Thomas geantwoord oor George Claassen

  • 4

Hallo Thomas, ek verwys na jou vraag onderaan aan my brief oor George Claassen se handskoenstorie.

Vra jy 'n bewys vir die bewering dat George Claassen duimsuiery beoefen? George beweer die kinders se akademiese prestasies is so sleg omdat godsdiens, of geloof in 'n godheid, hulle striem. Ek het gesê dit mag dalk wees maar waar is die bewyse hiervoor? Is die aankoms van die NSA nie dalk die rede vir die swak prestasies nie; veral in die lig van die feit dat a) alles so agteruitgegaan het na '94 – die hele staatsdiens, veral hospitaaldienste, openbare dienste en skole en b) dat leerlingprestasie strate beter was voor '94, godsdiens en al.

Dink maar aan die groot uittog van wit onderwysers en onderwyseresse uit die skole net na '94, en die Afrikaanse skole wat toe moes voorsiening maak vir honderde Engelse kindertjies, en onderwysers en onderwyseresse wat toe skielik in Engels moes onderwys gee, en moeilike dissiplinelose leerlinge, gestekery en geslanery met respektiewelik skerp en stomp voorwerpe, die soort van ding. Soos ek gesê het, George mag reg wees maar sonder sy bewyse beskou ek die redes hierbo gegee as 'n baie beter korrelasie.

George lys onder andere Dan Roodt en Steve Hofmeyr as 'n slegte invloed op kinders se denke en Antjie Krog, Adriaan Basson en Anton van Niekerk as goed. Weer eens, dit mag so wees maar waar is sy bewyse? Hoe, byvoorbeeld, het laasgenoemde drie, wat hulle beywer het vir die gemors waarin ons ons tans bevind, 'n goeie invloed op kinders se denke?

Vir ingeval jy vra, met 'gemors' bedoel ek die verval van hospitaaldienste, dienslewering, die agteruitgaan en verdwyn van Afrikaanse onderriginstansies, plek-, dorp- en straatname en sommer die verdwyn van Afrikaans in die algemeen. Ook die wegholmisdaad, selfs die polisie roof en kaap nou. Plaasaanvalle en wrede moorde op weerlose bejaardes en plaasboere duur voort en ek kan nie onthou dat George en/of sy goeie outjies hulle ooit ernstig daarteen uitgespreek het nie.

Steve en Dan, aan die ander kant, spreek hierdie probleme aan (tot groot ontsteltenis van ouens soos Anton, Adriaan, George en Max). As George reken hierdie aksies van hulle is sleg mag hy reg wees maar, as hy dit nie kan bewys nie, bly dit maar 'n onwetenskaplike bekrompe persoonlike gemene opinie.

Jan Rap

  • 4

Kommentaar

  • Jan Rap

    Jou troetel-obsesssies kleur die bril waarmee jy Goerge Claassen se skrywe lees sodanig dat jy nie heeltemal die essensie raaklees nie. Sover ek dit lees is dit ’n goeie en gebalanseerde artikel wat aantoon dat godsdiens niks bydra om denkende kinders te skep nie - ’n punt wat ek heelhartig mee saamstem.Wat jou blykbaar ontstel is hierdie paragraaf wat ’n sydelingse opmerking is en sekerlik minder as .1% van die stuk uitmaak:

    "Dít bly steeds die soort psigiese koppesnellery wie se bedenklike invloed die Dan Roodts, Steve Hofmeyrs, Pieter Mulders, die Sofars en die Abel Malans op die Afrikaanse denkwêreld en Afrikaanse kinders loslaat en wat die Jan-Jan Jouberts, Amanda Gouwse, Adriaan Bassons, Lizette Rabes, Dave Peplers, Anton van Niekerks en Antjie Krogs met vuis, spoeg of heilig-geseënde woord bydam."

    Jou voortdurende hunkering na een of ander onhaalbare bedeling wat geen rekening hou met ons huidige werklikhede nie, is waarskynlik een van die beste bewyse van die geldigheid van bogenoemde stelling. Die ANC maak hulle natuurlik ook daaraan skuldig en glo selfs dat hulle gaan regeer tot een of ander goddelike wederkoms - nog ’n duidelike bewys van die nadelige gevolge van godsdiens in skole!

    Wat doen jy om van die huidige regering ontslae te raak? My mening is dat jou, Dan en Steve se pogings bloot die agterlike karikatuur van die Afrikaner (in baie gevalle ongegrond) bly perpetueer.

    Groetnis

    Thomas

  • Thys Human (PTA)

    Netjies gestel, Jan Rap.  En jy hoef nie te wonder hoekom George nie bewyse gee nie - hy kan nie want hy het nie. Hy het net negatiewe an afbrekende tirades. Hy en sy "geliefdes vannie kaap" kan kritiseer en spoeg en vloek en skel, maar hulle kan nie bou nie, hulle inspireer nie en hulle dra nie 'n greintjie by tot enigeen se groei of verbetering nie.  

  • George Claassen

    Hallo Thys, weer ek. Sjoe, maar jy hou nie van die Kaap nie. Terloops, ek is 'n Noorderling wat in Mpumalanga grootgeword het. En terloops, ek is 'n Afrikaanssprekende Suid-Afrikaner, nie 'n Afrikaner ten eerste nie.

