The Halfway Inn

  • 1

As die sonbesies sing en die akkerblare hang verlep aan die bome, dan is dit warm op Worcester. Dit is dan  wanneer die regulars vroeg al na Pietie se kroeg skuif om ’n lafenis te gaan geniet. Die kroeg se naam is eintlik The Halfway Inn, maar dit is net ons besoekers wat hom so ken want ons lees die naambord. Vir die res is dit Pietie se kroeg.

Pietie het al op ’n slag gedreig om die naam in Afrikaans te vertaal na Die Ontevrede Meisie. Al rede hoekom hy dit nie gedoen het nie ís hy is bang vir die Taalkommissie.

Daar is 'n lugversorger wat die temperatuur met ten minste 10 grade laat daal. Op sulke warm dae begin die Happy Hour ook vroeg. Waarom hulle dit nie Pietie Hour noem nie, weet ek nie. Happy Hour hou blykbaar so lank soos wat Pietie daar is. Eers as hy loop word die pryse weer normaal.

Dié dat almal vir Pietie ’n dop wil koop, want dan bly dit lank Happy Hour. Die plaaslike wan-gebruiker het natuurlik sy eie teorie. Hý glo as Pietie loop, gaan die pryse driedubbeld op want almal is te gesuip om dit agter te kom.

Jy betaal ook nie as jou eerste dop kom nie, jy drink op ’n tab en laataand tel hulle die strepies in die swart boek om te bepaal hoeveel skuld jy. ’n Enkel strepie is ’n enkel dop en twee strepies is ’n dubbel.

Ek wil toe weet wat maak hulle as ’n man halfpad deur die aand van dop verander.

Blykbaar verander ’n geharde drinker minder van sy drank as van vroumense. So as hy op Klippies en Coke begin, is die kanse goed dat hy op Klippies en Coke gaan eindig. Sou hy egter verander, moet hy eers die boek skoonmaak en betaal, dan begin hy weer met nuwe strepies.

Inkomelinge soos ons word eers na die tweede dop gevra of hulle vir ons in die boek moet plek maak. Die teorie is dat na die tweede dop aanvaar hulle jy is hier om te drink en dat jy dan verdien om op die boek te drink.

Agter my sit daar een van die plaaslike manne by ’n tafeltjie met ’n pak marshmallows, daai bekende pienk en wittes. So tussen sy teue wit drank sal hy dan nou ’n marshmallow in sy kies druk en al kouend sy oë oor almal laat gly. Sy naam is oom Wimpie.

Volgens die kroegdame pak sy vrou elke dag vir hom so ’n pakkie lekkernye in, want Pietie se kroegkos is te duur. Volgens haar drink haar man Pietie ryk, sy gaan nie toelaat dat hy nog vir Pietie skatryk vreet ook nie.

Dit is bloot toevallig dat ons in die kroeg sit. Ons is ingeboek by die gastehuis oorkant die straat en ons kamers se lugversorger was nog nie aangeskakel toe ons daar aankom nie.

Die kamers het ook ’n eerlikheidskroeg waar jy ook in ’n boek moet opskryf wat jy gedrink het. Smaak my die boek-drink-ding is ’n Worcester-ding, maar ek wil nie daar drink nie. ’n Alleendrinker is ’n gevaarlike drinker. Ons vat nou maar liewer ’n ietsie hier tot tyd en wyl die kamer koud raak.

Ek skrik my lam toe die kroeg se drinkers, soos uit een mond, almal “Pietie!” skreeu. Pietie is in die huis en Happy Hour begin. Die strepies raak nou twee-twee in die boek. Ek wil weet hoe werk die strepies-ding met Happy Hour. “Jong, wie en wat is jy, is jy ’n inspekteur van soort?” wil die kroegmeisie weet. “Nee jammer, ek is net nuuskierig. Ek is nie vertroud met die strepies-ding nie.”

Sy kyk my lank aan.  “Ons merk die boek nou in rooi.”

Pietie het so ’n ou stoflapkleurige T-hemp aan wat voorop ’n  potjiekoskompetisie adverteer wat al in 1992 op Kleinplasie gehou was. Agterop staan ’n windpomp met die byskrif ”Beste Pomp Op Die Dorp”  Sy derde vrou het hom gelos ná die potjiekoskompetisie.

Maar Pietie het al weer die mal perd opgesaal. Hy trou Vrydag. Ons word ook genooi, want volgens Pietie sal ons dan nou die tweeduisendtal volmaak. “Ek wil julle net waarsku, ek en my bruid eet nie daar nie. Die caterer is maar redelik flentergat so ons twee gaan wegglip en by Ocean Basket eet. Ons kom terug vir die dans.”

“Ek het nie veel hoop vir Pietie se vierde nie.”

