The Artist in the Garden: The Quest for Moses Tladi 'n stuk liefdeswerk

  • 0

Titel: The Artist in the Garden: The Quest for Moses Tladi
Skrywer:
Angela Read Lloyd
Uitgewer: Print Matters (Edm) Bpk, Noordhoek
Jaar: 2009
Bladsye: 294
ISBN: 9780980260977

Klik hier om The Artist in the Garden: The Quest for Moses Tladi by Kalahari.net te koop.

Op die agterplat is die aanloklike uitnodiging: "Discover South Africa’s first black artist working in an international style." En dan sommer ook die inleidende sin: "Like Monet who was a gardener and an artist."

Die naam Moses Tladi, wat nog net in enkele katalogusse en ’n FUBA-publikasie sedert die 1990’s opgeduik het, laat ’n mens die glansboek met nuuskierigheid nader trek. En laat ek met die intrapslag sê dat dit ’n ontdekkingsreis word wat veel meer word as net die ontdekking van die kunswerke. Die leser loop self op ’n spoor – ’n dubbele trajek – met enersyds Tladi, die ontwykende kunstenaar, en andersyds die skrywer se wêreld en haar reis na haar familie en hulle koloniale verbintenisse.

Dit is nie sonder verdienste nie, maar dis met geduld dat jy al die afdraaipaaie moet loop om gaandeweg self ’n beeld van die kunstenaar op te bou. Dit is ’n dokument van die soektog na inligting en hoe elke greintjie fyn gesif word om deel van ’n groter legkaart, helaas onvoltooid, te word. Die skrywer doen verslag van haar navorsing, wat feitlik woordeliks uit korrespondensie, koerantknipsels en ander bronne verkry is. Alles is presies gedokumenteer en word volledig weergegee. Interessant is ook hoe klein – op die oog af – terloopse mededelinkies ’n spoor kan vat. Soms lewer dit iets op, dikwels niks. Wat die leser dan deurentyd boei, is die obsessionele drang om die soektog tot die spreekwoordelike einders van die aarde vol te hou.

Gewoonlik bly dit die fabrieksgeheime van die ernstige navorser – die rondomtaliedraaierye wat alles op risiko is. Hier – in die soektog na die ontwykende Tladi – word dit as deel van die reis aangebied. Soms te veel en te uitgesponne, maar dalk tog ’n bewys van hoe nalatig die swart kulturele bydrae vanaf die vroegste tyd gedokumenteer is. Lloyd het na die naald in die hooimied gesoek. Tog was daar strooitjies te haal wat uiteindelik tot iets groter kon bydra.

Ek wil prontuit sê dat ek Lloyd bewonder vir haar volgehoue en onvermoeide soektog – nie al die inligting wat ’n mens graag sou wou hê, is weliswaar altyd daar nie, maar dalk is dit ook deel van die storie: die verwaarlosing van die kulturele rekord – van koloniale tye af tot – ek vrees – vandag nog.

In die uitgebreide aantekeninge wat ek gemaak het terwyl ek The Quest for Moses Tladi bestudeer het, kon ek slegs ’n kort penskets saamstel van Tladi, wat ongetwyfeld ’n heel merkwaardige man was. Dat Lloyd hom so tot lewe wek en sy werk hiermee as ’t ware ’n lewenskus gee, strek tot haar grootste eer. Dit op sigself is ’n bydrae van wesenlike belang vir die breër Suid-Afrikaanse kunsgeskiedenis.

Lloyd werk terug op ’n kinderherinnering ongeveer sewentig jaar gelede van die tuinier by haar oupa, Herbert Read, se herehuis, Lokshoek in Parktown, Johannesburg. Wat spesifiek merkwaardig is, is dat die tuinier ook ’n kunstenaar was en dat hy onder die beskerming van Read se oupa en sy invloedryke buurman, Howard Pim, wel soveel erkenning as kunstenaar kon kry dat hy die eerste swart man geword het om aan ’n groepuitstalling in die Suid-Afrikaanse Nasionale Kunsmuseum te kon deelneem. Eintlik was dit die dogters – Lloyd se tantes – wat die eerste bewus was van Tladi se kunstalent.

