Toepassings en mistastings

  • 0

“So wals my my lief
laat my in angels believe
Ek het gesê jy is die son in Breyten se brief
want hy maak ons huil
maar jy maak my sien.”
“So vlug vlug my kind” ͣ....na die ewige wysheid, My kind.
In die woorde van ’n sondaar se lirieke, skuil daar soms die steurende waarheid van ’n bestaan se meriete...

Vanoggend, blykbaar teen die draai van die ounag, het ’n jong verlangse familielid sy lewensgeveg teen die versmorende ineenstorting van sy organe verloor. Of so sê hulle.
Miskien het hy net nie meer die waarde in ’n geveg om ’n stukkende liggaam te behou raakgesien nie; miskien het hy met groter verlange na die einde van sy lyding en die begin van ’n nuwe bestaan uitgesien.
Miskien moet ’n mens nie te veel vrae vra nie en miskien, moet ek eerder aanvaar dat ek nie eintlik veronderstel is, of meer hoef te weet nie.
Want, Hy maak my sien.

“Ek glo aan ’n heilige, algemene Christelike kerk, die gemeenskap van die heiliges;
die vergewing van sondes;”ͣ
Amen?
Moontlik nie, want die belydenis bind my en maak my die donker se kind.ͣ
In die woorde van heilige geskrifte, skuil daar soms steurende arrogansie, die oorkussing van die aardsverleier, of so sê hulle.

“...die gemeenskap van die heiliges”...watter heiliges?
Die naaste wat ons belydende lidmate daaraan sal kom, kan tog nie hier wees nie. Is dit dan nie wel die gemeenskap van die gelowiges, wat juis Sy heiligheid erken nie?
Smorens in die aangesig van my Vader, stil, in die teenwoordigheid van Sy heiligheid, laat Hy my in engele glo. Laat hy my aan die punt van sy kleed raak. Laat Hy my Sy genade raaksien, voel, hoor en selfs proe.
“So vlug vlug my kind,” van die donker wat die nietigheid van jou bestaan wil verslind.

Die nuwerwetse jonges en taalkundige begaafdes verwys na die “apps” wat ons deesdae op die slimfone en elektroniese Internetgedrewe glasskermboksies aflaai, as “toeps” – kort vir toepassing, gebore vanuit “application”. Almal wat kan, laai dit af; almal wat dit nie aflaai nie, kán nie. Die kortpaaie en oplossings vir probleme, waarvan die meeste van ons nie eens bewus was nie, word deur ’n "toepassing” uitgewys en aangespreek en skielik is ons almal verlig en slim.
Net soos die gesondheidsorg mense. Slimmense met chemiese gedrewenheid in glaskassies en wit oorpakke. Daar skep die geheime kundiges medisyne vir siektes waarvan die verbruiker nog nie bewus is nie. Waarna gewetenlose bemarkers die res doen en die media jou daarvan vertel. Dan gaan koop ons dit want ons kan; almal wat dit nie koop nie, kán eenvoudig nie.
Net soos die versorging van ons gees. (Of dalk meer van toepassing: myns insiens, die versorging van my gees.)

Êrens tussen my eerste Sondagskoolles en vandag het daar ’n klomp geloofsekerhede nuwe toepassings gekry en het die bondeling van sogenaamde “heiliges” skynbaar groter geestelike vermoëns as die apostels self ontwikkel.
Net soos die toonbank medisyne vir elke minder chroniese siekte die winsgewendheid van ’n bedryf aan die gang hou, net so is die vergrype aan geestelike of geloofs-arrogansie, die nuwe boustene van kerklike gemeenskappe.

“Ek sal vir jou bid”... in pleks van “kom ons bid saam.”
Of my persoonlike afkeur: "Ek hét vir jou gebid” Hoekom dit doen én dit verkondig?
Wie gee vir die bidder die geestelike hoë grond?
“Ons sal die hande oplê,” of “ons sal vir jul intree”... in pleks van “... mag Sy hande jou dra.”
Ensovoort ensovoort, sukkel ek in hierdie vlei van geloofsverandering voort.

My Oumas en Oupas het soms van die een of ander kind (en soms seker van my ook), gesê: “ Hy of sy is te groot vir hom of haar se skoene.”
Die aanhoorders sonder bloedverwant het dan by wyse van ten minste ’n kopknik saamgestem, maar wanneer dit hul eie kinders was wat so genaambord word, dan het hulle moeilik stilgebly of ten beste gewonder: “Wie dink die oumens is hy of sy dan nou eintlik?!”

Dis nou seker daardie selfde kakofonie van beswaardheid wat hierdie leesstuk by sommige geestelikes se gedagtegang sal indwing. Want ons wil nie hoor dat ons arrogant teen die aanslag op ons nietigheid staan nie; ons wil juis hê iemand moet weet dat ons ordentlik en heilig is.
Ons het tog “geestelik daarvoor gewerk”.
Ons verdien tog meer respek en agting as dit.
Of doen ons?

“Voordat ek verdruk was, het ek gedwaal ...”

Met erkenning aan:
ͣJan Blohm, Die Bybel en die Apostoliese Geloofsbelydenis

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top