
Foto: Canva.com
Toe kindwees nog in was …
Ek het nog altyd geskryf soos wat ek praat.
Plat, eenvoudig en carefree.
Na al die jare is ek steeds dieselfde.
’n Kind.
My hart verlang na die dae
toe ’n Barbie al was wat ek wou hê.
Die dae
toe ons grootste vrees mondeling was.
Ek onthou die dae
toe ons paddavissies in die vlei gevang het,
die dae
toe ons in die veld agter die huise rondgehardloop het,
op soek na veldblomme en sprinkane.
Ek onthou die dae
toe ons boomgeklim het
en ons nerwe af geval het,
die dae
toe ons nog wegkruipertjie gespeel het.
Ek onthou die dae
toe ons tol gegooi het,
loeshokkie gespeel het
en albaster geskiet het
dat die grond onder ons naels vassit.
Ek onthou die dae
toe ons saans toktokkie gespeel het.
Ek onthou die dae
toe al die padkinders byeengekom het
om krieket te speel.
Die dae
toe dit nog oukei was
om alleen by die huiswinkeltjie ’n brood te gaan koop.
Ek onthou die dae
toe my ma ons saans moes roep om huis toe te kom
voor die skemer val.
Ek onthou die dae
toe my pa ons biblioteek toe geneem het
om boeke te gaan uitneem.
Ek onthou die dae
toe almal nog Egoli gekyk het op M-Net Open Time.
Die dae
toe dit nog kwaai was om fiets te ry om die blok,
toe ons nog tou gespring het,
toe ons nog wol gebind het om skipping te speel,
toe ons nog klap-ska-loe-loe gespeel het.
Ek onthou die dae
toe tienerswangerskap nog ’n skande was
en die woord respek nog betekenis gehad het.
Die dae
toe DStv, WhatsApp, Facebook en Twitter nog onbekend was.
Die dae
toe Hemelvaart nog ’n publieke vakansiedag was.
Die dae
toe ons blomme in ons hare gesit het
om die begin van lente te verwelkom.
O, hoe het die tye verander.
Dinge was destyds soos my taal.
Plat, eenvoudig en carefree.
Hoe anders is dinge tog nou …
Soms,
net soms,
verlang ek na die dae toe kind was nog in was.

