Toespraak deur Marlene le Roux tydens die ontvangs van ʼn eredoktorsgraad in die Opvoedkunde aan die Universiteit Stellenbosch

  • 4

Edwin Cameron (kanselier), Marlene le Roux, Wim de Villiers (visekanselier)

Toespraak deur Marlene le Roux, uitvoerende hoof van die Kunstekaap, voorsitter van die Chrysalis Akademie, voorsitter van die ATKV-direksie en bekende kampvegter vir Afrikaans, kultuur, die jeug en gestremdes, tydens die ontvangs van ʼn eredoktorsgraad in die Opvoedkunde (DEd) aan die Universiteit Stellenbosch op 13 Desember 2021.

(Click here for the English version)

Vanjaar vier ons die honderdste herdenking van die geboortedag van die Afrikaanse digter PJ Philander. Ek deel graag die volgende uit sy pen:

Kom jy oor die kruin van ʼn Bolandse bergpas, kyk jy af op die skoonste toneel in Suid-Afrika ...
Dis ʼn mosaïek van groen wingerde, boorde, graanlande,
bosse, damme, paaie, dorpe en deftige plaashuise – ʼn wisselende patroon van beskawing en kultuur wat wegdein tot in die vertes by die see.
Kyk lank ...
Yl gespikkeld teen die hellings en tussen die bome, of in skugtere groepies op brakkolle saamgehurk, staan daar ook die huisies van duisende plaaswerkers.
Dis nie hulle by wie jy later sal koffie drink of op die koel
stoep onder die eike sit nie. Dis nie hulle wat daar sal wees om jou ʼn bruin hand te reik en jou welkom te heet nie ...
En tog is hulle daar. Onlosmaaklik.
En elke wingerdstok en vrugteboom, elke grondsooi en elke
plaasdier, elke steen wat op ʼn ander lê, elke duim pad en sloot
en draadheining, elke geringste produk wat hierdie pragwêreld
moontlik gemaak het – is deur daardie selfde hand aangeraak.
Deur die duisende bruin hande van hierdie ryk aarde se stiefkinders.
Daarom is ook hulle lééd ʼn grootse mosaïek met duisenderlei patrone ...

In besonder ʼn woord van dank aan Prof Wim de Villiers wat aan die stuur van die Universiteit staan. Hy het ʼn geweldige verantwoordelikheid as leier van die Universiteit en in die gemeenskap, maar ook as rolmodel vir die toekomstige leiers van Suid-Afrika.

Prof Nico Koopman, Viserektor: Sosiale Impak, Transformasie en Personeel, skep in sy kapasiteit daadwerklike optrede deur die leiding en ondersteuning ter uitbouing van ʼn inklusiewe samelewing met gelyke regte vir almal.

Wat ʼn besondere voorreg dat die Universiteit Stellenbosch my waardig geag het vir hierdie toekenning. Ek neem dit in ontvangs namens so baie minderbevoorregte vroue, gestremdes en ook die persone wat geen stem in die lewe het nie. Ek het my lewe begin in ’n siklus wat beskou sou word as een waarin jy in armoede gebore is en uiteindelik ook so sou sterf.

Nooit in my wildste drome het ek, as dogter van Christine (Tietie), en my grootmaakouers, Ouma en Oupa Christina en Frank Abrahams, gedink ek sal hier staan nie. Hulle het die harde pad van vernedering van ons apartheidsverlede ervaar, maar het die voorsiening en die belangrikheid van opvoeding verstaan. Daarvoor wil ek hulle uit die diepte van my hart bedank.

Gelukkig het ek grootgeword in Wellington, ’n liefdevolle gemeenskap wat in my geglo het. Hulle was ’n gemeenskap van hoop wat nooit getwyfel het dat daar ’n beter lewe bestaan as jy in ander glo en bereid is om te alle tye van jouself te gee nie. Vandag staan ek hier danksy die handevat van ʼn gemeenskap wat die harde pad van apartheid en armoede ervaar het, maar wat my arms omhoog gehou het. Dit is deur hulle wat ek vandag kan teruggee – dit kon so anderster uitgedraai het.

