The Fishy Smiths: A biography of JLB and Margaret Smith, geskryf deur Mike Bruton – ’n FMR-resensie

  • 0

The Fishy Smiths: A biography of JLB and Margaret Smith, geskryf deur Mike Bruton; uitgegee deur Penguin 

Daar is altyd geglo dat die selakant ’n eggo uit die oertyd is; hul mees onlangse fossiele ’n herinnering aan die evolusionêre oomblik toe visse ter wille van oorlewing uit die see begin gestap het. Soos Dawkins ons op ’n ietwat grillerige manier herinner: As ’n tydsmasjien jou 200 miljoenste grootjie kon opdis, sou aan jou ’n selakant met tartaarse sous voorgesit word!

Omdat die laaste selakant glo ongeveer 65 miljoen jaar gelede saam met die dinosourusse uitgesterf het, is gerugte dat die ware Jakob van tyd tot tyd deur tradisionele vissermanne aan die kus van Oos-Afrika gevang word, dus as ’n, wel, visstorie afgemaak. Maar op ’n goeie dag in Desember 1938 stap die selakant sowaar metafories uit die see naby die kus van Oos-Londen.

Nuus loop teen ’n slakkepas en dit is eers sowat drie maande later dat die volle omvang van hierdie vangs verwerk en wêreldkundig word. Ten spyte van hoe groot hierdie oomblik was, is die sagte weefsel van die vangs nie optimaal bewaar nie en kon die sluier oor hierdie misterieuse oerwese vir eers nie volledig gelig word nie. Dit sou moes wag tot 1952, toe ’n tweede selakant uiteindelik, na ’n lang soektog, in die Comoro-eilande gevang is.

Dit is redelik bekend dat die dryfkrag agter die soektog na die tweede selakant die egpaar JLB en Margaret Smith was en dat die wetenskaplike vernoeming van die selakant ’n erkenning is aan Margaret Courtenay-Latimer, wie se wakker oë die belang van die 1938-vangs gesnap het. Danksy JLB se wêreldwye blitsverkoper, Old Four Legs / Ou Vierpoot, het die selakant ’n legende geword. Die drama van die voormalige Suid-Afrikaanse eerste minister DF Malan wat deur JLB oorreed is om oor Kersfees 1952 ’n Dakota op te kommandeer om die tweede selakant in die Comore te gaan haal, is voorheen goed gedokumenteer.

Die vangs van die eerste en tweede selakant en die waarde daarvan as ’n lewende fossiel word weer in hierdie boek met die nodige drama herroep, en selfs vir dié wat bekend is met hierdie geskiedenis, sal dit soos ’n opwindende speurverhaal lees.

Die boek gaan egter baie verder.

Die noukeurige beskrywing van die samestelling deur beide Smiths, die een as skrywer, die ander as die hoofillustreerder van die epogmakende boek wat later as Smiths’ Sea Fishes bekend sou staan, asook die verduideliking van die Smiths se rol in die stigting in Grahamstad wat vandag as die Suid-Afrikaanse Instituut vir Akwatiese Biodiversiteit bekend staan, lees eerder soos ’n stukkie polsende wetenskapfiksie as die goedgedokumenteerde en belangrike geskiedenis oor viskunde in Suid-Afrika wat dit werklik is.

Alhoewel die selakant die glanslig wil-wil steel, gaan hierdie boek nie in die eerste plek oor ’n bepaalde vis, of visse in die algemeen, nie, maar oor die mense wat sentraal tot hierdie herontdekking staan. Natuurlik is JLB en Margaret Smith die hoofkarakters, maar belangrike rolspelers – sonder wie die volle drama nooit so kon ontknoop het nie – word met sorg ondersoek: JLB se eerste vrou en ’n duidelik onbevredigende huwelik; die kinders uit sy eerste en tweede huwelik; Flora, die suster van Margaret, en haar vormende rol laat in Margaret se lewe; en natuurlik Margaret Courteney-Latimer, wat die belangrikheid van die 1938-vangs gesnap het en ten spyte van gebrekkige kommunikasiekanale en teenstand, volgehou het om die selakant so goed moontlik te bewaar terwyl sy op nuus van JLB gewag het.

