Na ’n visum aanvanklik afgekeur is, kry ek ’n erg verkorte visum om by my ma in Amerika te gaan kuier. Ma was destyds getroud met my oorlede pa se neef, die skrywer en digter, Barend J Toerien, en hulle het op Barend se plasie buite Kerhonkson, so ’n 100 myl noord van New York gewoon.
Hoekom die Amerikaanse goewerment destyds so ’n gly in my gehad het, sal ek nou nie weet nie. Die een en enigste keer wat ek tevore in die VSA was, was toe ekke nog net sewe jaar oud was, en ek kan regtig nie onthou dat ek my toe so wangedra het, soos om ’n toekomstige president te gepot het nie.
Ewewel, toe kan ek vir ’n heen en weertjie vir ma gaan kuier, en Barend gee vir my ’n boek, die bekende Tinker, tailor, soldier, spy van John le Carré. Barend was toe bibliotekaris by ’n tronk, en het die boek sonder voorblad van verpulping gered.
En meer as die inhoud van die boek, of die fliek wat daarvan gemaak is, fassineer die titel van die boek my nog al die jare.
Destyds kon ek darem twee van die beroepe in daardie titel al agter my naam skryf: ek was al soldaat, en was toe ’n spaai.
Nou, ’n paar dekades later, doen ek periodiek bestekopname oor hoeveel van die beroepe op die lysie ook nou al “afgetiek” kan word. Miskien is dit nou die geskikte plek om te noem dat, toe ek op universiteit Politieke Wetenskap geswot het (toe ek aanvanklik Admissie begin swot het maar Grieks vir my Grieks gebly het), die politici gereeld vir ons vertel het: “Moenie wharrie nie, daar sal altyd ’n groot vraag na jul vakgebied wees.” Dit laat mens nogal dink een ’n sekere kortbroek se stelling: “Ek sal julle stem wees.” ’n Baie stil stemmetjie inderdaad.
En terselfdertyd wonder ’n mens ook hoeveel ander manne wat voor 1994 in goed in hul beroepe gevaar het, het daarna in die vreemdste beroepe beland.
Voor 1994 het ek verslaggewer by ’n koerante geword. Toe vra die staat ek moet terugkom om redakteur van ’n publikasie te word, en word toe in ’n ander departement tot die jongste assistent-direkteur verhoudingsbevordering ooit bevorder. Dit was die tweede keer dat ek in die staat die jongste ooit in ’n bepaalde pos word. En toe skaf FW die funksie af, en ek word waarnemende adjunk-direkteur gemeenskapsaktivering tot in 1994.
En toe word ’n wit, Afrikaanse man wat ’n klerk in die voertuigpoel was, en bloot toevallig bestuurslid van die ANC is, in my pos bevorder, en ek, wat buite beurt bevorderbaar was en al twee jaar lank as adjunk-direkteur waargeneem het, nie eens vir die onderhoud genooi nie.
Toe word ek jonk-jonk nog iets: ’n pensioenaris. Ja, ek weet daar is Afrikaanse taalmanne wat sê iemand wat ’n pensioen kry is nie ’n pensioenaris nie, maar ’n pensioentrekker. Maar gaan kyk maar in die HAT. En ek meen iemand moet darem ’n beduidende pensioen kry om ’n pensioentrekker te kan wees – myne is ver te yl om te trek. Dit kan eintlik net geblaas word, as mens liggies blaas. (’n Paar jaar later het die Openbare Beskermer ’n voorlopige verslag in my guns uitgebring, maar die finale verslag kan net op geen manier uit die Openbare Beskermer gewurg word nie).
Om die lysie hiervandaan volledig te maak, sal ’n dikker boek as Le Carré se boek uitmaak. Maar hier is ’n paar: een winter handlanger vir ’n elektriese kontrakteur op ’n HOP-skema waar die salaris en my petroluitgawes presies dieselfde was. Toe word ek nuusredakteur by Radio Hoogland na ek reeds ’n loodgieterskursus vir handlangers en nutsmanne deurloop het, maar die stasie verloor sy uitsaailisensie. Toe onder meer leerlingbegrafnisondernemer, redakteur van ’n koerant tot die eienaars verdwyn, op kontrak publisiteitsbeampte (tot die kontrak verstryk), navorser en publisiteitsbeampte by ’n politieke party wat sy setel in die wetgewer verloor. Saterdae was ek pepersproeibemarker, en in die week haas enigiets.