“Hallo, Meneer, en van waar is julle?“ Dit is die marshmallow-man wat hier agter my praat. Sy glas bewe met die ys wat teen die kant rinkel. Seker nog nie by die kalmeerdop uitgekom nie.

Ek verduidelik altyd dat ek van Mosselbaai is, maar werk in Johannesburg en naweke pendel ek tussen die twee dorpe. Gou agtergekom dat die WP-manne dan sommer aanvaar jy is ’n Stormer-ondersteuner en so is jy dan op veilige grond. In Pretoria praat ek nie dieselfde storie nie.

“Ja, ek ook so gemaak jare terug, ek was ’n metallurg op die platinummyne buite Rustenburg. Maar ek wil nie pla nie, geniet julle dop.” Hy is terug by sy tafel en glip ’n wit marshmallow in sy mond.

Twee groot manne kom die kroeg in en die kroegdame kry sonder om te vra hulle drankies reg. Pietie verduidelik: “Die heel grote links is Gert. As jy perlemoen, arikreukel  of kreef wil hê, is Gert die man om mee te praat. Dit sal egter smokkelgoed wees, sonder kwitansies.“

Pietie wys met sy glas regs. “Daai man regs is Andrew, hy is ’n prokureur en hou Gert se gat uit die tronk. Andrew was 'n properse Engelsman toe hy die dorp ingekom het, nou praat hy beter Afrikaans as ek en jy.”

“Toe Andrew sy praktyk hier kom oopmaak het, was judge Gerber op die bank en dié was nie 'n woord Engels magtig nie. Tolke was skaars daai tyd en die judge sê toe Andrew het drie maande kans dan moet hy Afrikaans magtig wees. Andrew kry toe in daai tyd vir Gert as ’n kliënt en so het hy hier in The Halfway Inn sy Afrikaans geleer.”

“Andrew moes twee keer al ’n nag in die selle deurbring, want Gert het hom oortuig dat die woord fok en fokken is Afrikaanse volksmond  en dat dit vir die howe heel aanvaarbaar is.”

Hier’s weer so ’n tikkie op my skouer, dit is my marshmallow-man. “Ekskuus, Meneer, ek wil nie lastig wees nie, ek hoor julle praat van prokureurs. My seun is die voorsitter van die prokureursgilde hier in die Wes-Kaap. Ek dag ek sê maar net, wil nie pla nie.” Voor ek kan gelukwens of iets sê is hy terug by sy tafel. Dié slag ’n pienke. Die ys in die glas is ook al stiller.

Langs my sit ’n man en kyk diep in sy bier. Jy kan op sy gesig sien hy is op die agterpaaie van die lewe, sy gedagtes is nie in Eden nie. Ek kyk na Pietie en dan na die man langs my. Pietie skud sy kop, ek verstaan.

Ek en Pietie praat karre, spesifiek Ford se nuwe Ranger-reeks. Pietie wil een kry voor Vrydag, ’n dubbelkajuit. Hy wil met die nuwe bakkie op honeymoon gaan.

“Waar gaan jy vir jou honeymoon, Pietie?“ wil ek weet.

“Ons gaan sommer hier buite die dorp na Goudini Spa. Ek was eers in die gevangenisdiens en behoort al aan die ATKV sedert dan, so ek kry ’n spesiale afslag. Ons gaan beslis nie daar swem nie, dit is te warm.”

Weer ’n tik op my skouer, my ou vriend, die glas nou heel stil. ”Jammer weereens, ek hoor julle praat van Ford. Wil net sê, my skoonfamilie het vir jare Marais Ford in Bellville besit, maar moet asseblief nie dat ek julle gesprek onderbreek nie.”

“Fok oom Wimpie, kan jy nie sien ek en die man praat diep stories nie, gaan sit man,“ skreeu Pietie.

‘Sorry Pietie, sorry Meneer, nie so bedoel nie.” Hy’s terug by sy tafel, besig om die marshmallowpakkie op te vou. Die pakkie is leeg.

Die agterpaaie-man kyk op. ”Nee, Pietie, los Oom Wimpie, sy vrou is vandag presies twee jaar dood.“ Daar daal ’n geskokte stilte oor die kroeg. Selfs die by wat al heelmiddag teen die venster op en af  loop, gaan stil op die vensterbank sit.

“Van wanneer af sê jy sy’s dood?“ vra Pietie.

“Twee jaar al, Pietie, waar was jy? Lyk my hier ken hulle net jou naam en fokkol verder.”

 

  • 1

Kommentaar

  • Helize van Vuuren

    Lieflik! skryf 'n boek - arme Oom Wimpie met sy marshmallows en dooie vrou, onvergeetlik ...

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top