The rabbit hole deur Mike Nicol, ’n resensie

  • 0

Titel: The rabbit hole
Skrywer: Mike Nicol
Uitgewer :Umuzi 2021
ISBN: 9781415210543

Die misdaadroman is so genrespesifiek dat dit bykans onmoontlik is om een te skryf sonder om van ’n paar clichés gebruik te maak – daarsonder is dit nie ’n misdaadroman nie. Wat maak dan van so ’n boek ’n Deon Meyer of ’n Raymond Chandler eerder as ’n ware en totale cliché? Dié vraag was heel voor in my gedagtes terwyl ek Mike Nicol se The rabbit hole deurgewerk het, en ek kon ongelukkig nie met ’n voldoende antwoord vorendag kom nie.

Ja, dié boek is glad nie sleg nie. Naweek- en vakansieleesstof vir die deursneeleser, en waarskynlik ’n heerlike voortsetting van Vicki Kahn se avonture vir Nicol se aanhangers (daar is hordes van hulle). Dit is immers die vierde boek in ’n reeks wat die opwindende lewens van Kahn en haar somtydse kêrel, Bartolomeu “Fish” Pescado, dek. Maar vir diegene wat nie reeds met Nicol se werk bekend is nie?

Toe dan, die dinge wat ek geniet het.

Eerstens, en vir my van kernbelang, is die aangrypende milieu wat Nicol vir ons skets. Dis ’n nuwe Suid-Afrika dié, ’n moderne een wat nie die 20ste eeu noodwendig met hom rondsleep nie. Die karakters pak mekaar aan sonder dat ’n enkele een se motivering dieselfde ou skandes van die verlede is wat mens hopeloos te veel raaklees. Met ons geskiedenis is daar natuurlik oorgenoeg ruimte vir stories wat hulle skoei op die eeue oue wit-swart-stryd, maar Suid-Afrika het darem ook ’n paar ander gesigte. Rassekonflik klee die karakters se interaksies, en beïnvloed die storie, nes dit in die werklike lewe sou doen, maar is nie die sentrale en enigste motief in Nicol se boek nie, nes dit lankal nie meer in Suid-Afrika is nie.

Suid-Afrika het ’n nuwe paradigma betree die afgelope paar jaar (al het buitelandse joernaliste dit nog nie besef nie) en ek is baie dankbaar dat Nicol gekies het om sy storie in hierdie Suid-Afrika te plaas. Mense praat van “postapartheid Suid-Afrika” – hierdie is “post-postapartheid”, waar rassekonflik versier eerder as van stapel stuur. As mens lui was, sou mens dit kon beskryf as “staatskaping-Suid-Afrika”, maar Nicol vermy enige beskrywing wat so eenvoudig en eentonig is. ’n Korrupte tenderproses vorm die kern van die roman se aksie, en veroorsaak allerlei bloedgietery.

Tog voel dit ook soms asof The rabbit hole se wêreld effe klein is. Byna al die aksie speel af in die suidelike voorstede van Kaapstad, en Kaapstad is nie naastenby groot genoeg om soveel verantwoordelikheid te dra nie. Nicol doen wel besonder goed om Kaapstad se nukke en rukke uit te beeld, die dorp se unieke hawegeur, en ek lees ook elders raak dat hy ’n punt daarvan maak, dat Kaapstad eintlik ’n tipe karakter is in baie van sy verhale. Ek het self in die Kaap grootgeword (maar in die noordelike voorstede, waar branderplanke omtrent so bekend is soos tofu en Wynberg slegs rugbyteenstanders was) en het my verheerlik in elke verwysing na Kaapstad se duistere hoekies en alombekende instellings. Maar dis juis hier in Gauteng dat mens die smerigste aspekte van die land gereeld teëkom, waar dit aansienlik makliker is om te glo dat ’n skaduwêreld van spioene agter die skerms floreer. Dalk is daardie teenstelling juis waarvoor Nicol gemik het.