Iewers tussenin het ek vryskutnuus begin skryf, en toe nuuskommentaar. Omdat ek ook van die beroepe hierbo beklee het terwyl dit gedoen is, het die vyfuur soggens opstaan en begin werk al lankal begin. Maandae tot Vrydae, en by tye Saterdae ook. Soms fyn sny ook.
Ek wil die leser nou nie laat huil deur te skryf wat ek hiermee verdien het nie. Maar genoeg om te sê van my kolegas wat in 1994 in dieselfde posisie as ek beland het, het heelwat beter gevaar, en ek is trots op hulle.
Die twee konstantes vir meer as ’n dekade was die nuuskommentare en die Herrie se kerrie-rubrieke.
Amptelik is ek ’n arbeidsregkonsultant ook, maar probeer nou die hart hê om geld uit iemand te kry wat sy werk verloor het ...
Dus nou navorser, rubriekskrywer, nuusskrywer en nuuskommentaarskrywer, met ook ’n politieke party waarvoor nuusverklarings opgestel en uitgestuur word. Net een Bloemfonteinse kliënt, die res meestal in Gauteng. Gelukkig vir die internet.
En so tussenin, maar vir die liefde van die saak, nou ook ’n loslappielid van die radioprogram, Sterre en Planete.
Maar vanjaar is daar sowaar nog “plek” vir nuwe winde. Dit het begin toe my e-boek, die Reine waarheid en ander liegstories, deur Boekemakranka die lig gesien het.
Kort hierna verskyn die bundel, My kort vir jou sop, ook deur Boekemakranka, met drie van my kort-kortverhale in. Van die land se bekendste skrywers se kort-kortverhale is in dié bundel opgeneem, en ek voel aardig om van my verhale tussenin te sien.
Maar wanneer word ’n mens nou “amptelik” ’n skrywer?
Dis duidelik dat heelwat mense nie iemand as skrywer erken voor hy of sy nie minstens iets as gedrukte boek uitgegee het nie. Maar op my boekrak staan wel ’n boek met my naam as die outeur daarop. Maar probeer nou daai boek uit die VSA uit by die uitgewer bestel kry, en kyk hoeveel sit net die posgeld jou al terug. Jammer, en tel hom nie eens nie.
As ’n kortverhaal darem in Huisgenoot gepubliseer is, maak dit ’n mens nou ’n skrywer? Daar is so ’n storie gepubliseer, wat nou ook in Die Reine waarheid en ander liegstories opgeneem is.
Is ’n mens ’n skrywer as allerlei artikels in ’n dertigtal publikasies, waaronder ’n paar vaktydskrifte (darem nou nie van die portuuroorsigsoort nie) gepubliseer is? Of die Nederlandse Wetenschap Instituut se Denkwijzer? – ek spog nie, ek is net vreeslik trots op daai ene). En kerklike tydskrifte soos die Doppers se Die Kerkblad en die Hervomers se Konteks?
Of “help” dit darem as ’n mens een keer deelgeneem en sewende landswyd in sportverslaggewing gekom het?
En as ’n paar gedigte in digbundels opgeneem is?
Met beroepe is ek met ’n lang lys by John le Carré se lysie verby, maar of ek “skrywer” saam met “aktualiteitspraktisyn” agter my naam kan skryf, weet ek nie. Met my disleksie moes dit in elk geval nooit eens tot die vraag kon ontwikkel het nie.
Nee, ek sal myself die dag met vrymoedigheid ’n skrywer kan noem as iemand na my toe kom en sê: “Oom Herrie, jy is ’n goeie skrywer,” en ek weet dit is waar.
Tot dan is ek gelukkig as my pennevrug iewers iets vir iemand beteken, of dit geniet, of voel dis ’n talent van die Here wat na die beste van my vermoë ingespan word. En ja, dit sal natuurlik ook help as daar ’n inkomste uit kom wat ten minste ten dele in ons outistiese seun, Jandré (Klein Herrie in die rubrieke) se trustfonds kan vloei. Want sy ouers gaan nie altyd daar wees nie.
Herman Toerien

