The Historical Karoo deur Chris Schoeman – 'n Onderhoud

  • 0

Titel: The Historical Karoo
Skrywer: Chris Schoeman
Uitgewer: Zebra Press (Random House Struik)
ISBN: 9781770225701

 

Koop The Historical Karoo by Kalahari.com.

Lees nog inligting oor The Historical Karoo op Random House Struik se webwerf.

The Historical Karoo het by Random House Struik verskyn. Hierdie pragtige koffietafelboek sal 'n genot wees vir enigeen wat al ooit deur die Karoo gereis het. Die skrywer, Chris Schoeman, vertel vir Naomi Meyer hoe die boek tot stand gekom het.

Hallo Chris, baie geluk met die verskyning van die mooi The Historical Karoo. Jou meestersgraad is in geskiedenis, maar jy is ook bekend vir boeke oor sport. Wat is jou eerste liefde?

Ek het bietjie belangstelling in sport verloor met al die politiek en die verkeerde mense in gesagsposisies, en waar in plaaslike rugby die tuiste van bekers soms bepaal word deur verkeerde beslissings van skeidsregters en TMO’s.  Daar is ook te veel van dieselfde ding – Super Rugby, die Championship – dis moeilik om opgewonde te raak. Maar ek moet sê ek kyk graag na die All Blacks; hulle speel ’n aanskoulike spel soos dit gespeel behoort te word – en nog altyd bedoel is om gespeel te word. As ek kon kies, sou ek eerder konsentreer op boeke oor aspekte van die geskiedenis. ’n Gebeurtenis soos die Anglo-Boereoorlog gryp mense steeds aan, meer as ’n dekade ná die 100-jarige herdenking daarvan, en daar is gedurig nuwe aspekte wat uitgelig word.

Suid-Afrika is so 'n diverse land met baie verskillende landskappe en biosfere. Waarom het jy die Karoo as fokus vir hierdie boek gekies?

Ek ry al vir baie jare deur die Karoo en daar was nog altyd iets omtrent hierdie gebied wat my gefassineer het. Miskien is dit die geweldige ruimtes, die rustigheid, die anderse landskap, die mense van die kontrei. Daar is weer ’n herlewing van die platteland, met baie mense wat padgee uit die stede weens misdaad en al die stres van stadsmens-wees, en die Karoo is juis so ’n toevlugsoord.

Die titel van die boek dui op die verlede, die geskiedenis. Watter nut het die boek vir mense vandag?

Dat ’n mens nie net alles op gesigswaarde kan oordeel nie, soos hulle sê agter ’n verweerde ou voorblad skuil ’n pragtige boek. Op die oog af – veral vir die ou wat daar deurjaag so vinnig hy kan - is die Karoo ’n vervelige streek, maar daar lê hope geskiedenis opgesluit agter daardie fasade. En dit is nie ’n “mindere” geskiedenis as sê dié van Kaapstad nie, dit is ’n pioniersgeskiedenis van vasbyt in moeilike toestande om die binneland oop te stel, van ’n streek wat ook groot figure opgelewer het.

Jou hoofkarakter is die Karoo. George Stevens skryf: “You arrive and arrive, and once more you arrive – and once more you see the same vast nothing you are coming from”,  en Olive Schreiner word aangehaal: “Such a sense of wild exhilaration and freedom comes to me when I walk over the Karroo ...” As iemand jóú oor die Karoo vra, wat sal jy sê?

Nog altyd as ek die pad gevat het noordwaarts, was die lekker deel om anderkant De Doorns die berge van die Boland agter te laat, en die wêreld maak oop en meer oop, en as jy weer sien, lê die Karoo in al sy wydheid voor jou. ’n Mens kan dit seker vergelyk met daardie gevoel waaroor Olive Schreiner geskryf het. En hoe nader jy aan die Transvaal kom (ja, ek praat nog van “Transvaal” en “Suidwes”), hoe minder lus is jy vir verder ry.

Die geskiedenis is 'n lang tyd. Hoe het jy gekies tussen dorpe, mense en tydperke?

