Een van die tragedies van die Tweede Wêreldoorlog is dat twee van die begaafste groepe mense, die Duitsers en die Jode, teen mekaar afgespeel is. ’n Ander aspek wat uitgelig behoort te word, is dat fascisme destyds moontlik voorkom het dat lande soos Duitsland, Italië en Spanje die kommunisme ten prooi val. Soos in die geval van apartheid is daar deesdae die neiging om fascisme eensydig as net sleg af te maak. Daar is natuurlik ook diegene wat apartheid en fascisme as identies probeer voorstel. ’n Variasie hierop is om Israel van apartheid te beskuldig. Dit is die soort spel wat deur bv die nie-intellektueel Desmond Tutu gespeel word. Die nuwe Suid-Afrika kry elke keer ’n regering wat neig om meer kommunisties as die vorige te wees, maar dit word verswyg; ook dat kommunisme veel langer en sekerlik groter skade as fascisme aangerig het.
’n Erflating van die Tweede Wêreldoorlog wat graag onkrities vertroetel word, is dat alle mense eintlik maar eenders is. Dit is klaarblyklik ’n oorreaksie op fascisme. Die gevolg is dat menseregte gepropageer word sonder dat dit met verpligtinge gebalanseer word. Biologiese (die mate van liggaamlike) eendersheid word beklemtoon ("almal bloei rooi") en die geestelike verskille word geïgnoreer. Kultuurverskille (wat verskille in leefwyse en waardes impliseer) word as onbeduidend afgemaak. Graadverskille in beskawing (of ontwikkeling) mag eintlik nie genoem word nie. Die groepe wat groter kundigheid en toewyding openbaar en dus meer welvarend is, word deur die agtergeblewenes van uitbuiting beskuldig. Oor hulle eie voorspoed moet suksesvolles om verskoning vra. Oor hulle eie welvaart moet hulle skuldig voel tot tyd en wyl hulle bates dermate deur die owerheid of vanweë misdaad verkwansel is dat almal ewe arm is. Die armes word as benadeeldes, as slagoffers van die suksesvolles, voorgestel. Alle mense is glo gelyk. Almal het glo dieselfde potensiaal. Almal moet net dieselfde geleenthede gegun word om daardie potensiaal tot voordeel van almal te ontsluit.
"A society that aspires to nothing but equality ... is at variance with human nature and inevitably stagnates or falls apart" (Richard David Precht, Who am I? London: Constable, 2011, p 275). Die eendersverklaring van mense is die grondslag van die kwotastelsel. Daar moet persentasiegewys soveel swartes en soveel vroue bemagtig word deur hulle in poste aan te stel. Hulle word op grond van hulle groepverwantskap aangestel en bevorder terwyl hulle indiwiduele gehalte nie as van deurslaggewende belang geag word nie. Dit word nie rassisme of seksisme genoem nie, maar regstelling. Die indruk word gewek dat die euwels van die verlede besweer word sonder om nuwe sondes te pleeg.
In werklikheid verskil mense in baie opsigte. In die praktyk sal sommige in dieselfde familie, groep en land bo ander uitstyg. Gelykverklaring is moontlik maar werklike gelykmaking is ’n idealistiese of teoretiese oefening wat tot mislukking gedoem is. In hierdie egalitariese atmosfeer doen ’n eienaardige verskynsel hom voor. Almal in die nuwe Suid-Afrika word nie as van dieselfde goeie stoffasie beskou nie. Diegene wat die meeste tot stand gebring het, word as sleg voorgestel en hulle geskiedenis word as verfoeilik verdoem. Diegene wat min, of niks positief nie, tot stand gebring het, word vir lof en bevoordeling uitgesonder. Daar word alewig beweer ons moet ’n verskil maak, terwyl wat bewerkstellig moet word nie bloot verandering nie maar verbetering moet wees.
In die plaaslike politiek gaan dit deesdae om huise vir almal. Dit word blykbaar nie as onregverdig beskou dat sommige hulle huis moet koop of self bou en ander dit as aalmoese ontvang nie. Almal moet ook lopende water hê, al hoef net sommige daarvoor te betaal. Ek het in my lewe self baie water aangedra en niks daarvan oorgekom nie. Almal moet glo deesdae spoeltoilette hê, wat ’n meevaller van gratis water kan wees. Ek het met die emmerstelsel grootgeword en voel nie benadeel nie. Almal moet glo deesdae elektrisiteit hê, al hoef net sommige daarvoor te betaal. My dogter het vir matriek by kerslig studeer maar dit het haar nie verhoed om toe en later akademies en andersins te presteer nie. Dinge moet liewer nie in ’n mens se skoot val nie, want dan word dit dikwels nie benut of waardeer nie. Die bakhand- of ubuntu-kultuur is ’n onding. Nie-presteerders het nie ’n regverdigbare reg op dieselfde voordele as presteerders nie. Wie het nie-betaling vir dienste as ’n deug aan die gepeupel voorgehou? Die ANC.
Johannes Comestor

