The shortest history of China deur Linda Jaivin: ’n resensie

  • 0

Titel: The shortest history of China
Skrywer: Linda Jaivin
ISBN: 9781776195053
Uitgewer: Jonathan Ball

...
Ek het met ’n fyn kam deur die indeks gegaan op soek na gapings. Dis werklik merkwaardig hoe soveel in so min bladsye gedek word.
...

Met die eerste oogopslag kan die geskiedenis van China ’n mens nogal ontmoedig. Berge en dale: so ver, so diep, so vreemd. Waar sal ons hulp vandaan kom? Om ons weg te vind deur millennia, rondom ’n ondeurdringbare taal, trompop teen ’n radikale andersheid.

Jonathan Ball het pas Linda Jaivin se The shortest history of China herpubliseer. Dis in die reeks The shortest history of ... wat  die Australiese Black Inc  ontwikkel het.

Dít is waar ons hulp vandaan sal kom.

Jaivin is betroubaar. Sy is ’n gesoute sinoloog, vlot in vele vorme van Chinees, en nou verbonde aan die Australian National University se wêreldklas Chinese Studies. Haar  onfatsoenlike roman Eat me (1995) wys reeds sy kán  skryf.

En die Shortest history-formaat pas die beginner. Die resep laat ’n mens dink aan Oxford University Press se Very short introductions, maar chronologies eerder as sistematies.

Sy begin met die  argeologie en mitologie, en vertel dan die geskiedenis deur al die dinastieë – antiek en imperiaal, Han Chinees, Mongools, Mantsjoe – tot in die republiekeinse 20ste eeu: oorlogheerwetteloosheid, verwoestende oorlog, burgeroorlog, revolusie, Maoïsme, en tot by postpandemie. Daar is ’n nuttige tydlyn en kaart wat help om nie die spoor byster te raak nie.

Ek het met ’n fyn kam deur die indeks gegaan op soek na gapings. Dis werklik merkwaardig hoe soveel in so min bladsye gedek word. Die beginner kry ’n hupstoot met die basiese inligting oor die Chinese skrif. Die op-en-af-, sikliese ritme van die Chinese politieke en sosiale geskiedenis (orde, chaos, orde) word uitgespel. Sy dek die hoogtepunte van die poësie, fiksie, kuns en denke – al die sleuteltekste kom aan die orde.

Hier is net twee voorbeelde:

  • Tydens die Song-dinastie (12de eeu) het ene Zhang Zeduan ’n rolskildery gemaak met die titel “Qīngmíng shànghé tǔ 清明上河圖” (oftewel “Langs die rivieroewer met die Qingming-fees”). Dis ’n meesterwerk wat stadig en met aandag bewonder moet word, soos die stadsbeeld en landskap stadig ontrol. Dit gee ’n besonderheidsinsig in die alledaagse lewe tydens die sogenaamde Song ekonomiese revolusie. Jaivin se paar paragrawe dwing ’n mens om dit te google.
  • En, dan, die beste skrywer van wie omtrent geen van ons weet nie: Lu Xun. As mediese student in Japan aan die begin van die 20ste eeu het hy skielik besef dat daar niks skort met die gesondheid van die Chinese nie, maar dat daar met  hulle geestelike gesteldheid ernstig fout is. Lu Xun was ’n Chinese Steve Biko. Eers was hy traag om sy boodskap te bring. Hy skryf:

Imagine an iron house: without windows or doors, utterly indestructible, and full of sound sleepers – all about to suffocate to death. Let them die in their sleep, and they will feel nothing. Is it right to cry out, to rouse the light sleepers among them, causing them inconsolable agony before they die?

En toe lewer hy ’n reeks kortverhale en kritiese prosa wat die voos en korrupte ou Confuciaanse beskawing aan flarde skeur. Na Jaivin se kortbegrip moet ’n mens na Lu Xun self gaan.

Jaivin gebruik die beeld van die ysterhuis in haar hoofstuk oor nou, die Era van Xi. Haar oorsig is skerp, snerpend, krities. Sy skryf:

The only way to learn from history is to learn history. Disparate voices and competing narratives inevitably inhabit a history as long as China’s. The CCP prefers to keep it simple, using history to bolster its claim to be the legitimate rulers of this ancient nation. But as the Song dynasty historian Sima Guang wrote: “Listen to all sides if you want to be enlightened; rely on one if you would stay in the dark.” And there’s nowhere darker than inside an iron house.

Uiteraard is daar voor- en nadele aan die Shortest history-aanpak. Die voordele troef die nadele as die leser verder en dieper wil gaan delf. Jaivin se 20ste en 21ste eeu mis byvoorbeeld soms die kompleksiteit van die Chinese heropstaan ná die sogenaamde Eeu van vernedering (deur die Weste, veral Brittanje, asook Japan, 1840–1950). Rana Mitter se Modern China: a very short introduction (OUP, 2008) kan hier help.

Jonathan Ball moet bedank word vir hierdie eerste stap na dieper begrip van ’n beskawing wat ook ons gaan omdolwe.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top