
Ek lees vanoggend in ‘n bekende tydskrif omtrent Ellen Pakkies, wat haar tikbedwelmde seun verwurg het. Haar nagmerrie is egter nog nie op ‘n einde, want haar oudste seun gebruik ook dié middel.
Sy het haar hart uitgeskryf agter op ‘n T-hemp: “Die beste lewe is ‘n alkohol – en dwelmvrye lewe.” Die artikel is geskryf deur Haidee Muller.
Maar wat dryf ‘n moeder tot so ‘n daad? Die eerste vraag wat ek vra is: “Waar is die pa?” Waar is die rots, die vastigheid, die anker van hierdie familie?
Verlig lees ek dat daar wél ‘n pa is. ‘n Karwag-man, Odneal. Maar skaars het sy naam vorm aangeneem in my gedagtes of ek voel hoe my hart sug. Daar staan dit, duidelik geskryf, miskien sonder dat Haidee dit self besef, word die oorsaak en die dryfkrag agter Tik, in enkele woorde ontbloot.
‘n Doodsvonnis, gebore vanuit die gedagtewêreld van ‘n vader, maar wat die krag van afbreking besit. Want kinders word deur die optredes van ouers gevorm. Die model in hul lewe. Almal van ons is ‘n produk van ons verlede. En hierdie produk kan slegs herskepping deurgaan, deur die oorspronklike Skepper van daardie wese.
Odneal, het die kind summier afgeskryf, ‘n paar maande lank, skryf Haidee. Hulle, (ek neem aan dit is seker ma, pa, en familie) wou niks van hom weet. Met hierdie optrede teenoor sy kind, het Odneal sy seun, wat heel moontlik teen dié tyd in ‘n rebel ontaard het, verwerp. Odneal kon net sowel sy rewolwer se loop afgeblaas het met hierdie optrede. Maar wat van Odneal self? Sou hy miskien as kind dieselfde verwerping vanaf sý ouers ervaar het? Spreuke in die bybel verklaar dat lewe en dood is in die mag van die tong.
“Hy is my oudste; ek was net 17 toe ek hom gehad het.” sê Ellen en dit laat my wonder of een kind ‘n ander kind kan grootmaak. Dit klink tog of Ellen vanuit haar hart wil uitreik na hierdie kind. Sy het besluit om Kerstyd met hom vrede te maak. Haar man bly egter hard. Wat ‘n fout! Om ‘n kind te baar, groot te maak, net om hom weer te verloor deur ‘n ongenaakbare gesindheid.
Maar Ellen spreek geloofswoorde oor haar kind uit. Sy verklaar hoop. Dat daar altyd ‘n uitkoms is. Alhoewel haar vorige kind se dood soveel hartseer veroorsaak het, word daar tog mooi dinge daaruit gebore. Vandag, het sy haar eie beradingskantoortjie by haar huis. Vroue met dieselfde probleem, kom klop aan om hulp. En dit klink of sy ‘n goeie indruk op hulle maak.
Lizz Meiring, wat ‘n verhoogstuk hieroor geskryf het, se opvoering word tans orals aangebied. Alhoewel ek nie die opvoering self gesien het, glo ek dat Lizz Meiring in hierdie opvoering Ellen se hoop ingeskryf het.
Ek hou van Ellen se woorde “Die Here het my bygestaan, dis alles deur Sy genade dat ek vandag uit my hart kan praat. Ek glo nou eers werklik dit wat ek sê: Dit waardeur ek is, kan ander help.”
Ai! Ek hou van ‘n vrou wat kan opstaan vanuit lyding en die pad na oorwinning begin stap. Vandag is sy lid van verskeie organisasies wat gemeenskapsontwikkeling bevorder. Sy help in die stukkende Lavender Hill-omgewing en kruip nie meer weg soos iemand wat voorheen ‘n pad van drinkende ouers, verwerping en familiemolestasie deurgegaan het nie. Hierdeur, glo ek, sal selfs haar selfbeeld herstel.
Haar besluit is geneem om ‘n verskil in die gemeenskap te maak. Al vloek mense haar steeds, en noem haar ‘n moordenaar. Dit maak seer. En tog is sy vandag bereid om verby haar eie leed te beweeg en vir ander met dieselfde probleme te bid, raad te gee en te ondersteun. Dit verg moed!
Ellen het ‘n begeerte om haar eie boek te skryf. Woorde kom net nog moeilik. Maar glo ek haar inleidings paragraaf, sal alreeds die aandag trek: “I was born in the Salvation Army and my mother did not give me my name. My name was given to me by the nurse...” Hierdie is dan ook die woorde waarmee Haidee Muller haar artikel afgesluit het.
Maar die kern van die waarheid, word vasgevang in die woorde van die opskrif onderaan ‘n foto van Ellen. Dit wys waar sy in haar beknopte beradings kantoortjie sit: “Toe ek God om vergifnis vra, het Hy my vergewe. Ek was van kop tot tone verlig.”
Vir my lê die oplossing en die sukses van hierdie storie in die woord ‘vergifnis.’
Trienie


Kommentaar
Trienie, jy het reeds jou eie soort gewetenlose en afbrekende waarde op die werf bewys. Jy is nes Kobus de klerk, besig met 'n soort van geloofwaardigheidsveldtog om jouself te eer. Jy mag dit dalk nie besef nie, maar ONS, is eintlik die belangstellendes en jy het ONS, reeds versaak met jou ekonomiese omgang met die WAARHEID - nes 'n wafferse Kobus de Klerk. Jy is na dese veral, niks anders as 'n farisese adder nie; nes jou infernale hoëpriester - die ou grote Kobus de Klerk (soos hy ook graag na homself verwys). Al wat oorbly om jou uitbuiting van die algemene hel waarin mense land danksy jou soort huigelary so berug in die samelewing (nes jou oneervol geskrapte prokureur en held op die werf - Kobus de Klerk), is om te seg - WYK SATAN!... Trienie, dis jou soort selfverheffing wat 'n kloof tussen harte en Godsaligheid bewerk... mag Jesus Christus onse HERE, ons verlos van jul ego.
Hello Cornelius
Ek, my vrou en dogter het in die berg gaan stap, seker so 'n jaar of wat gelede. Die ou wat ons kar dop gehou het terwyl ons weg was, was Odneal. Dit was al laat in die dag toe ons terug kom by die kar en hy het gevra of ons hom huis toe kan neem. Op pad het hy 'n klein bietjie gepraat oor sy vrou en kind, en dis hoe ons toe uitgevind het wie hy is: 'n ou man wat oorweldig is deur sy omstandighede. Die wêreld is nie swart en wit nie, en Trienie, met haar derdehandse inligting, sal dit nooit verstaan nie.
Chris