Ek is huiwerig om my mond te gretig uit te spoel oor Nicol se karakters. Dis ooglopend dat hulle al ’n lang pad stap en dus is dit moeilik om te evalueer sonder om die vorige drie boeke te gelees het. Nietemin, in dié een staan sommige karakters kop en skouers bo ander uit.

Fish Pescado, een van die twee hoofkarakters in hierdie reeks, is veral boeiend, dog stereotipies, en so ook Sipho Dube, die tenderpreneur wat net sowel uit ’n Sondagkoerant se voorbladstorie kon gestap het. Ek het dikwels gewens dat Nicol die leser meer tyd met Dube laat deurbring het (en sommige ander karakters). Dit is tog sy bedrieglike optrede en glibberige woorde wat die aksie van stapel stuur, en sy wese is subtiel en slim aan die leser oorgedra. Maar dit was die hoofskurk se breker, Tyrone Mansoor, wat my die meeste frustreer het. Mansoor se motiverings en gevoelens was nie net die boeiendste deel van die boek nie, maar is ook die kortste geknip. Hier is ’n karakter wat maklik ’n klassieke figuur in Suid-Afrikaanse rillers sou kon word, absoluut oorspronklik en baie deftig en slim aangebied. Sy wese is ’n mengelmoes van littekens, politieke geskiedenis, geloofsoortuigings en die unieke plek van die bruin Moslemman in Suid-Afrika – en dit alles nog verwronge ook deur sy wrede optrede.

Sy storie is net nooit vervolmaak nie. Dit was vir my bitter jammer, want die karakter se geskiedenis en motivering is beide ongelooflik en heeltemal geloofwaardig tegelykertyd – dit is tog die mikpunt van alle fiksieskrywers. Elke toneel waarin Mansoor ’n rol speel, word in ’n unieke melankolie bedek, wat aan die boek net daai bietjie X-faktor gee wat andersins sou ontbreek het.

Bogenoemde probleem met Dube is ook ietwat van ’n deurlopende tema in hierdie roman. Ek kry die gevoel Nicol was haastig om klaar te kry, en nie die tyd wou neem om stil te staan by sy heel interessantste tonele en karakters nie. Hy is welbekend vir sy skryfstyl – “clipped” en “staccato”, soos die Engelse sê, en dit is besonder lekker om ’n hedendaagse Suid-Afrikaanse skrywer te lees wat ’n persoonlike stem in sy prosa kan afdwing – maar hy was dalk ook net ’n bietjie te oorval met sy poging om die teks so bondig en spaarsamig as moontlik te behou.

Nicol het ooglopende talent vir dialoog skryf – waarom nie meer daarvan nie? Nes ek my begin verdiep in Dube se slinkse praatjies met die groot skurk, Rej Ben Ali, word ek weggeraap en by die volgende toneel afgelaai. So ook Nicol se vermoë om die aksie op onortodokse wyse uit te beeld – soos ’n hoofstuk wat slegs uit ’n paar duister dog surreële paragrawe bestaan, of een wat by wyse van ’n CIA-agent se verslag uitgebeeld is. Die beskrywings van Mansoor se agterlike, bose bewegings was ook ’n hoogtepunt in dié opsig. Nicol kry dit reg om met absoluut minimum gebare en dialoog van Mansoor ’n komplekse, dwingende teenwoordigheid te maak. Dit is ’n rare vaardigheid en ’n tegniek wat baie maklik skeef kan loop, maar Nicol kry hom in die kol, oënskynlik sonder veel moeite. Hierdie oomblikke is die boek se sterkste argument waarom dit nie as net nog ’n Suid-Afrikaanse misdaadriller beskou moet word nie; waarom dit meer neig na Meyer as “meh”.

