Tien wenke as jy wetenskapfiksie wil skryf

  • 2

Ek is ’n groot aanhanger van wetenskapfiksie, en ek sou graag wou sien dat daar meer Afrikaanse boeke in hierdie genre verskyn. (Ek het probeer tel hoeveel wetenskapfiksietitels die afgelope tien jaar in Afrikaans verskyn het, en ek kon slegs met 12 vorendag kom - dus, gemiddeld net ’n raps meer as een per jaar.) Maar ek moet bieg, as uitgewer is van die irriterendste manuskripte wat ek te lese kry, dikwels wetenskapfiksie. Nie omdat ek nie van wetenskapfiksie hou nie. Inteendeel. Ook nie omdat ek glo die genre het nie potensiaal in Afrikaans nie. Inteendeel. Maar aspirantskrywers wat wetenskapfiksie aanpak, is geneig om dinge te doen wat ’n leser se geduld nogal kan beproef. En die feit dat WF-manuskripte om een of ander rede boonop geneig is om dikker as die gemiddelde tienerboekmanuskrip te wees, help ook nie juis nie.

Hier is dus ’n lys van tien wenke wat jy gerus in gedagte kan hou wanneer jy wetenskapfiksie skryf.

1. Moenie die Starship Enterprise se enjinspesifikasies tot in die fynste besonderhede probeer verduidelik nie.

Ja, ek weet party skrywers is uitstekend met lang beskrywings. As tiener was ek gefassineer deur die manier waarop Michael Crichton in sy boek Jurassic Park die proses beskryf het waardeur die dinosourusse gekloon is. Ek het trouens daarna ’n boek oor DNS by die dorpsbiblioteek gaan uitneem en oor genetika begin lees. Maar tensy jy regtig ’n kenner op jou gebied is én die prosa en die feite op ’n boeiende manier kan kombineer, moenie jou leser toegooi met besonderhede nie (’n probleem wat in Engels as info-dumping bekend staan). Met ander woorde, handhaaf ’n goeie balans tussen wetenskap en fiksie. Dis vir my oorgenoeg om te weet die Starship Enterprise kan teen ’n asemrowende spoed deur die ruimte zoem; ek stel nie belang in presies hoe vinnig dit is, wat Einstein daaroor sou sê en hoe die enjins werk nie.

Of as ons aan boord van die Nostromo is, kry Sigourney Weaver in die ruimte sodat sy ruimtewese-alie kan begin skop; moenie my met elke denkbare tegniese spesifikasie van die ruimtereis verveel nie. Ek gee nie regtig om wie die indrukwekkende arsenaal skietgoed ontwerp het of watter fantastiese baanbreker-wetenskap daaragter skuil nie - die belangrikste is of luitenant Ripley daai flippen ruimtegogga kan skiet dat die slym spat.

2. Wees versigtig hoe jy inligting oordra.

So, jy het pas ’n nuwe planeet in jou verbeelding geskep. Baie geluk. Kom ons noem dit sommer Zorgon. Of noem dit wat jy wil – dis immers jou planeet. Jy het nagte lank wakker gelê en die plek tot in die fynste besonderhede verbeel - van die onderskeie siklusse van die drie mane tot die mensvreterplante wat in die moerasse van die suidoostelike provinsie Orrrr bly.

Die versoeking is natuurlik nou groot om dadelik deur jou hoofkarakter se oë vir die leser te vertel hoe die plek lyk. Maar as jou hoofkarakter ’n bewoner van die planeet is, gaan hy waarskynlik (as jy oortuigend wil skryf) min kommentaar lewer oor die dinge wat hy sien, aangesien dit vir hom alledaags is. Aan die ander kant sal ‘n aardbewoner wat op jou planeet land, waarskynlik net so verbaas soos jy wees oor die vreemde plek, en deur sy oë kan jou leser elke liewe pers blaartjie en vieroogsalamander saam bewonder (as hy die geduld het).

Nog ’n voorbeeld: As jou hoofkarakter die bevelvoerder van ’n ruimteskip is, sal hy waarskynlik nie die gedreun van die tuig se enjins in die fynste besonderhede beskryf nie - tensy daardie dreuning dalk onverwags anders begin klink, wat moeilikheid voorspel (byvoorbeeld dat julle binnekort op die planeet Zorgon se suidoostelike provinsie Orrrr gaan neerstort).

3. Doen navorsing indien nodig.

Hiermee bedoel ek nie noodwendig jy moet ’n graad in mikrobiologie verwerf voordat jy iets soos 28 Days Later of Night of the Living Dead probeer skryf nie. As een van jou karakters egter ’n mediese dokter is wat met die uitbreek van ’n zombievirus gekonfronteer word, gaan hy/sy noodwendig sekere opmerkings maak wat ander karakters nie noodwendig sou maak nie. (Jy weet, iets soos: “Ek verstaan dit nie. Daar is geen asemhaling nie, maar iets hou steeds die metaboliese prosesse aan die gang! Wat de ... arrrrrgh!”) In so ’n geval kan dit byvoorbeeld help om met ’n dokter te gesels, of ten minste ’n paar Wikipedia-bladsye te raadpleeg.

