy kan nie 'n punt daarvoor kry nie.”
“‘Doer’ en ‘daar’ is al twee met 'n ‘dih’. Tollie, gee my my punt.” Boeta praat met gesag, en Tollie maak nog 'n strepie in die stofpad.
“Daar’s 'n hoen-ner wat 'n ei-er nie kan lê. Daar’s 'n hoen-ner wat 'n ei-er nie kan lê.” Dis Nônô se lied, en sy trippel en flap haar arms soos 'n pronkerige kapokkie.
“Jy’t nog niks punte nie, Tollie,” raas Nônô.
“Julle weet ek laaik nie van spel nie. Skool en spel is virrie wit kinners.”
“Ek issie wit nie,” sê Nônô, “maar ek laaik dit om te leer as ons skool-skool speel … Dink, Tollie, dink! Dink aan 'n liedjie.” Nônô klink ongeduldig. Miskien is Tollie se verloor tog maar vir háár ook 'n verloor.
Tollie hys homself 'n ent teen die paal op. Die beentjies in sy tone skyn wit deur sy vel soos wat sy skurwe tone om die paal krul en klou.
“Sharrap nou!” skree Tollie van bo teen die paal, want Nônô trippel steeds soos 'n kapokhen in die stof. Hy druk weer sy oor teen die warm paal.
“Ek het hom!” skree Tollie. “Myne beat julle almal!”
“Jy lieg! Sing hom, laat ons hoor!” klink ons in 'n ongelyk trio van onder die paal op.
“Huh-uh!” Tollie is vermakerig. “Vir myne moet julle op aandag staan.”
Ons maak onsself lank van regopte en druk ons rûe styf teen ons pale.
“Koppe op!” beveel Tollie. Hy klim nog 'n ent hoër teen die paal op, vou sy bene in 'n koeksistergreep om die paal en leun met sy seningrige bolyf ver agteroor. “‘Die Stem’,” sê hy, stadig en diep. En terwyl sy arms wild en vry deur die lug swaai, weergalm Tollie se stem deur die werfstilte van die Sondagmiddag: “Yt die blou van on-se jeee-mel, yt die diep-te-hih van ons see. Oor ons e-wi-ge ge-berg-tes, waar die kran-se-hih ant-woord gee!” Sy stem sweef oor die mielieland, en oor die kanaal. Tot by die strooise, en tot by die plaasopstal, kon jy Tollie hoor sing.