    Thys, talle wetenskaplike studies het reeds die verband getrek tussen swak wetenskapsonderrig en religeiuse indoktrinasie. Gaan lees Peter Watson se briljante boek, Ideas: A History from Fire to Freud, en spesifiek sy uitstekende hoofstukke (12 oor waarom Islam die Weste ver voor was in wetenskaplike denke tussen die 9de en 11de eeue, en 15: The idea of Europe). En waarom Islam vandag so ver agtergeraak het wat wetenskaplike kennis betref en die redes waarom die wetenskap juis in die Weste, ook en ondanks die Rooms-Katolieke Kerk se Inkwisisie, Islam agtergelaat het. Hy haal die historikus van Cambridge Universiteit Toby Huff aan wat in sy boek, The rise of early modern science in Islam, China and the West, bevind het die gebrek aan 'n skeptiese ingesteldheid en tradisie in Islam-lande en China het hulle hul voorsprong laat verloor. Daarteenoor het Galileo en ander wetenskaplikes teen die kerk opgestaan en was daar 'n sterk skeptiese tradisie.

    Pas dit toe op Afrikaanse kinders: ek sien dit daagliks in my nagraadse klasse op Stellenbosch, Afrikaanse studente is net soveel minder oopkop as hul Engelse klasmaats.

  • Thys Human (PTA)

    Maar George, hoe is dit dat jy my aanmekaar aanvat oor goed wat ek nie gesê het en dit ek wel gesê het nie naastenby aanspreek nie.

     
    In jou antwoord op een van Jan Rap se vrae aan jou, wys jy my skerp tereg oor ek dan blykbaar nie besef watter aaklige nalatenskap religieuse beïnvloeding op Afrikaanse kinders het nie. Maar ek stem volmondig saam met jou hieroor. 
     
    Dit is onder meer oor hierdie gesmokkel met kinders se breine dat ek en 'n paar vrydenkende vriende die Vereniging vir Vrydenkende Afrikaners gestig het. Ons eerste doel is om die konsep en die siening dat daar 'n groot verskeidenheid van denke - veral godsdienstige sieninge - onder Afrikaners is, gevestig te kry, en dat enige poging om Afrikaners byeen te bring om saam te praat en te werk oor hoe die Afrikaner in die huidige gemors kan oorleef, daarmee rekening moet hou. En ons praat gereeld oor die liederlike insleep van kreasionisme in die dosering van veral biologie deur onderwysers wat willens en wetens die onderwyswet oortree. Groter oopheid oor godsdiens sal by kinders ingeskerp en aangeleer moet word as ons daarin wil slaag om die Afrikaner behoorlik in die 21e eeu in te sleep.
     
     Nee, my kritiek op jou artikel Om handskoene van onkunde te vervang gaan suiwer en alleen oor jou geïmpliseerde siening dat enigeen wat hom 'n Afrikaner noem, nie 'n evolusionis kan wees nie - en omgekeerd. Jy is verskriklik verkeerd en onkundig. Jy moet bietjie gaan kyk op veral Rapport se webwerf in reaksie op Abel Pienaar se weeklikse blog, hoeveel Afrikaners daar is wat sterk teen godsdiensfundamentalisme en anti-evolusionisme te velde trek. En ook op die Praag-webwerf (Dan Roodt se tuisveld) vat ons hierdie skewekoppe aan.

    Ek beweer dat jy ons taak onder hierdie fundamentaliste bemoeilik deur jou skewe sieninge. As ons kom en vir hulle sê dat Afrikaners (selfs Christene) wel evolusie as 'n feit aanvaar en KAN aanvaar, dan kap hulle terug en sê:  "Maar George Claassen (en sy vriend Jurie vd Heever) sê dis nie waar nie en julle is dan net ondersteuners en handlangers van hulle wat probeer om ons godsdiens te vernietig." En dan moet ons eers weer wal gooi vir die vale.

    Wat wel voordelig was van jou jongste antwoord onder Jan Rap se inset "Thomas geantwoord oor George Claassen" is dat jy nou erken dat jy nie 'n Afrikaner is of wil wees nie.  Dis nou nie juis nuus nie, maar dis goed dat jy dit weer duidelik stel. En dit is natuurlik jou keuse. Maar dan sal jy beslis moet ophou om diegene wat hulself wel as Afrikaners beskou, aan te val, af te kraak en sommer net uit te skel - soos jy met Dan en Steve H gedoen het.

    Jy kan jou idee van 'n Afrikaanssprekende Suid-Afrikaner bevorder net waar jy wil, maar jy het hoegenaamd nie die reg om Afrikaners aan te val net omdat jy nie een wil wees nie.  Sal jy sommer vir jou geliefde vriende Anton en Amanda en JanJan en die Naspers-base vra om ook op te hou om ons Afrikaners - gelowiges of ongelowiges - aan te val.

    Terloops, dit help jou niks om te beduie dat jy eintlik 'n Transvaler is nie. Ek is weer 'n "kolonialer" - in PE gebore en getoë. My pa was 'n Malaniet en ek het my eintlik in die ou Transvaal kom vestig omdat ek by die destydse Transvaler werk kon kry. Ek het tydens my joernalistieke loopbaan lang tye in die Kaap gewoon as politieke beriggewer - en saam met mense soos Sampie T, Van Zyl Slabbert  en diesulkes gereeld diep gesprekke gevoer oor die politiek. Die Kaap en sy mense is nie vir my vreemd nie.

    Laastens: Jy was bra snedig oor Dan en kie se pogings om vir die behoud van Afrikaans te veg. Maar jy - en jou vriende - dink blykbaar julle kan Afrikaans se toekoms daar op S/bosch beveilig - deur die universiteit te verengels en te verswart! Ek kan die ernstige gebrek aan politieke joernalistiek duidelik in jou denke sien.

    THPretoria

     
     
  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top