4. Lees, lees, lees (en kyk ’n fliek so dan en wan).

Wat egter nog belangriker as navorsing is, is om soveel moontlik in die genre te lees. Ek hoor dikwels van skrywers wat nie ywerige lesers is nie. My vraag is altyd: Waarom wil jy boeke skryf as jy nie eens daarvan hou om boeke te léés nie? Want glo my, lees is veel meer pret as skryf.

Jy moet jou ook afvra: Waarom wil ek wetenskapfiksie probeer skryf as ek dit nie in die eerste plek geniet om dit te lees nie? Die enigste manier om iets nuut na die genre te bring, is om soveel moontlik te lees van wat reeds op die mark is.

En omdat wetenskapfiksie ’n sterk tradisie in Hollywood het, kan dit ook nie kwaad doen om so nou en dan klassieke flieks soos Independence Day, Terminator, The Day the Earth Stood Still, Alien en Planet of the Apes te kyk nie.

5. Kloon gerus jou karakters, maar nie ander mense se stories nie.

Een van die grootste probleme wanneer ek wetenskapfiksie lees, is dat dit dikwels so oorbekend voel:

– Mense wat spesiale vermoëns ontwikkel ná weermageksperimente.

Gaap.

– ’n Mal wetenskaplike wat ’n monster skep.

Sug.

– Ruimtesoldate wat hul prinses moet gaan red.

Snork.

Ek weet die lys temas is beperk, maar probeer nogtans iets vars en nuut skryf - iets wat verkieslik nog nie in ’n Spielberg- of Cameron-fliek gedoen is nie.

6. Skep sterk, oorspronklike karakters ...

En nou vir die slegte nuus ...

Ek vermoed verbasend min mense stel regtig belang in hoeveel mane jou fiktiewe planeet het en hoe hul siklusse werk, of hoe die mensvreterplante in die moerasse van die suidoostelike provinsie Orrrr voortplant en met watter soort straalgeweer jy hulle kan uitroei.

Wat ek (en waarskynlik baie ander lesers) soek, is sterk, onthoubare karakters met wie ek kan identifiseer.

Ek kan lankal nie meer die besonderhede van Henry se genetiese afwyking (’n toestand bekend as Chrono-Displacement - let op die hoofletters en lees punt 8!) in The time traveler's wife onthou nie, maar ek kan nog presies die toneel onthou waar hy Claire, sy toekomstige vrou, ontmoet - en die ongelooflike einde van die boek nadat sy jare lank op hom gewag het.

7. ... en gee hulle name wat ’n gewone aardbewoner kan uitspreek.

Ek weet dit sal vreemd klink as die driekoppige bewoners van planeet Zorgon bekend staan as Werner, Theresa en Nthabiseng. (Ten minste kan een karakter in hierdie geval met al drie name gelyk spog.) Maar wanneer ek ’n manuskrip van 350 bladsye lees waarin daar op elke bladsy na die hoofkarakters Czwggrrrtl en Gcqtttylrrrrrrr verwys word, maak my belangstelling in die storie later plek vir ’n buitengewone fassinasie met die skrywer se vermoë om daardie vreemde name telkens reg te tik. Of dit word ’n speletjie om die name te probeer uitspreek sonder om in my spoeg te verstik.

8. En terwyl ons nou oor klein irritasies praat: Stadig met die Shift-toets.

’n Maklike (en redelik betroubare, dog erg onwetenskaplike) manier om ’n gedig uit te ken is om te kyk of dit in versreëls geskryf is.

’n Maklike (en redelik betroubare, dog erg onwetenskaplike) manier om ’n wetenskapfiksiemanuskrip uit te ken, is om te kyk hoeveel doodgewone woorde met hoofletters geskryf is.

Gewone werkers word Werkers (en werk in ’n Fabriek of Aanleg); soldate word Soldate (en veg in die Distrikte); priesters word Priesters (en behoort tot iets soos die Orde van die Heilige Bewaarders van die Provinsie Orrrr); enigiemand wat gekies word om iets belangrik te doen, staan bekend as Die Een of Die Uitverkorene of Die Ligdraer (en moet gewoonlik ’n lewensbelangrike Sending of Taak voltooi); die dag toe die Atoombom ontplof of die Virus uitgebreek of die Pôpô die Fên getref het, word die Gebeurtenis of die Dag van die Groot Donkerte genoem.

Jy verstaan wat ek probeer sê. Probeer hoofletters soos ’n gewone aardbewoner gebruik, selfs al speel jou storie in ’n parallelle heelal af.