Gelukkig kon ’n mens verreweg die meeste van die Karoodorpe insluit. Die uitgangspunt was dat een dorp miskien kleiner mag wees as ’n ander, maar nie minder belangrik nie. In ’n boek van hierdie aard kan ’n mens natuurlik nie alles sê wat daar oor ’n plek te sê is nie – baie dorpe regverdig ’n boek op hul eie – maar ek wou darem vir die leser ’n redelike oorsig gee van die geskiedenis van ’n dorp en sy omgewing, sy belangrike assosiasies, ens.

Buiten die minder bekende inligting in die boek verwys jy ook na die gebeure of plekke waarvan mense altyd nog wil weet: die Uilhuis, die Laingsburgvloed, Sutherland se koue. Ek het daarvan gehou dat jy begin by die bekende en dan dieper delf. Hoe het jy as skrywer geweet wanneer om op te hou delf?

Soos gesê, was dit uit ’n praktiese oogpunt natuurlik nie moontlik om alles oor al die dorpe te sê nie, en die idee was om die leser se aptyt te wek met die belangrikste en interessantste feite oor plekke en dit dan aan hom/haar oor te laat om verder te verken. Die boek moes die boodskap oordra dat die Karoo nie ’n godverlate, vervelige streek is nie, maar wel ryk is aan geskiedenis, kultuur, tradisies en interessante en belangrike persone uit die verlede.

Wat was vir jou die interessante dinge wat jy gedurende jou navorsing teëgekom het?

Onder andere dat ’n Engelse internasionale krieketspeler, George Lohmann, naby Matjiesfontein begrawe lê; dat die Poolreisiger Reginald Koettlitz hom eens op Darlington en Somerset-Oos bevind het en in Cradock begrawe is; dat Wagenaarskraal eens ’n bedrywige plekkie was; en dat die beroemde JM Coetzee ’n assosiasie met Voëlfontein by Leeu-Gamka het. Dis wat so lekker was van hierdie boek: die interessante ontdekkings op onverwagse plekke. En om te dink: hiér het Olive Schreiner gesit; of daár het Rudyard Kipling gesit – hy was by hierdie ou blokhuis, het ’n hele lang gedig daaroor geskryf ...

Waarom op aarde kom al die baie skrywers – JM Coetzee, Etienne van Heerden, Dalene Matthee, Olive Schreiner, Athol Fugard, NP Van Wyk Louw, WEG Louw, Mikro – uit die Karoo, dink jy?

Ek dink dis die Karoo wat hierdie mense se kreatiewe gees aangewakker het met sy unieke karakter, sy uitgestrekte, ruim landskap en sy mense. Hy bied jou so baie om oor te skryf en die ideale toestande om in te skryf. ’n Mens kan verstaan dat Deon Meyer soms van die Kaap af ’n draai in Loxton gaan maak om te skryf. Of al die bekende skrywers wat in die stilte van Calvinia se Boekehuis gaan inspirasie vind.

Jy gebruik afdeling-indelings sodat 'n passasier langs die bestuurder kan sit met die boek oop op die skoot en kan lees oor die omgewing waardeur hulle ry ... Is dit ook hierdie benadering wat jy sou voorstel as mens die boek lees?

Tensy hulle baie tyd het, gaan min mense al die plekke en hul historiese geboue, monumente, ens kan besigtig. Die boek is só gestruktureer dat ’n leser ’n roete deur die Karoo kan kies en as die tyd dit hom/haar toelaat, afdwaal na punte op die ander roetes. Die beste raad is om ’n paar plekke in ’n streek te oormerk om ’n redelike beeld te vorm van wat uniek is aan daardie bepaalde streek. Die Hantam is byvoorbeeld ’n ander soort omgewing as, sê maar, die Oos-Kaap met sy Setlaar-geskiedenis, of die Koup met plekke soos Matjiesfontein, Prins Albert, Klaarstroom.

Vir wie het jy die boek geskryf – wie het jy in gedagte gehad?

Die boek is eerstens bedoel vir mense wat die platteland en ook die sogenaamde “one-horse towns” kan waardeer. Maar ’n mens hoop ook maar om dalk die voet-in-die-hoek-reisiger te “bekeer” om meer tyd te spandeer om sy omgewing te verken.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top