Al is ek gebore as ʼn arbeiderskind wat boonop gestremd gelaat is nadat ek op die ouderdom van drie maande polio opgedoen het, was dit ʼn groot voorreg dat die mense om my geglo het in opvoeding. Hoe bevoorreg was ek nie dat ek my opvoeding in my moedertaal, Afrikaans, ontvang het nie. Goeie onderrig in my grondslagfase het ʼn daadwerklike verskil gemaak. Opvoeding kan nie plaasvind sonder ʼn diepgaande begrip van jou gemeenskap en sy behoeftes nie. Deur voortdurende blootstelling aan boeke, onderwysers, die kerk en gemeenskapsleiers het ek onder die invloed van verskeie menings grootgeword.

Die belangrikste tyd in ons lewe is nou. Ja, juis nou, midde-in ʼn pandemie. Vandag leef ons nog steeds in ʼn gemarginaliseerde wêreld en raak die uitdaging van armoede in ons land net groter. Hierdie tye is ’n hartseer herinnering en realiteitsondersoek van die lot en wanhoop van mense en hul armoede.

Waar staan ons nou?

Die tyd vir praat van hoop is verby – dit is nou tyd vir aksie neem. Ons gegradueerdes is so ongelooflik bevoorreg.

Vergun my as uitvoerende hoof van die Kunstekaap die geleentheid om vir ʼn oomblik stil te staan by die uitvoerende kunste. Vanjaar vier ons die 50ste bestaansjaar van die Kunstekaap-gebou. Ek was bevoorreg om die transformasie voor my oë te kon sien ontvou. Die gebou is in 1971 ingewy as die Nico Malan-teater, en was aanvanklik slegs vir blankes. Dis in 1975 oopgestel vir alle rasse. Vir dekades het Suid-Afrika onder meer ook ʼn kultuurboikot beleef, en oor ʼn tydperk van vyf dekades het die gebou ʼn ruimte vir talent in alle genres en tale geword. Hierdie jaar kan ons terugkyk en glimlag. Almal is welkom, maar dit was ʼn lang reis. Deur verskeie projekte en jeuguitreikinisiatiewe het ons deur hande te vat ʼn werkbare en sigbare verskil gemaak. Die kunste loop hand aan hand met opvoeding, maar meer nog: Dit voed die siel en gees. Daarom kan ek getuig: Die uitvoerende kunste skep hoop – daadwerklike woorde is min, maar dade beteken baie.

Hoop en woorde soos ubuntu bly hol as ons beleid nie spreek tot ʼn dogtertjie van Hawston of Wellington, Kayamandi of Saron nie. As dit nie ʼn gestremde dogtertjie se wens kan bewaarheid nie, is sulke woorde nie die moeite werd nie.

Die Brasiliaanse opvoeder Paulo Freire, wat vanjaar sy 100ste verjaardag sou vier, se filosofiese aanslag was daarop gemik om mense te bemagtig. Om bemagtiging te bewerkstellig, het hy probleemvraagstellings vir opvoeding voorgestel. Volgens Freire kan opvoeding nie plaasvind deur slegs die eensydige aanbieding van ʼn dosent nie. Dit moet versterk word deur die gebruik van interaktiewe dialoog.

Volgens Freire is dialoog nie net ʼn opleidingstegniek nie, maar ook ʼn noodsaaklike hulpmiddel. Fokus op ʼn relevante kurrikulum is so ongelooflik belangrik vir kritiese en – nog belangriker – etiese leierskap. Deur jou gemeenskap skep jy wedersydse selfvertroue, integriteit en gerespekteerde waardesisteme wat die samelewing versterk, ongeag ras, taal, opvoeding of ekonomiese welstand.

