The closing of the South African mind II

  • 0

Onlangs het Desmond Tutu homself tydens sy 80ste verjaardag buitensporig verheerlik. Plaaslik het hy groot ondersteuning vir hierdie egoïstiese of narcistiese uitspattigheid geniet. Dieselfde tyd is Steve Jobs oorlede. Terwyl Suid-Afrika die (myns insiens) minder talentvolle Tutu op die hande gedra het, is die (myns insiens) meer talentvolle Jobs in ontwikkelde lande gehuldig. Die gedagte wat toe by my opgekom het, is dat dit kan help verduidelik waarom die nuwe Suid-Afrika al hoe meer ’n mislukte staat word en die VSA, daarenteen, die voorste of suksesvolste land is. Daar is glad te veel mense wat in topposte sit juis omdat hulle voorheen buite die wet optree het en neig om dit steeds te doen. Oor die nalatenskap van apartheid en selfs van slawerny word ons gereeld ingelig. Oor die UDF/ANC se gewelddadige en misdadige nalatenskap, wat tot op hede voortduur, word meesal politiek-korrek geswyg. ’n Gewilde oproep is dat ons almal hande moet vat, terwyl ons almal eerder die hande moet uitsteek om te werk, anders word al wat ’n werk is ’n onvolhoubare uitdaging.

As alle mense nie ewe goed en dus ewe waardevol is nie, behoort almal nie in dieselfde mate die heil van ’n land te beïnvloed nie. Voor 1990 is daar dekades lank besin oor ’n meer regverdige of geskikte (bv verteenwoordigende) grondwetlike bedeling vir Suid-Afrika. Deurgaans is een mens, een stem in verantwoordelike kringe as onwys afgewys; ook in die buiteland. Tog is dit ons lot. Dit is gewoon dwaas dat ’n oningeligte, ongeletterde, werklose, vaste eiendomlose, staatstoelae-ontvangende nie-betaler se stem dieselfde gewig as dié van die sakeman, professionele persoon of grondbaron dra.

Dit is verkeerd dat politici geen formele kwalifikasies of bekwaamhede hoef te hê nie. Al wat hulle nodig het, is die steun van hulle politieke party. Die politici sorg dan self dat hulle vergoed word asof hulle uitsonderlike talente het. Pleks van ontkenning moet daar bewustheid van die kwalitatiewe verskille by mense wees. Mense moenie regeer, dus die lot van die land bepaal, bloot omdat hulle meer is nie, maar omdat hulle dit beter as ander kan doen. Dit sal dan tot voordeel van almal wees; dus in die openbare belang wees. Dan sal ook besef word dat eerder in die land as die kontinent se belang regeer moet word.

Sedert 2000 duik die volgende aanhaling uit Alexander Fraser Tytler (1747-1813) se geskrifte in die politiek op: "A democracy will continue to exist up until the time that voters discover that they can vote themselves generous gifts from the public treasury. From that moment on, the majority always votes for the candidates who promise the most benefits from the public treasury, with the result that every democracy will finally collapse due to loose fiscal policy." Volgens Wikipediais daar twyfel oor die egtheid van hierdie aanhaling, maar dit maak die boodskap nie minder geldig nie. In die nuwe Suid-Afrika word demokrasie en meerderheidsregering verabsoluteer, terwyl dit heeltemal moontlik is dat ’n minderheid en selfs ’n diktator beter kan regeer.

Die geestelike verenging waarin die land sedert 1990 toenemend verkeer, moet in landsbelang afgeskud word. Die nuwe Suid-Afrika het ’n kermis geword waar die kamerade van bo af en die gepeupel van onder af die land se rykdom na hartelus plunder. Dit is hoofsaaklik die inkomstebelastingbetalende middelklas wat die gelag betaal en uiteindelik (indien ooit) die situasie sal moet regtrek. Met daardie gewilde maar oordrewe idioom van ons tyd kan ons huidige opset ’n misdaad teen die mensdom genoem word.

Johannes Comestor

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top