En dan is daar die verhaal van JLB en Margaret, Suid-Afrika se weergawe van die Curies: JLB het sy akademiese loopbaan as organiese chemikus begin, maar gou het ’n stokperdjie ’n akademiese passie geword en word hy steeds vandag wêreldwyd as ’n groot viskundige erken. Die kombinasie van stokperdjie en akademiese nuuskierigheid, die medewerking van gewone hengelaars aan die akademiese projek, en JLB se insig oor die waarde van, maar ook behoefte aan, media-aandag, het van hom ’n vroeë voorloper van die hedendaagse openbare intellektueel gemaak. Sy energie en werkywer was ongelooflik, maar hy was eksentriek, sosiaal ontoeganglik en in baie opsigte ’n knorpot. Om hierdie rede het sake nie altyd glad tussen hom en sy akademiese kollegas verloop nie.

Dit is nie moeilik om te verstaan waarom visse JLB se passie geword het nie, maar in Margaret se geval was dit ’n noodwendige gevolg van haar huwelik met JLB – sonder visse sou daar nie ’n verhouding met hom kon wees nie. Alhoewel alle aanduidings daar is dat hulle ’n hoogs bevredigende huwelik en opwindende vennootskap gehad het – hy as die navorser en sy as projekbestuurder – is dit ook duidelik dat die huwelik ’n produk van ’n era en ’n bepaalde hiërargie was.

Margaret was tot aan die einde van haar lewe uiters lojaal teenoor JLB, en na sy dood het sy haar onverpoos beywer vir die erkenning van sy werk, maar die groot verrassing is die mate waarin Margaret ontpop na die dood van JLB. Nie net word sy ’n gesiene viskundige uit eie reg nie, maar met haar suster Flora op die toneel, verander haar kleredrag, haarstyl en dieet dramaties en begin sy, lag, sing en sjokolade eet, dinge wat JLB glo nie kon verdra nie. Dit is waarskynlik weens hierdie transformasie en haar vermoë om igtiologie meer holisties en geïntegreerd te benader dat die Suid-Afrikaanse Instituut vir Akwatiese Biodiversiteit, wat voorheen JLB se naam gedra het, ten spyte van ’n skaflike afstand van die see, sulke hoë aansien kon bereik.

Natuurlik was daar ook omstredenheid: Die skrywer gooi wel ’n skoot koue water op fluisteringe dat JLB se betrokkenheid by die identifisering van die eerste selakant deur die geskiedenis oordryf word, maar bevraagteken die nodigheid van die aantal visse wat die Smiths gevang het. En dit, eerder as die twyfelagtige politiek en rassesiening, is miskien die werklike swart kol. Anders as wat ek myself voorgestel het, was dit nie ’n kwessie van ’n hengelaar wat geduldig sit en wag vir ’n nuwe spesie om te byt nie. Visse is letterlik by hul duisende uit die water geskiet of, in ’n vooruitwysing na JLB se fynbeplande selfdood in 1968, vergiftig.

Mike Bruton, die skrywer van The Fishy Smiths, is self ’n befaamde viskundige. Hy het beide Smiths geken en is duidelik gemaklik met die biografiese genre; dit tesame met die vermoë om die vakkundige aspekte toeganglik te maak, deurtrek van interessante insigte oor die evolusie van die akademie en net genoeg staaltjies oor die hoofkarakters, is die suksesresep van hierdie boek.

Die plasing van verwysings in die hoofteks en die gebruik van langerige aanhalings is ietwat steurend, maar beslis nie rede om hierdie opwindende hersiening van ’n grootse oomblik in die geskiedenis van die wetenskap en eerlike evaluering van die Smiths mis te loop nie. Jy hoef beslis niks van visse te weet om die boek te kan geniet nie; nooit weer sal jy so opgewonde raak oor ’n dooie vis en ’n gejaag teen tyd om dit te bewaar nie – dit is immers jóú oorlewing wat op die spel was.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top