Die kunste oorbrug politieke grense, bring ons as mense bymekaar en bind ons gemeenskappe aan mekaar. Dit spreek die brutaliteit van die verlede sowel as die uitdagings van die hede aan. Die kunste gee kinders die geleentheid om te ontsnap van die harde werklikheid en gee hulle die kans om te kan droom. Meer nog: dit inspireer en verdiep. Wanneer ons ʼn loflied in ʼn koor sing, hoor en ervaar ons die harmonie van klank. Daar is geen politieke agenda nie.

Nou is die tyd om deur aksie te inspireer. Ons is egter nog steeds vasgevang in die ego van ons bevoorregte menswees. Ek bepleit gelyke opvoeding en die afbreek van ons geografiese verlede. Ons tersiêre instellings moet opledingsprogramme daarstel wat ons jeug bymekaar bring. Daar durf nie net gepraat word van hoop nie – daadwerklike dialoog en interaksie moet bevorder word.

Die jeug moet gestimuleer word met kognitiewe ontwikkeling en visioenêre en kreatiewe denke. Nuwe leiers ontvang vandag hul grade. Daar rus ʼn groot taak op hul skouers, want ons verwag van hulle om daadwerklik om te gee en beleide te skep en te implementeer wat geleenthede vir mense sal skep. Geleenthede vir mense om nie net hul rol in die land te kan vervul nie, maar ook om by te dra tot die ekonomie. Verder moet dit beleide wees wat selfs vir die armste dogtertjie van ʼn plaaswerker, een wat dalk selfs gestremd is, geleenthede sal skep om haarself ten volle uit te leef.

Taal en kultuur ken nie kleur nie. Hoop gaan gepaard met daadwerklike aksie waar ons die doelbewuste besluit neem om nader aan mekaar te beweeg en die ego’s agter te laat.

Hierdie universiteit is omring deur plase. Op hierdie plase is daar kinders van eienaars sowel as plaaswerkers. Al hierdie kinders verdien om drome te mag droom en toekomsideale te koester. Hierdie universiteit kan hulle bemagtig. Ons gemeenskappe benodig toegewyde, goed gebalanseerde individue wat empaties kan uitreik, en mededeelsaam en met medelye families kan omarm.

Sodoende versterk ons mekaar en die mense van ons land.

Ekonomiese welvaart moet die ekonomiese gesondheid van ons samelewing word.

Wyle prof H Russel Botman, voormalige rektor en visekanselier van die Universiteit Stellenbosch, het gesê: "Toe ek in 2007 as rektor en visekanselier aangestel is, het ek my termyn toegewy aan die verwesenliking van hierdie verbintenis tot toekomstige generasies. Ek het die ontwikkeling van ʼn kritiese pedagogie vir Stellenbosch Universiteit, in samewerking met die Brasiliaanse opvoeder Paulo Freire se Pedagogy of hope (Freire, 1970, 1992), voorgestel. Sy bydraes is gekoppel aan die idee dat opvoeding moet help om die wêreld te verander, veral deur mense te bemagtig om self veranderingsagente te word. Dit is ʼn kritiese pedagogie. Dit is ʼn progressiewe pedagogie van transformasie. Dit wil gebroke realiteite vervorm. Sy vakgebied is ʼn baie ambisieuse onderwerp, naamlik ‘die wêreld’. Vir die vooruitstrewende opvoeder is elke opvoedkundige oomblik – hetsy dit in die soeke na kennis of die deel van kennis of die toepassing van kennis is – ʼn geleentheid om die hoop wat ons vir toekomstige generasies het, te onthul. Dit is hoop wat op soek is na aksie en lei tot die verandering van die wêreld.

Dr Beryl Botman skryf in haar navorsing juis dat "hoop ’n opvoedingskonstruk vir onderwysersopleiding in Suid-Afrika" moet wees. Dr Botman voer verder in haar ondersoek na Freire aan dat epistemologie en ontologie onafskeidbaar moet wees, aangesien dit sentraal is tot ’n transformasionele onderrigsisteem.

"Hierdie temas is die uitwissing van armoede en verwante toestande, en die bevordering van menslike waardigheid en gesondheid, demokrasie en menseregte, vrede en veiligheid, asook ʼn volhoubare omgewing en mededingende bedrywe."