Eers in die 1970's, nadat Read – ’n eertydse Britse joernalis – haar weer in Suid-Afrika gevestig het, het haar soektog na Tladi begin. Al waarmee sy gewerk het, was kennis van skilderye in haar oupa se woning en die feit dat die tuinier deel van haar bewussyn gebly het. Al waarmee sy kon wegspring, was ’n verwysing in die letterkundige Tim Couzens se biografie, The New African, oor die skrywer HIE Dhlomo, wat na Tladi as ’n "native genius" verwys (86). Hiernaas ontvou ook haar familie se storie in Suid-Afrika, wat gedeeltelik as agtergrond wil dien waarteen die skrapse besonderhede oor Tladi gelees moet word. Dit is vir haar in haar soektog belangrik om te bewys dat daar ’n breër bewustheid van Tladi se kunstenaarskap was onder vooraanstaande Engelssprekendes – hoofsaaklik deel van die Randse mynmeesters.

Haar verhaal word nie chronologies aangebied nie, maar stuk-stuk soos wat sy die inligting versamel. Tussenin skryf sy ook twee artikels oor Tladi om meer inligting via die kunshistoriese blad Pro Arte te bekom. Haar eindelose geduld om die Tladi-familie oor te haal om saam te werk, en haar opofferinge om elke leidraad wat hulle kon bied, op te volg, is die beste bewys van haar passie om met hierdie selfopgelegde taak te slaag. Uiteindelik toe sy met Tladi se dogter Rekiloe in Soweto kontak maak en haar vertroue wen, het haar soektog na die lewe en werk van die kunstenaar ’n meer intieme reis geword. Geen steen is onaangeroer gelaat nie en elke moontlik leidraad is opgevolg – dikwels helaas met min konkrete gevolge.

Hierdie reis het Lloyd ook deur die townships van Johannesburg tot in Sekhukhuneland, oos van Pretoria in die omgewing van Groblersdal, geneem, waar sy brokkies inligting versamel het oor Tladi se jeugjare, en uiteindelik ook na Londen om sy ander dogter, ook aanvanklik baie ontwykend, se samewerking te verkry. Maar soos dit dikwels gebeur, gebeur óók die verrassende onverwagte: uit die bloute ’n navraag uit Shropshire van ’n Britse versamelaar wat daar op ’n veiling ’n Tladi bekom en so ’n sluitsteen verskaf vir die afsluiting van die speurtog.

Wie was Moses Tladi en wat kan gedokumenteer word ná meer as ’n kwarteeu se onverpoosde soeke?

Tladi (1903 – 1959), gebore in Sekhukhuneland, met onderrig deur Lutherse sendelinge by die dorp ga Phaahla, naby Middelburg, was ’n Pedi. Sy pa was ’n kruiedokter, wat sy brood verdien het deur met yster te werk; sy moeder, die dogter van ’n Metodiste-leraar, was ’n begaafde pottebakker. As jong seun was Moses ’n beeswagter, maar het ook tot hoërskool gevorder voordat hy met Motswana Sekhubami (1899 – 1981) getroud is en hulle in Kensington B (vandag Bryanston) gevestig het. Hulle het vier kinders gehad. Hy het as tuinier in Parktown begin werk – ’n vaste betrekking by Herbert Read. Hier het hy tot rondom 1940 gewerk en was, soos die Reads dit gehad het, weens tuberkulose nie in staat om verder te werk nie. Hy het egter by die Suid-Afrikaanse Weermag aangesluit en diens in die Tweede Wêreldoorlog gedoen. In dié tyd is sy familie uit Kensington B na Sophiatown en uiteindelik na Soweto verskuif. Hy is in Desember 1959 in Johannesburg oorlede.

Waarin Lloyd goed geslaag het, was om ’n beeld van Tladi as aktiewe skilder te gee. Sy vertel breedvoerig van haar oupa en Pim se betrokkenheid by die tuinier-skilder, en veral van Howard Pim, wat hom aan ander kunstenaars voorgestel het en spesiale verlof verkry het om Tladi in 1928 na die Johannesburgse Kunsgalery te neem. Hier het Tladi die ander groot tuinier en kunstenaar, Monet, se werk Les Printemps (Spring) (1875), gesien, maar eers Henri-Joseph Harpignies se The Last Days of Summer (1863) uitgewys en later entoesiasties na ’n groot werk van Millais gewys.

In ’n brief waarin Pim aan die Johannesburgse stadsklerk terugvoering oor die besoek gee, skryf hy hoe Tladi na die Britse skilder Wilson Steer se werk, Corfe Castle, verwys het met die opmerking: "Master, this man put on the paint with his tumb" (113).