Maar nogmaals, die tempo pla. Omtrent ’n hele boek se moorde is in die laaste kwart van die boek ingestop. Die boek kon maklik nog 50 bladsye langer gewees het (of selfs meer), en dit sou baie daarby kon gebaat het. Dis amper asof Nicol weet hy skryf vir ’n leser wat nie veel tyd het nie of wat die boek op die strandhuis se stoep gaan lees met een oog op die kleintjies wat vlak by die branders speel. Tog vind ek dit moeilik om te glo, want as mens die man opsoek, duik dit gou op dat hy al heelwat lof ontvang het vir sy skryfwerk se dieper waarde en sosiopolitiese insig. Nicol, wil dit voorkom, was minder ambisieus met The rabbit hole.

En van daar vloei my grootste teleurstelling met hierdie boek: die feit dat dit van die leser vereis om te glo dat ’n regering wat homself keer op keer verneder met sy lagwekkende onbevoegdheid, ook beskik oor ’n spioenasiediens wat die Amerikaanse CIA kan aanvat. Die boeiendste spioenasieriller wat in Suid-Afrika afspeel, sou daardie onwaarskynlikheid in ag neem om waarlik ’n uitskieter van ’n roman te wees. Andersins kom die boek te naby aan waarna ek hier bo verwys – ’n cliché in ’n clichégenre.

’n Roman wat handel oor spioenasie in Suid-Afrika sal moet uiting gee aan die donkerder, meer senutergende betekenis van ons staat se verval en die land se breër noodtoestand om my heeltemal in te sluk, sowel as om uit te staan in die moeras van misdaadrillers. Andersins kom dit maar voor soos ’n Amerikaanse verhaal wat in Kaapstad afspeel. “Ongeag die korrupsie gaan die wiel aanhou draai; die gebeure is verskriklik maar nie ’n kopskoot nie.” Dit is onwaar, en daai angstigheid, daai gevoel van regte, katastrofiese gevolge, die land wat tot op ’n mespunt gedryf is – dit sou ek wou lees in ’n boek wat tenderkorrupsie as hoeksteen gebruik. Sommige wil presies die Amerikaanse spioenasieverhaal hê, maar dit is nie genoeg nie. Veral nie as die skrywer dit duidelik laat blyk dat dit in hom steek om dieper te delf nie.

Dis nou my eerste Nicol-boek. Die man kan duidelik skryf. Hy weet wat hy doen. Elke boksie mooi ge-tick, nes mens sou verwag van iemand wat klasgee hieroor. Dalk was daar omstandighede betrokke by die skryf van hierdie een wat Nicol genoop het om vinniger klaar te maak en ’n bietjie minder aandag daaraan te bestee.

Wie weet?

Wat ek wel weet, is dat Nicol se aanhangers nie teleurgesteld sal wees nie. My grief met die haas waarmee Nicol die karakters en die verhaal tot hul slotsom dryf, is seker ’n tipe kompliment – ek wou nóg hê, nie minder nie. Ek kry beslis die gevoel dat The rabbit hole net een skakel in ’n baie langer ketting is, een met ’n bepaalde beginpunt en ’n slotsom vir sy twee hoofkarakters wat ver in die toekoms lê. Dit sal aanhangers waarskynlik nie pla nie, maar dit het dit wel vir my as nuweling moeiliker gemaak om die boek te geniet. Ek het dus resensies gaan soek van sy vroeër werke, en dit het nou eers my aandag geprikkel.

Steek jou hand willekeurig in ’n groot sak vol boeke – dit sal vol Suid-Afrikaanse misdaadrillers en speurverhale wees – en trek een lukraak uit. Daar’s ’n goeie kans dat die een wat jy sodoende sal lees, die mas opkom, want daar is heelwat goeie Suid-Afrikaanse skrywers. Nicol staan net bo die deursnee-outeur uit, en het die potensiaal om nog verder sy profiel te lig. The rabbit hole voel my ’n bietjie onvoltooid, maar die potensiaal is beslis daar. Gelukkig weet ons dat daar waarskynlik nog ’n verhaal op pad is. Intussen gaan snuffel ek ook graag sy vorige boeke uit.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top