Thelma

  • 2

Een van die laaste van die ou garde. Jy weet, die ou soort Ingelse properse dames.

Ek het vroeg-vroeg geleer dat jy haar nie jy en jou of mevrou of enigiets anders as Mrs Harris nie. En jy praat propers as jy met haar praat. Ou en trotse familie wat nie net diep spore getrap het hier rond nie maar wat uitgegaan het en paaie gebou het waarop jy tien teen een net netnou gery het. Die dae toe paaie nog behoorlik gebou is. En brûe opgerig het wat nie inmekaar val as die eerste trok daaroor probeer waag nie.

Baie oues onthou nog vir mr Dudley en Hubbly Bubbly-koeldranke. Die dae voor Coke jou voor elke kafee uitgenooi het. Hulle sê Hubbly Bubbly was die lekkerste koeldrank ooit maar ek was nog 'n glimlag doerie tyd so ek sal nie weet nie. Ek luister vanoggend na oom K en sy stories oor Mr Harris en Mrs Harris en hoe hy dikwels na skool gou koshuis gebank het en 'n botteltjie Hubbly Bubbly gekry het. Sommer net, want oupa het hulle huis gebou en altyd onderhou.

Mevrou Harris het, tot die vloek en skel van menigte elke dag in CBS 6, 'n gewilde wit Opel kadet, daagliks haar gereelde pad poskantoor toe en daarvandaan na Mrs J gery. Dalk in die hoop vir 'n brief of wat hier in die eeu van emails en digitale pos. Na tee met koekies en scones het sy altyd kierie in die hand kom dagsê.

Later, toe die ou hanne nie meer die rathefboom kon bykom nie het sy maar gebel om 'n bekende stem te hoor en die frozen peas, "the sort you pack yourself, not the fancy packets, young mr oyster.", 'n steak en kidney pie, "make sure its fresh" en les bes 'n brood en altyd 'n pakkie eet some mores bestel. vir tuisaflewering. En sit moes jy sit en jy kon nie anders nie want jy kon nie ophou drink aan haar kennis en eenvoudige wyshede nie. Tot die oproepe al minder en minder begin word en jy 'n vreemde sien ry in CBS 6.

Gister kry ek die tyding: Thelma is dood. Die kanker het haar letterlik opgevreet van binne. Ek vra vir Elsa of sy ok was en Elsa lag:

"Ja, sy het gelag. Ons het gegrap oor wie almal vir haar daar bo gaan wag en sy het beduie dat Dudley beter daar wees en die vuur warm moet hou anders gaan daar groot moleste wees. Sy het beduie dat sy hoop Wouter en Harvey langs die vuur sal wees as sy daar aankom. I hope they have the Scotch ready for i am ready." Was blykbaar haar laaste woorde.

En soos dinge maar moet wees het Mrs Harris seker gemaak niemand wat haar ooit geken het sal haar ooit vergeet nie:

Geen diens, kerk of predikante nie. Sy moet toegegooi word in die gat wat klaar reg is langens Mr Harris en dan moet almal afsak na die ou grasdakkerkie toe waar die Skotse water gereed sal staan. Vir elkeen 'n glas of twee of drie.

"You will enjoy your whiskey for i will also be there" het sy male sonder tal beduie.

Ek sit en kyk na die super maan en ek teug aan my goddelike voggies en ek klink 'n glasie op nog 'n legende oor wie daar letterlik boeke vol geskrywe kan word. Hulle maak hulle doodgewoon net nie meer soos destyds nie. Of verbeel ek my maar? This one's on you, Thelma Harris. Ek sien jou dalk eendag aan die annerkant as ek gelukkig is.

oester

  • 2

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top