Jesus maak sy weeklikse toer daar in die hemel om te kyk dat alles goed gaan. By die ablusieblok trek hy die kettings en gee instruksies dat die wasbakke skoongemaak moet word. Dan stap hy af met die hemel se heining om te kyk of daar nie dalk deurkruipplekke is waar agnoste stilletjies kan inglip nie.
So kom hy dan by die Pêrelhek aan waar die Heilige Petrus op eenbeentjie ronddans.
“Ag, liewe Jesus,” kerm Petrus, “kan jy nie asseblief vir my hier toesig hou nie? Ek het ’n behoeftetjie wat ek dringend moet gaan verrig.”
“Dis goed so,” sê Jesus, “hardloop gou voor jy in jou broek dinges. Ek weet wat om hier te doen.”
Jesus het ook nie lank gestaan nie, of daar kom so ’n verplooide ou mannetjie aan, en vra of hy nie maar die hemel kan binnegaan nie.
Jesus neem hom na die ontvangskamer, en laat hom by die tafel sit.
“Kan Oom my vertel wat Oom op aarde gedoen het?” vra Jesus.
“Ag, ou Seun” antwoord die man, “ek was al die jare ’n skrynwerker.”
Dit herinner Jesus aan sý dae op aarde en vol simpatie leun hy oor en vra: “Het Oom enige familie?”
“Net ’n seun wat op wonderbaarlike wyse gebore is, maar hy het weggeraak. Miskien is hy hier? Dis maklik om hom uit te ken, want hy’t gate aan sy hande en voete,” sug die ou man.
“Vader!” skree Jesus, terwyl hy die ou man omhels.
“Pinocchio,” fluister die ou man bewoë.
Groete,
Angus


Kommentaar
As hierdie grappie oorspronklik is verdien jy 'n prys. As dit nie is nie maak dit nie saak nie, dis een van die snaakste godsdiens grappies wat ek nog ooit gehoor het. Selfs Christene sal dit geniet. Die wat nie dink dit is snaaks nie is nie eerlik nie.
Dit is beslis nie oorspronklik nie. Ek het dit seker al 5 jaar terug gehoor! Daar was egter niks oor ablusieblokke en behoeftes en sulke dinge nie. Ek dink Angus het dit aangedik!
Natuurlik het ek aangedik. Wie dik nie aan as hy 'n grap vertel nie? Ek dik die heining ook lekker aan.
Nee man magties oom Aartappelboer! Ek is van mening dat Chris navraag gedoen het oor of jy die grappie self uitgedink het! Ek het toe wel genoem dat jy die ablusieblok en latrinegedeelte self bygevoeg het en dat die res nie jou eie oorspronklike gedagtes was nie. Niks sinisters in my kommentaar bedoel gewees nie.
Jy moet jonk wees op die Net. Ek is presies die teenoorgestelde van die aartappelboer. Miskien was hy slimmer as ek, want toe sy aartappels misluk, toe vang hy duisende Christene vir suckers.