Ook in 1928 sorg Pim dat Tladi se werk in die openbare domein beland. Hy skryf aan die koerant Umteteli wa Bantu van sy ontdekking van ’n "Native genius" (24).

Herbert Read en Pim neem Tladi nou onder hulle sorg en probeer om hom bloot te stel aan kuns – al was dit teen die agtergrond van hulle Westerse begrip daarvan. Al drie se belangstelling was die uitbeelding van die natuur – landskappe en ook blomstudies. In 1929 neem Tladi deel aan die Tiende Jaarlikse Groepuitstalling van die South African Academy of Artists in Grahamstad. Onder die ander deelnemers is Pierneef, Bertha Everard en Sydney Carter. Die uitstalling word deur The Star goed ontvang en ’n spesiale vermelding verwys na Tladi se werk met die opmerking: "a native attract[ed] more attention possibly than anything else in the show" (71).

In die eerste uitstalling van nasionale kontemporêre kuns wat in die pas geopende Suid-Afrikaanse Nasionale Kunsmuseum in 1931 aangebied word, word die "Basuto houseboy" (sic) die eerste swart man wat hier uitstal. Hy neem deel aan die 20ste jaarlikse uitstalling van die South African Academy of Artists. Onder die 221 gekeurde deelnemers tel JEA Volschenk, Hugo Naudé, Tinus de Jongh, Maggie Laubser en Edward Rowoth. Rowoth se werk word teen 100 ghienies aangebied en Tladi s’n teen vier ghienies (103).

Tladi neem ook in 1933 aan die Derde Jaarlikse Uitstalling van Suid-Afrikaanse Kontemporêre werk in die Suid-Afrikaanse Nasionale Kunsmuseum deel saam met kunstenaars soos Pierneef, Maggie Laubser en Irma Stern.

Hierna stal hy in 1938 uit in die Swedish Hall, Johannesburg, wat blyk ’n solo-uitstalling te wees, waarskynlik geborg deur Pim, en daar is ’n gunstige mediaberig wat veral melding maak van ’n berglandskap uit sy geboortewêreld. In die volgende jaar neem hy deel aan ’n groepuitstalling in die Gainsborough Galleries, Johannesburg, saam met onder andere Gerard Sekoto.

Wat my interesseer, is dat, ondanks die bewese sukses van Tladi se vroeë uitstallings, Esmé Berman in haar seminale werk, Art and Artists of South Africa (1969), wat Suid-Afrikaanse kunstenaars kanoniseer, geen aandag aan Tladi skenk nie. Mindere name uit die genoemde uitstallings word egter wel deur haar vermeld. Sou dit wees omdat sy haar kon verlaat het op die vyandiggesinde Kaapse kritici wat van meet af aan gekant was teen enige vorm van modernisme?

Uiteindelik was dit die kunshistorikus Elza Miles wat aan Tladi ’n regmatige plek toegeken het toe sy sy kroonwerk, Crown Mines 1 (olie op bord), eers in haar FUBA-almanak opgeneem het en later deel gemaak het van haar seminale uitstalling van Suid-Afrikaanse swart kuns, Land and Lives.

Angela Read Lloyd bring al die brokstukke saam om ’n buitelynskets van Moses Tladi te verskaf, met talle kantaantekeninge oor die feit dat hy ’n regmatige plek as pionierkunstenaar in die Suid-Afrikaanse kunsannale verdien.

Tog moet ek een hindernis noem. Lloyd se politieke onderrok hang plek-plek onnodig te ver uit, soos in haar verwysings na die Afrikaner en apartheid, en andersins is sy darem ook te polities korrek deur die 1994-strominge te akkommodeer. Gelukkig is dit meer ter syde as sentraal, maar dit kon met weglating die werk as noukeurige navorsingsteks en studie tog verder versterk het.

Dis belangriker om op ’n positiewe noot af te sluit: dié boek ’n stuk liefdeswerk wat geen grense geken het nie, en daarmee het sy Moses Tladi stewig binne ons bewussyn geplaas. Die opsporing van veertig werke in olie, waterverf en gemengde media wat hierby ingesluit is, maak van hierdie boek iets werklik spesiaal.

Daar is by my geen twyfel dat Moses Tladi, soos ’n Volschenk, ’n regmatige plek onder ons pionierlandskapkunstenaars verdien. Die voortreflikheid van sy beste werk kan nie ontken word nie.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top