Die wetenskapfiksieskrywer Vonda N McIntyre (van wie ek terloops nog nooit gehoor het nie - wat sekerlik ’n teken is dat ek nie genoeg wetenskapfiksie lees nie), deel hierdie irritasie op haar webtuiste, http://www.vondanmcintyre.com/pitfalls.html).

9. Moenie slim probeer klink nie.

Ek onthou toe ek op skool was, het ek eenkeer ’n storie begin skryf wat in ’n hoogs onaanvaarbare mate geïnspireer was deur Michael Crichton se Kongo. (Dit was toevallig ook net nadat ek begin het om boeke oor DNS te lees. Klink hiperintelligente geneties-gemanipuleerde gorillas bekend?) Ek het (gelukkig) nooit die storie klaar geskryf nie, maar ek was nogtans uiters trots op die titel van my skryfsel-in-wording: Humanoïed. Ek is geensins ontmoedig deur die feit dat ek hierdie woord nie in my rooi HAT kon opspoor nie. Ek wou mense daarmee beïndruk. Ek het trouens die halfklaar manuskrip so dikwels moontlik in geselskap laat rondlê om te kyk of mense beïndruk (of ten minste geïntimideer) lyk. Hulle het nie.

Die les wat ek geleer het, is dat dit nutteloos is om mense met groot woorde te probeer beïndruk. En dis belangrik om dit met wetenskapfiksie in gedagte te hou, want geen ander fiksiegenre leen hom waarskynlik soveel tot die gebruik van ses- of sewelettergrepige woorde nie.

10. Moenie jou humorsin op die ruimteskip agterlaat nie.

Ek is bereid om ’n skrywer baie dinge te vergewe. Selfs ’n ses bladsy lange beskrywing van die weerstoestande op planeet Zorgon se naaste maan. Mits hy my ’n paar keer kan laat lag. Hoekom het wetenskapfiksie so selde ’n humorsin? (Te oordeel na party van die manuskripte wat ek te lese kry, in elk geval.) Dit lyk asof party skrywers glo wetenskapfiksie is niks om oor te lag nie. Gryp ’n lasergeweer en brand los op daardie aliens - dis nie ’n grap nie, luitenant Ripley! Komaan, het jy al van iemand met die naam Douglas Adams gehoor? Klink die name Arthur Dent, Ford Prefect en Zaphod Beeblebrox bekend?

Toemaar, vergeet dit. Gryp maar daardie lasergeweer en brand los op die arme aliens.

  • 2

Kommentaar

  • Dankie vir die artikel, Jaco. Dit bevat baie goeie advies.Ek stem met jou saam op omtrent al hierdie punte, maar..

    ".8. En terwyl ons nou oor klein irritasies praat: Stadig met die Shift-toets."

    Wanneer ons binne die WF en F genres is, is daar sekere neigings te bespeur wat ons nie sommer êrens anders vind nie. Dit is presies hierdie liefde vir hoofletters wat mens in 'n menigte Engelse Sci-fi en Fantasy boeke raakloop. Ja, ek het al 'n Afrikaanse boek gelees met soveel hoofletters daarin dat die klein letters begin snaaks lyk het, maar oor die algemeen dink ek dis meer 'n probleem (of neiging of selfs konvensie) binne die genre self. As dit 'n 'pet peeve' is, is dit miskien meer te doen met iets van die genre wat jou dwars in die krop steek, as iets wat skrywers doen.

    Dit bring my tot die volgende punt. Daar is omtrent geen Afrikaanse wetenskapfiksie genre meer oor nie. 'n Handjie vol boeke, meeste van hulle hopeloos te oud om vandag se lesers te boei. Die res is deur gevestigde skrywers uitgegee. Hoeveel uitgewers laat 'n nuwe skrywer toe om in WF of F te publiseer? Word dit nie gesien as te waaghalsig nie? Te veel van 'n finansiele risiko nie? Miskien is dit 'n ander punt...

    Ek hoop dat as jy 'n manuskrip kry wat meeste van die riglyne volg wat jy hierbo uitgestippel het, jy darem verby die hoofletters sal kyk wat hier en daar ongewens hulle koppe uitsteek.

    Die vet weet ons het Afrikaanse wetenskapfiksie stories op die boekrakke nodig! (Ek praat nie eens van Afrikaanse fantasie nie!)

    Groete en weereens dankie vir goeie raad.
    Eben van Renen

  • Avatar
    Frikkie Dippenaar

    Baie insiggewend. Dingetjies wat jy nie aan dink as jy wil skryf nie. Ek sal graag wil skryf, maar weet nie regtig hoe om te begin nie. Hierdie beginsels kan ’n mens in die algemeen ook toepas seker. Soos om nie groot woorde in enige storie te gebruik nie, en om navorsing te doen, veral waar jy feite wil gebruik. 

    Groete en ’n mooi dag.

    Frikkie Dippenaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top