Ons kan slegs tevrede voel dat daar regverdige toegang is wanneer die plaaswerker se dogter dieselfde toekomsgeleenthede as die plaaswerker se seun het.

"Selfrefleksie en selfkritiek is belangrik vir opvoeders: Ons moet verstaan dat ons nie al die antwoorde het nie, want ons ontwikkel voortdurend, en werk daaraan om onsself en die mense rondom ons te verstaan," sê dr Botman.

Dr. Botman is verder van mening dat daar ʼn werklike behoefte aan ʼn inklusiewe ontdekking van opvoedingsfilosofieë en opvoedingsisteme is – nie net Europees en Westers nie, maar ook vir Afrika en die Ooste.

Dit is daarom belangrik dat die universiteit ʼn universiteit van aktuele belang bly, met etiese leierskap en beleidstoepassers wat die mag het om plaaswerkers se kinders en kinders met gestremdhede se lewens op ʼn ekonomiese vlak te verander. Sodanige verandering is inderdaad moontlik, soos dit duidelik blyk uit die voorbeeld van Paul Siguqa, wat een van die enigste swart plaaseienaars in die Franschhoek-area is. Paul het die plaas Klein Goederust na jare se spaar en volharding gekoop, en daardeur die persepsie oorwin dat hy, as ʼn plaaswerker se seun, dieselfde lot sou hê. Paul word natuurlik as ʼn rolmodel beskou. Sy toekomstige sukses en die toekoms van sy plaas, veral nou in die uitdagende COVID-19-era, sal slegs volhoubaar wees deur volgehoue aktiewe ondersteuning, en nie net woorde van aanmoediging nie.

Baie dankie aan my Kunstekaap-familie, my ATKV-familie en my Chrysalis Akademie- familie. Dankie in besonder aan my onmiddellike familie, Jack Abrahams, Wilfred Abrahams, Patrick Abrahams, Richard Abrahams, Marjorie Jacobs, Ray Kieffer, Edward Abrahams, my geliefde dogter, Aimee George, en my wyle seun, Adam George, wat my so baie van die lewe geleer het. Ook aan my lewensmaat, Eduardus Van der Borght, wat my laat besef het "môre sal die son weer skyn". Dankie vir die rol wat julle almal in my persoonlike groeiproses gespeel het. Ek sê spesifiek "proses", want ons opvoeding as mense hou nooit op nie.

“At the end of life, what really matters
is not what we bought but what we built;
not what we got, but what we shared;
not our competence, but our character;
and not our success, but our significance.
Live a life that matters.
Live a life of love.”
– Skrywer onbekend

Suid-Afrika se diversiteit is omvangryk. My pleidooi is dat ons mekaar sal omarm met opregte omgee en daadwerklike ontwikkeling vir ons jongmense, en op grondvlak sal saamwerk om ekonomiese bemagtiging en die verstaan van "onswees" op ʼn menslike manier uit te oefen. Ek glo almal het ʼn plek onder die son in die nuwe Suid-Afrika, ons moet nog net die gesamentlike hoe verstaan.

  • 4

Kommentaar

  • Boudewijn Goedegebure

    Wat ben ik blij dat ik als kleinzoon van een bruine Javaanse grootmoeder in Nederland ben geboren en niet in Zuidafrika. Dus ook niet de vernederingen van de apartheid heb moeten gaan. Goed dat dat verleden tijd is en de mooie Zuidafrikaanse taal waar ik van houd van deze smet bevrijd is!

  • Annora Eksteen

    Marlene le Roux is 'n pragtige vrou wat aanhou inspireer. Baie geluk aan Marlene met hierdie groot eer en baie dankie aan LitNet vir die plaas van haar lieflike toespraak.

  • Bernadette Richards

    Baie geluk Marlene, jy is n groot inspirasie vir menige opvoeder. Jou toepraak het my weer eens laat besef, dat daar altyd Hoop is.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top